Koringmarkte ry wipplank

Gepubliseer: 7 Mei 2021

1005
Luan van der Walt
landbou-ekonoom, Graan SA
luan@grainsa.co.za

20/04/2021

Die jaar het verbygesnel en dit is weer tyd vir die aanplanting van wintergrane. Die afgelope wintergraanseisoen was voorwaar voortreflik en die rekords het behoorlik gespat.

Binnelandse koringproduksie, wat volgens die Nasionale Oesskattings­komitee (NOK) se finale produksieskatting vir die seisoen op 2,109 miljoen ton beraam word, is die grootste koringoes in die afgelope tien jaar.

Ander wintergewasse wat hierdie seisoen plaaslike rekords laat spat het, was gars met ’n totale produksie van 589 846 ton en kanola met 166 956 ton. Hierdie goeie produksie van wintergrane kan grootliks toegeskryf word aan die gunstige produksietoestande wat in die Wes-Kaap, waar die meeste wintergrane verbou word, geheers het.

Met die nuwe seisoen se aanplantings wat voorlê, is die vraag wat die moontlikhede vorentoe sal wees. Waar lê die geleenthede sowel as die risiko’s vir die seisoen?

Internasionale mark
Die plaaslike koringmark is direk gekoppel aan die internasionale mark, aan­gesien Suid-Afrika ’n netto invoerder van koring is. Die internasionale koring­-mark is die afgelope paar jaar gekenmerk deur hoë voorrade en lae pryse. Dit is hoofsaaklik omdat internasionale koringproduksie teen ’n vinniger tempo toegeneem het as die internasionale verbruik. Dit het die wêreldeindvoorraad laat klim, wat pryse gevolglikonder druk geplaas het.

Grafiek 1 toon die wêreldkoringproduksie, -verbruik en -eindvoorraad sedert die 2000/2001-seisoen. Dit is duidelik uit die grafiek dat internasionale produksie vir die tydperk tussen 2013/2014 tot 2017/2018 teen ’n veel vinniger tempo toegeneem het as die wêreldverbruik. Dit het veroorsaak dat die eindvoorraad ’n nuwe hoogtepunt bereik het, met internasionale pryse wat gedaal het.

Grafiek 1: Wêreldkoringproduksie, -verbruik en -eindvoorraad.
Bron: Amerikaanse Departement van Landbou

Alhoewel koringproduksie die afgelope twee seisoene steeds goeie groei getoon het, is dit die verbruik wat gedurende die 2020/2021-seisoen die grootste sprong gemaak het. Die skerp styging in verbruik vir dié seisoen het die wêreldvraag en -aanbod vir 2020/2021 meer in balans gebring, wat ondersteuning aan die internasionale koringmark gebied het. Hierdie toename in die vraag gedurende die 2020/2021-seisoen kan aan verskeie faktore toegeskryf word, met die aanvraag in China sekerlik die grootste daarvan.

Grafiek 2 toon die pryse sedert 2015 van Amerikaanse harde, rooi winterkoring sowel as Duitse koring. Dit is duidelik dat die pryse tydens hierdie tydperk uiters wisselvallig was. Internasionale koringpryse het sedert die middel van 2020 begin ondersteuning vind en het sterker verhandel. Die goeie vraag na grane en oliesade het die pryse van die meeste gewasse tydens die 2020/2021-seisoen ondersteun, met koring wat ook baat gevind het by hierdie algemene versterking in kommoditeitspryse.

Grafiek 2: Amerikaanse en Duitse koringpryse.
Bron: IGR en Graan SA

Impak op die plaaslike mark
Die plaaslike koringmark was die afgelope tyd baie wisselvallig – met goeie én swak produksieseisoene wat oor die afgelope vyf jaar voor­gekom het. Aangesien die mark meestal afhanklik is van invoer om aan die totale binnelandse vraag te voldoen, speel plaaslike produksietoestande nie so ’n beduidende rol in die plaaslike prysbepaling soos by ander gewasse nie. Plaaslike koringpryse is meer ’n funksie van die internasio­nale prys asook die wisselkoers en dus moet die internasionale konteks ook vir besluit­neming in die plaaslike mark oorweeg word. Die internasionale mark het die af­gelope tyd goeie ondersteuning gevind, wat weer die plaaslike mark ondersteun het. Dit is duidelik dat die internasionale mark steeds aansienlike hoeveelhede koringvoorraad beskikbaar het.

Koring se internasionale eindvoorraad-tot-verbruik-verhouding staan tans op 38%, wat baie hoog is wat grane betref. Dit beteken dat daar nie bekommernisse behoort te wees in die wêreldkonteks wat vraag en aanbod betref nie. Die verwag­ting is dat die vraag na koring internasionaal sterk behoort te bly saam met dié van ander grane en oliesade, wat dus steeds pryse behoort te ondersteun. Die nuwe seisoen se produksie in dele soos Rusland en die Europese Unie (EU), wat groot rolspelers in die internasio­nale koringmarkte is, sal bydra tot die prysneigings in die komende seisoen.

Grafiek 3 toon die plaaslike Safex-prys van koring teenoor die invoerpariteit van beide Amerikaanse en Duitse koring, wat ’n aanduiding van ’n Europese oorsprong is. Die invoerpariteitsprys dui aan wat dit min of meer behoort te kos om die koring van hierdie bestemmings af in te voer en by Randfontein gelewer te kry. Die invoerpariteits­prys gee dus ’n aanduiding van die prysvlakke waarteen die mark ongeveer behoort te verhandel.

Grafiek 3: Koringinvoerpariteitspryse van Amerikaanse en Europese oorsprong, gelewer in Randfontein.
Bron: Graan SA

Suid-Afrika voer koring van verskillende bestemmings af in. Aangesien die koringpryse by die verskillende bestemmings verskil, beïn­vloed dit die werklike invoerprys. Pariteits­pryse is steeds ’n goeie aanduiding van die prysvlakke waarteen die mark min of meer be­hoort te ver­handel. Dit is duidelik uit Grafiek 3 dat plaaslike pryse redelik gestrook het met invoerpariteits­pryse van beide Amerikaanse en Europese oorsprong totdat die plaaslike stroopproses van koring begin het. In die tydperk toe nuweseisoenvoorraad in Suid-Afrika beskikbaar was, het die plaaslike pryse verder van invoerpariteit af wegbeweeg. Die plaaslike mark verhandel tans weer nader aan invoerpariteit en dit lyk of die normale prystendense voortduur.

Ten slotte
Die bemarking van graan speel ’n uiters be­langrike rol in produsente se winsgewendheid en is dus ’n aspek waarop genoeg klem gelê moet word. Dit is egter glad nie ’n eenvoudige saak nie, aangesien daar soveel onsekerhede is betreffende markpryse en die verwagtinge vir die seisoen. Dit is derhalwe belangrik dat produsente hulle vergewis van die faktore wat die grootste impak op die plaaslike pryse het. Sodoende kan hulle van geleenthede in die mark gebruik maak wanneer hierdie faktore dit bied.

In die koringmark is die belangrikste ver­anderlikes wat plaaslike pryse beïnvloed ’n kombinasie van internasionale markpryse en die wisselkoers – twee faktore wat allermins eenvoudig is om te ontleed. Die wisselvalligheid van veral die wisselkoers maak akkurate voorspellings van pryse uiters moeilik. Dit is dus noodsaaklik dat produsente voortdurend deur die loop van die seisoen geleenthede in die mark identifiseer en gebruik maak daarvan vir verskansingsdoeleindes.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.