Wenprodusente deel hul geheime

Gepubliseer: 9 Desember 2020

798
Magda du Toit,
names Graan SA

Die afgelope paar seisoene het heelwat uitdagings aan graanprodusente gestel. Ten spyte van die uiterste klimaatsomstandighede in die land, verrig Suid-Afrikaanse produsente egter steeds wonderwerke wanneer dit by opbrengs kom.

Produsente het vanjaar in Graan SA se Groei vir Goud Nasionale Opbrengskompetisie gewys dat goeie bestuur en volhoubare praktyke die skaal se wyser ver in die positief kan laat aanskuif. ’n Paar van die produsente het selfs die rekordboeke herskryf.

Graan SA het in Oktober die toekenningsgeleentheid van die eerste Groei vir Goud-kompetisie aangebied. Uitstaande mielie-, sojaboon- en sonneblomopbrengste van 46 produsente oor 16 ka­tegorieë is gevier – behaal deur kommersiële produsente tot kleinskaalse boere van regoor Suid-Afrika.

Na uitgebreide konsultasie met al die saadondernemings gedurende 2019, is ’n standaardprotokol opgestel om te verseker dat alle deelnemende produsente op dieselfde vlak en kriteria beoordeel word. Met die ondersteuning van die byeenkomsborg, Pioneer, ondersteun deur Corteva, het hierdie gesogte geleent­heid sinergie geskep tussen individuele saadmaatskappye se streeksopbrengskompetisies en is die maatstaf vir toekomstige seisoene gelig.

Mielie-, sojaboon- en sonneblomprodusente van regoor die land kon vanjaar vir die nuwe kompetisie inskryf en is beoordeel in kategorieë volgens produksiegebied asook droëland- of besproeiingsverbouing.

Hoewel opbrengs belangrik is, is dit nie al wat tel nie. Om volhoubaar te bly boer, moet produsente deesdae in hul boerderye aan baie meer fasette aandag gee. Insetkoste en uitgawes per hektaar moet gemeet word. Dit sal van omgewing tot omgewing en produsent tot produsent verskil, aangesien elk­een se direkte en veranderlike koste anders is. Die geheim is egter om die verhou­ding van inset tot wins in ewewig te hou en nie net op opbrengs te fokus nie. Op die ou einde gaan dit oor maksimum wins per hektaar.

Van die doelwitte van dié opbrengs­kompetisie was om innoverende produksiepraktyke te bevorder en om ’n platform te skep waar produsente slim boerderyplanne en goeie bestuurspraktyke met mekaar kan deel.

SA Graan het met van die wenprodusente in die onderskeie kategorieë gaan gesels. Hoewel al die wenprodusente gekontak is, kon almal nie deelneem nie en hoop ons om vorentoe profiele van al die wenners te plaas.

Die wenners in elke kategorie is op 15 Oktober tydens die toekenningsgeleentheid by Muldersdrift aangewys. Klik op die QR-kode om na ’n reeks video’s wat tydens die geleentheid vertoon is, te kyk.