Tydigheid die sleutel tot sukses

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 9 Desember 2020

1739

Tommie Scholtz

Elke aksie in die boerdery het sy regte tyd, daarom is deeglike beplanning en voorbereiding noodsaaklik. Volgens Tommie Scholtz van Bergville is dit die sleutel tot sy sukses.

Tommie boer vir Christoff Brits in die Bergville-omge­wing en was die wenner in die kategorie vir sojabone onder besproeiing, met ’n opbrengs van 5,28 t/ha met die P 64T39R-variëteit. Hy het ook ’n tweede plek behaal in die afdeling vir mielieverbouing in KwaZulu-Natal, met ’n opbrengs van 13,03 t/ha met die baster P 1814R van Pioneer.

“Ek is baie puntenerig oor toerusting en maak seker alle toerus­ting is in ’n werkende toestand en gereed vir planttyd. ’n Mens kan nie wag tot jy jou toerusting wil gebruik en dan eers kyk of alles nog werk nie. So gaan waardevolle tyd verlore.”

Hulle volg ’n geenbewerkingstelsel en plant mielies (50%) en sojabone (50%) in ’n rotasiesisteem, met koring in die winter op die lande waar sojabone geplant was. Beeste benut die mielieplantreste na stroop en die sojabone word op daardie lande onder besproeiing geplant.

Die nuutste tegnologie, grondontledings en kartering vorm die basis van die presisieboerdery. Die grondkaarte saam met die grond- en blaarontledings bepaal die bemestingsprogram en aanvullende blaarvoedings asook die plantestand per land en gewas. Grondontledings word een keer elke twee tot drie jaar op die besproeiingslande gedoen en een keer elke vier jaar op die droëlande.

Tommie Scholtz (regs) saam met Christoff Brits in hul sojaboonlande.

Variërende stand word by die mielies toegepas en variërende kunsmistoediening op die sojabone. Alle gewasse word in 45 cm-rye geplant. Egalige stand is belangrik en behalwe dat die toerusting “dubbels” en “misse” uitskakel, is die korrekte plasing in die grond ook van kritieke belang – veral omdat die saad in die vorige seisoen se reste geplant word. Hulle toerusting is aangepas om die planterkarretjie se druk op die grond te beheer sodat die saad egalig geplant word en nie op ongelyke dele dalk net in die reste geplaas word nie. Hidrouliese drukbeheer verseker dus ’n egalige plantdiepte sonder om te veel kompaksie langs die plantervoor te laat. Dit verseker eenvormige opkoms.

Hulle volg ’n Roundup Ready-sisteem met stapelgeenmielies vir insek- en onkruidbeheer asook Roundup Ready-sojabone. Roundup Ready-mielies word in die toevlugsareas geplant.

“Onkruid – veral purperwinde – is ’n wesenlike probleem by ons,” sê Tommie. Hulle doen ’n voorplantbespuiting met glifosaat. Tydens plant spuit hulle voor-opkomsonkruiddoders en afhangende van die spesifieke jaar se onkruiddruk, nog twee tot drie bespuitings na plant met glifosaat saam met langwerkende na-opkoms-onkruiddoders. As daar steeds onkruid voorkom nadat die gewasse fisio­logies ryp is, sal hulle weer spuit voordat hulle stroop.

Hoewel hulle ’n spuitprogram vir onkruid-, insek- en siektebeheer opstel, monitor hulle die lande en pas die program aan na gelang van wat hulle daar sien. “Ek gaan elke week deur die lande om self te sien wat aangaan. So tel ek vinnig op as daar ’n onkruid, insek of siekte kop uitsteek en kan ons dit tydig beheer.”

Die bemarking van graan staan sentraal in die sukses van hul boerdery en skep ’n platform om weer in die boer­dery en grond te investeer. Tommie meen dit is nog vir hulle die moeite werd om opbrengs op sojabone te jaag.

Volgens hom is proewe voordelig. Hy plant produk- en standproewe op klein maat om te sien hoe dit binne sy bewerkingspraktyke en op hulle grond reageer. Maatskappyproewe bied weer die geleentheid om meer kultivars met mekaar te vergelyk en gee ook ’n voorsmaak van nuwe produkte in die pyplyn.

Tommie is dankbaar vir die genade wat hulle ontvang. “Alles wat ek vermag, is met die genade van die Here. Daarsonder sou ek nie die mas opkom nie.”

Hy is baie dankbaar teenoor die twee mentors in sy lewe – sy eie pa wat hom goed toegerus het vir die lewe en dan Christoff Brits, vir wie hy boer. “Ek leer ongelooflik baie by Christoff van boerdery.”