Internasionale kunsmispryse het nie brieke nie

Gepubliseer: 9 Julie 2021

2355

Corné Louw
senior ekonoom, Graan SA,
corne@grainsa.co.za

Ikageng Maluleke
landbou-ekonoom, Graan SA,
ikageng@grainsa.co.za

Omdat kunsmis as produksie-inset so ’n groot impak op graan- en oliesadeprodu­sente se lopende produksiekoste het – tussen 30% en 50% – hou Graan SA prys­tendense fyn dop. In April 2021 is daar reeds geskryf oor kunsmispryse wat hemelhoog styg. Sedertdien het pryse verder gestyg – skerp!

Grafiek 1 toon aan hoe internasionale kunsmispryse in dollarterme oor lang termyn beweeg het. Uit die grafiek is dit duidelik dat internasionale pryse in die verlede al heelwat hoër was en dat die waarde van die rand oor tyd uitermatig verswak het.

Grafiek 1: Internasionale kunsmispryse – $/ton.

Pryse van ammoniak in dollarterme is byvoorbeeld tans op die hoogste vlak­ke in ses jaar; pryse van DAP is die hoogste in nege jaar; ureum was in Februarie die hoogste in agt jaar en kaliumchloried (MOP) is tans die hoogste in 19 maande.

Grafiek 2 toon internasionale pryse in randterme aan. Uit die grafiek kan gesien word dat die prys van ammoniak in randwaarde ’n historiese rekordvlak behaal het; DAP-pryse in randterme is die hoogste sedert Oktober 2008 (13 jaar); die ureumprys van Februarie 2021 was die hoogste sedert September 2008 (13 jaar), terwyl die prys van kaliumchloried die hoogste in elf maande verhandel het.

Grafiek 2: Internasionale kunsmispryse – R/ton.

Kunsmispryse het die afgelope paar maande hoog gebly en selfs verder gestyg as gevolg van die groot vraag in die Noordelike Halfrond vir hul plantseisoen. Dit is ook aangevuur deur stygende kommoditeitspryse met gunstige weer in sommige sleutelproduserende lande. Stygings in die Brent-ruolieprys het ook produksie- en vervoerkoste verhoog. Natuurlikegas­pryse het gestyg as gevolg van ’n tydelike onderbreking in produksie in die VSA, wat ook ooreenstem met die stygende ruoliepryse.

In Mei het ammoniak- en ureum­pryse hoog, maar relatief stabiel ge­bly. Gegewe ’n verlangsaming in die lentevraag tesame met bestendige wêreldvoorraad, het die DAP-pryse in die VSA marginaal gedaal, ondanks beperkings wat die invoer uit Marokko en die Russiese Federasie beïnvloed het. ’n Sterker vraag vir someraanplantings het die pryse van kalium opwaarts gedruk, veral in die Amerikaanse Golf.

Internasionale kunsmispryse in dollarwaarde
Pryse van alle internasionale kunsmisgrondstowwe het die afgelope jaar uitermatig skerp in dollarterme gestyg (Tabel 1). Die wisselkoers het darem vanaf Mei 2020 tot Mei 2021 met 22,5% versterk – ’n sterker rand beteken in­voere kan effe goedkoper ingebring word.

Internasionale kunsmispryse in randwaarde
Tabel 2 toon internasionale kunsmis­pryse in randwaarde aan. Internasio­nale pryse van ammoniak, ureum en DAP het met onderskeidelik 125,4%, 33,9% en 51,4% gestyg. Die prys van kaliumchloried het met 3,5% gedaal.

In Tabel 3 word aangedui wat in die afgelope maand met internasionale kunsmispryse gebeur het. Vanaf April tot Mei het pryse van ammoniak, ureum en kaliumchloried met 11,3%, 4,6% en 5,0% gestyg, terwyl DAP met 2,6% gedaal het.

Plaaslike kunsmispryse
Tabel 4 toon gemiddelde plaaslike kunsmispryse oor ’n jaartydperk aan (pryslyspryse). Uit die tabel is dit duidelik dat plaaslike prystendense goed korreleer met dié van internasionale prystendense in randwaarde. Plaaslike pryse het egter nie tot dieselfde mate as internasionale pryse toegeneem nie.

Dit is egter nie die pryse wat belangrik is nie, maar die persentasieverandering. Internasionale pryse is gebaseer op pryse in internasionale hawens en plaaslike pryse is gebaseer op gemiddelde pryslyspryse.

Tabel 5 toon aan wat die afgelope maand met plaaslike kunsmispryse gebeur het. Alle grondstofpryse het redelik skerp toegeneem in Junie en volg dieselfde stygende tendens as internasionale pryse.

Hierdie internasionale opwaartse neiging sal waarskynlik die volgende paar maande voortduur terwyl die Noordelike Halfrond hul aanplantings voltooi. Sake kan waarskynlik in die derde of vierde kwartaal stabiliseer. Die positiewe vir Suid-Afrika is op die oomblik die sterk rand, wat druk op pryse effens verminder het. As pryse egter verder styg, sal dit ’n besonder groot uitdaging stel vir Suid-Afrika se somergraanaanplantings vir die 2021/2022-seisoen. Skerp stygende insetkoste kan die winsgewendheid van graanproduksie weer opnuut in die kollig plaas.

Faktore wat kunsmispryse kan normaliseer of laat afkoel, sluit die volgende in:

  • As na die fundamentele faktore in die kunsmismark gekyk word, verwag die internasionale markte dat produksie van kunsmis steeds hoër as die verwagte vraag vir die res van 2021 sal wees.
  • Internasionale pryse het dalk hul hoogtepunt vir die jaar bereik.
  • ’n Versterking in die wisselkoers deur die loop van 2021.

Faktore wat kunsmispryse verder kan ondersteun, sluit die volgende in:

  • Ruoliepryse wat aanhou styg, kan energiekoste opjaag.
  • Hiermee saam kan veral stikstof- en MAP-pryse ondersteun word.
  • Omdat kunsmis ’n groot vervoerkostekomponent het, kan hoër ruoliepryse hierdie komponent verder laat styg.
  • ’n Verswakking in die wisselkoers deur die loop van 2021.