Waardeketting verseker bekostigbare voedsel

Gepubliseer: 9 Julie 2021

231
Luan van der Walt
landbou-ekonoom, Graan SA
luan@grainsa.co.za

10/06/2021

Die Suid-Afrikaanse graanbedryf speel nie net ’n belangrike rol in die plaaslike landbou-ekonomie nie, maar het ook ’n noemenswaardige impak op die breër ekonomie in Suid-Afrika. ’n Groot gedeelte van die land se bevolking is daagliks afhanklik van grane wat dien as stapelvoedsel.

Primêre produksie van graan en oliesade in Suid-Afrika is die beginpunt van die graanwaardeketting. Dit is noodsaaklik dat primêre produsente winsgewend moet produseer om volhoubaarheid te verseker. Daarmee saam speel die res van die waardeketting net so ’n deurslaggewende rol om te verseker dat daar ’n be­kostigbare, bruikbare produk vir die eindverbruiker op die winkelrak is.

Hierdie sluit alle aspekte van die waardeketting in – handelaars, vervoerders, verwerkers asook groot- en kleinhandelaars. Deur die hele proses, vanaf primêre produksievlak tot en met die eindproduk wat op die winkelrak te koop aangebied word, is daar verskeie skakels in die waardeketting wat elk in eie reg waarde toevoeg om die finale produk te verseker.

Die ekonomie en graanverbruik
Mielies, in die vorm van mieliemeel, is die belangrikste stapelvoedsel vir die grootste gedeelte van die Suid-Afrikaanse bevolking. Dit is ook steeds, per porsie, die goedkoopste bron van styselgebaseerde voedsel. Dit is algemeen bekend dat die ekonomie van ’n land ’n impak het op die sosio-ekonomiese omstandighede van die landsburgers, veral wat besteding betref.

Wanneer die ekonomie onder druk is, is die landsburgers se besteebare inkomste laer. Die laer inkomste­groepe, wat ’n groot gedeelte van Suid-Afrika se bevolking uitmaak, spandeer ’n groter gedeelte van hul inkomste aan noodsaaklike produkte, soos voedsel. Dus neig hierdie groepe­ring baie meer na stapelgebaseerde voedselbronne wanneer die ekonomiese om­standighede moeilik is.

Grafiek 1 toon die per capita-verbruik van heelmielies teenoor die Suid-Afrikaanse ekonomiese groeikoers sedert die ontstaan van die vrye mark in die laat 1990’s. Dit is duidelik dat wanneer die ekonomiese omstandighede moeiliker raak met ’n laer groei in bruto binnelandse produk (BBP), die per capita-verbruik van mie­lies toeneem. Die grootste jaar-op-jaar toename in die verbruik van mielies was tydens die 2008/2009-seisoen toe die wêreldwye ekonomiese resessie begin het. Die afgelope vier tot vyf jaar is gekenmerk deur swak ekonomiese omstandighede in Suid-Afrika en dit het die verbruik van mielies vir menslike voedseldoeleindes skerp laat toeneem. Die kumulatiewe toename in die per capita-verbruik van mielies vir menslike voedseldoeleindes was 13% oor die afgelope vier jaar.

Grafiek 1: Totale per capita-heelmielies vir menslike verbruik teenoor Suid-Afrika se BBP-groei.
Bron: SAGIS en Statistieke SA

Plaaslike verwerking
Grafiek 2 toon die tendens van die plaaslike verwerking van witmielies vir menslike voedseldoeleindes. Die grafiek toon ’n twaalfmaande- skuiwende totaal aan van die hoeveelheid mielies wat vir menslike voedsel gemaal word. Dit is duidelik uit die grafiek dat hierdie tendens skerp toegeneem het sedert die begin van 2017. Die grafiek toon ook die jaar-op-jaar toename in die totale hoeveelheid witmielies wat vir menslike voedseldoeleindes verwerk word. Gedurende die 2009-seisoen het die totale hoeveelheid hiervan met 18% toegeneem jaar op jaar. Dit strook goed met die toename in die per capita-verbruik van witmielies wat in hierdie seisoen aangeteken is.

Grafiek 2: Witmielies gemaal vir menslike voedseldoeleindes.
Bron: SAGIS

Tussen 2010 en 2014 was die witmielieverbruiktendens redelik sywaarts en het dit jaar op jaar minder as 1% gegroei en in sommige gevalle selfs gedaal. Sedert die 2017-seisoen het die verwerking van witmielies skerp toegeneem. Dit strook ook goed met die per capita-verbruik van mielies wat toegeneem het oor hierdie tydperk. Die binnelandse verwerking van witmielies vir menslike voedseldoel­eindes het die afgelope vier jaar elke jaar die vorige seisoen se rekord gebreek vir die hoogste verbruik in die geskiedenis.

Ten slotte
In die plaaslike mark speel witmielies ’n kardinale rol as stapelvoedsel vir ’n groot gedeelte van die land se bevolking. Die toename in die per capita-verbruik wat die afgelope vier jaar gesien is, toon duidelik die belangrikheid van mielies as voedselbron, veral vir huishoudings wat meer afhanklik is van styselgebaseerde diëte.

Tesame met die toename in die verbruik het die verwerkings­kapasiteit ook toegeneem oor hierdie tydperk. Dit het verseker dat daar genoeg mielies binnelands verwerk kan word om in die vraag na mielies en mieliemeel te voorsien. Uit die bostaande inligting is dit net weer eens duidelik dat die plaaslike graanwaardeketting – vanaf die primêre produsent tot en met die groot- en kleinhandelaars wat die finale produkte versprei – ’n deurslaggewende rol speel om te verseker dat landsburgers genoegsame, relatief bekostigbare voedsel tot hul beskikking het.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.