Lesse geleer in 2020 en wenke vir die nuwe seisoen

Gepubliseer: 5 Februarie 2021

1899
Izane Crous,
agronoom, Soill

Elke groeiseisoen het sy unieke uitdagings en die 2020-kanolagroeiseisoen was geen uitsondering nie. Ten spyte van al die uitdagings is rekordopbrengsgemiddeldes steeds vir alle areas in die Wes-Kaap behaal.

Vanjaar spog die Overberg met ’n opbrengsgemiddeld van 2,43 t/ha, gevolg deur die Suid-Kaap (SSK-area) met 2,2 t/ha, die Swartland met 1,95 t/ha en die binneland (Marble Hall-omgewing) met 4,05 t/ha. In totaal is daar 73 680 ha kanola geplant en 161 734 ton geoes. ’n Opbrengsgemiddeld van 2,20 t/ha is behaal vir die hele Wes-Kaap – wat die beste tot op datum is!

’n Voorbeeld van swartstamletsels (blare en stamme) in die saai­lingfase.
Foto: Departement Landbou, Wes-Australië

Die kanolagewas het ’n uitmuntende vermoë om ’n mens jaar na jaar te verbaas. In die verlede is die gewas se staatmakervermoë om bo gemiddelde opbrengste in haglike, droë omstandighede te lewer, beklemtoon, terwyl daar vanjaar gesien is hoe goed dit kan presteer indien dit gedurende die blom- en peulvulstadium aan koel en nat toestande blootgestel word. Nooit sou ’n mens egter kon dink dat die gunstige klimaatstoestande so ’n enorme positiewe effek kon hê nie.

Ongelukkig was die 2020-groeiseisoen nie net maanskyn en rose nie – talle uitdagings het na vore gekom waaruit waardevolle lesse geleer is. Hier volg ’n kykie na die uitdagings wat kanolaprodusente vanjaar moes trotseer asook wenke om die uitdagings in die toekoms effektief te bestuur.

Swartstamgeïnfekteerde stamme in die volwasse fase.
Foto: Piet Lombard

Korrekte plantdatum
Daar is jaarliks onsekerheid oor die geskikste plantdatum vir die onderskeie areas. Vanjaar het sommige produsente vroeg in nat grond geplant, wat optimale ontkieming en vestiging laat realiseer het. Ander produsente, wat by standaard- voorgeskrewe plant­datums gehou het, is geforseer om in droë grond te plant. Dit het gelei tot laat ontkieming en vestiging, aangesien die eerste noemenswaardige reënbui eers ongeveer ’n maand na plant geval het.

Volgens die nuutste Australiese navorsing moet die saaidatum vir optimale opbrengs aangepas word by ’n kultivar se fenologie.

Koppievorming en verdwerging van kanolaplante as gevolg van SU-residuskade. Diflufenican (diflan), ’n verbleikonkruiddoder, het dikwels fitoskade by kanola tot gevolg.

Hulle verwys daarna as ’n kultivar se optimale begin van blomstadium (OBS). Die OBS word gedefinieer as wanneer 50% van plante in ’n betrokke land ten minste een oop blom het en word bepaal deur wanneer en hoe dikwels ekstreme temperature voorkom en die patroon van waterstremming.

Hoekom is dit belangrik om die plant­datum by ’n kultivar se OBS aan te pas?

  • Indien ’n plant in die OBS blom, word opbrengs verhoog.
  • As ’n plant te vroeg blom, mag onvol­doende biomassa teenwoordig wees.
  • Indien ’n plant te laat blom, is die risiko vir hitte- en waterstremming gedurende blom hoog.

Danksy Piet Lombard en sy span by die Wes-Kaapse Departement van Landbou, is stu­dies uitgevoer om saaidatums en verwagte blomdatums (OBS) vas te stel (Tabel 1).

Bron: (Lombard et al., 2019)
Tipiese diflanskade kom voor as wit rande op die jong blare van kanolasaailinge.

Kies die regte swartstamweerstandbiedende kultivar
Bekommernis bestaan tans oor die jaarlikse toename in swartstamin­festasies in die Wes-Kaap. Indien ’n produsent se lande ’n geskiedenis van swartstam het, is dit belangrik om die regte swartstamweerstandbiedende kultivars te kies.

Twee tipes swartstamweerstandsgene bestaan:

  • kwantitatiewe weerstand (volwasseplantweerstand)
  • kwalitatiewe weerstand (saailingweerstand)

Kwantitatiewe weerstand is verantwoordelik vir die voorkoming of onderdrukking van staminfeksies (stamkankers) en speel geen rol by die voorkoming van blaarinfeksies nie. Slegs wanneer die kwalitatiewe weerstand van die plant oorkom word, sal kwantitatiewe weerstand na vore kom.

Kwalitatiewe weerstand voorkom stam-, blaar- en krooninfeksies (totale weerstand). Veronderstel ’n saailing word vroeg in die seisoen geïnfekteer met die swam, is dit die kwalitatiewe weerstandsgene se funksie om te voorkom dat die swam die plant binnedring en sodoende die vorming van letsels op die blare en die kroon voorkom (sien Tabel 2 vir weerstandsgroepe A-F).

Bron: (Lombard et al., 2019)

Die swartstampatogeen beskik oor die vermoë om ’n kultivar se kwalitatiewe weerstand binne drie jaar te oorkom. Dit is dus van uiterste belang om die volgende faktore in ag te neem indien daar ’n geskiedenis van swartstaminfestasie is:

  • Bevestig watter kanolalande in vorige jare met die siekte geïnfekteer is en bepaal die graad van infestasie. Die swam oorwinter op ou kanolareste. Sodra toestande gunstig is, produseer dit vrug­liggame wat enkele meters (piknidia) of honderde meters ver (pseudothecia) kan versprei en infeksie van gesonde kanolaplante of saailinge tot gevolg kan hê. Dit is dus ook belangrik om ’n nabye buurman se swartstamgeskiedenis in ag te neem tydens beplanning.
  • Noteer die kultivars wat aangeplant is op die lande asook hul betrokke weerstandsgroepe (sien Tabel 2). Veronderstel Diamond (met die weerstandsgroepe ABF) is in 2019 gesaai, dan is dit be­langrik om ’n kultivar te kies met ’n addisionele weerstandsgroep, byvoorbeeld Quartz (met weerstandsgroepe ABD). Let op die
    D- en F-geen wat verskil. So ook moet 44Y90 (B) geroteer word met 45Y93 (BC), ensovoorts.
  • Indien ’n kultivar nie die regte kwalitatiewe weerstandsgroep besit om die betrokke swartstampatogeen se verspreiding te verhoed nie, sal infeksie voorkom as letsels op die stamme van saailinge. ’n Swamdodertoediening word dan sterk aanbeveel by die vier- tot sesblaarstadium, aangesien vroeë infeksie groot opbrengsverliese
    tot gevolg kan hê. Lande moet dus gereeld gedurende die vier- tot sesblaarstadium vir letsels op stamme gemonitor word, veral indien daar ’n geskiedenis van swartstam is.
  • Moet nie saad terughou as letsels teenwoor­dig was op stamme of peule van vorige jare se aanplantings nie. Saad wat in peule met swartstamletsels voorkom, sal besmet wees
    met die siekte en sal tot swartstaminfestasies in die volgende jare se aanplantings lei.

Onkruiddoderresidue in spuittoerusting
Menige kanolahektaar is vanjaar verloor weens die kleef van residue van sulfonielureum (SU) en diflufenican (diflan) in spuittenks. Dit word toegeskryf aan die onvoldoende skoonmaak van spuitapparaat. Die noodsaak om spuitapparaat na afloop van ’n dag se bespuitings skoon te maak, moet dus sterk beklemtoon word.

Kanola is uiters sensitief vir SU-residue en dié produkgroep is berug daarvoor om aan die binnekant van spuittoerusting te kleef. Indien die spuittenk met ’n onkruiddoder gevul word wat ’n oplosmiddel soos xileen bevat (soos sommige FOP’s en DIM’s), word die SU-residu wat na toediening in die tenk agterbly, opgelos in die spuitwater waarmee die spuittenk daaropvolgend gevul word. Tipiese SU-skadesimptome is koppievorming van die jong blare wat geel en/of pers verkleur, verdwerging en blare wat leeragtig voorkom (Foto 3).

Produsente moet ekstra aandag gee aan die skoonmaak van hul spuitapparaat voordat daar oorgegaan word na ’n volgende land. Verskeie doeltreffende skoonmaakprodukte is by verspreidingsmaatskappye beskikbaar. Kies ’n skoonmaakmiddel wat duidelik aandui dat dit die produk wat verwyder moet word in die spuittenk kan oplos. Volg die etiketaanwysings ook streng na.

Korrekte platsnytyd
Vanjaar se stande se fisiologiese groeistadiums was grotendeels onegalig, wat die tydsberekening van platsny baie bemoeilik het. Die regte tyd om plat te sny, is tussen 60%- en 70%-saadverkleuring (Foto 5). Dit is belangrik om te onthou dat selfs die geringste bruin­ kolletjie op die saad as verkleuring tel. Let ook in Foto 5 op hoe min swart saadjies teenwoordig is by die korrekte tyd om plat te sny. ’n Goue reël: Die onderste peule se sade moet donkerbruin tot swart wees, die middelste peule se sade ligbruin tot groen en die boonste sade groen, maar rolbaar tussen die vingers.

Verskillende saadverkleuringstadiums.
Foto: Departement Landbou, Wes-Australië

Volgens Australiese navorsing kan die verkeerde platsnytyd (byvoorbeeld by 40%-saadverkleuring) tot ’n opbrengsverlies van ongeveer 11%/ton lei. Indien dit in rand en sent omgesit word teen 2020 se vasgestelde minimum prys, gee dit ’n totale verlies van R665,50/ton – ’n duur fout om te maak!

Vir meer besonderhede, kontak Izane Crous by izane@soill.co.za.

Bron

  1. Lilley, JM, Flohr, BM, Whish, J & Kirkegaard, JA. 2019. Defining optimal sowing and flowering periods for canola in Australia. Field Crops Research, 235, 118 – 128.