Werkgroep fokus op lede se insetsake

Gepubliseer: 28 Oktober 2020

1187
Corné Louw
senior ekonoom, Graan SA
corne@grainsa.co.za

Graan SA se missie is om kommoditeit- strategiese ondersteuning en dienste aan sy lede te voorsien om sodoende volhoubaarheid op die plaas te help verseker.

Een van die bene van Graan SA wat bydra tot die volhoubare winsge­wendheid van lede deur middel van die monitering van produksie-insette en ander insetverwante sake, is die Produksie/Inset-werkgroep. Wat die monite­ring betref, word deurlopend gekyk na die prys, kwaliteit en beskikbaarheid van insette.

Hierdie diens het ten doel om te verseker dat lede van Graan SA hul insette teen die beste moontlike prys vir die regte kwaliteit in die hande kan kry.

Die Produksie/Inset-werkgroep bestaan uit 19 lede van die Graan SA-hoofbestuur (produsentelede), wat elk ’n spesifieke streek in die graan- en olie­sadeproduksiestreke verteenwoordig. André Kirsten tree as voorsitter op en Jaco Breytenbach as visevoorsitter.

Van die belangrikste sake waarmee die werkgroep hom in 2020 besig gehou het, sluit die volgende in:

Vergaderings met sambreelorganisasies
Gedurende 2020 het die werkgroep weer met al die sambreelorganisasies vergader om sake van gemeenskaplike belang te bespreek asook om knelpunte van lede met hulle deur te trap. Vergaderings is gehou met die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR), wat saadmaatskappye verteenwoordig; CropLife, wat landbouchemiese maatskappye verteenwoordig; die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (SAAMA), wat landboumasjinerie-maatskappye verteenwoordig en Fertasa, wat kunsmismaatskappye verteenwoordig.

Mieliekultivarevaluasie
Oor die afgelope paar jaar was daar bekommernis oor die nasionale kultivarproewe en die taak het op die skouers van Graan SA en SANSOR geval om dié proewe te bestuur. Hiervoor is ’n konsortium gestig. Die vernaamste taak van die nuwe konsortium is om proewe in die belangrikste mielieproduserende ge­biede van die land te plant vir betekenisvolle resultate.

Die proewe is die afgelope plantseisoen (2019/2020) op dieselfde wyse en volgens dieselfde protokols hanteer as wat die Landbounavorsingsraad (LNR) dit voorheen gedoen het. Van die saadmaatskappye het gehelp met die plant van die proewe. In totaal is 51 proewe onder droëland aangeplant, waarvan 37 se resultate statisties verwerk is, terwyl 22 kultivars in vyf proewe onder besproeiing aangeplant is. Al vyf die proewe se data is verwerk.

Een van die ander oogmerke van die konsortium was om die kultivarproewe na die Oos-Kaap uit te brei. Ongelukkig kon dit nie die afgelope seisoen realiseer nie, vanweë ongunstige toestande wat geheers het. Hael en vroeë ryp het van die ander proewe se aanplantings nadelig geraak en die proewe se resultate is nie in die berekeninge in aanmer­king geneem nie.

Besoeke aan saadmaatskappye
Graan SA-lede raak al hoe meer sensitief oor saadpryse en jaarlikse prysstygings. Die werkgroep beplan om in November 2020 indringende gesprekke met saadmaatskappye se besluitnemers te hê voordat hulle hul saadpryse vir 2021 bekendmaak.

Situasie by Foskor
Foskor het die vermoë en kapasiteit om die hele suidelike deel van Afrika van fosfate te voorsien. Verder het Foskor ook heel waarskynlik die beste kwaliteit fosfate in die wêreld. Die maatskappy behoort dus ’n strategiese bate vir Suid-Afrika te wees. As gevolg van verskeie redes, waaronder ondoeltreffende produksie, is Suid-Afrika egter genoodsaak om al meer fosfate in te voer. Op 8 Oktober 2020 is ’n dringende gesprek met die Industriële Ontwikkelingskorporasie (IDC), ’n hoofaandeelhouer van Foskor, en Foskor se senior bestuur gehou om die swak prestasie van die maatskappy te bespreek. ’n Omdraaistrategie is in plek gestel, wat fyn dopgehou sal word.

Links: André Kirsten is voorsitter van die Produksie/Inset-werkgroep.
Regs: Jaco Breytenbach, visevoorsitter van die Produksie/Inset-werkgroep.

Dieselrabat
Die werkgroep het baie tyd spandeer aan kommentaar vir die nu­we voorgestelde dieselrabatstelsel. Kommentaar uit dié vergaderings is geïnkorporeer met Agri SA se kommentaar en is middel Maart 2020 aan die Suid-Afrikaanse Inkomste­diens (SAID) en die Tesourie gestuur. Te­rugvoer vanaf eersgenoemde is dat hulle die kommentaar ontvang het en tans oorweeg. As gevolg van die inperking kan werkswinkels wat die SAID en die Tesourie met rolspelers wil hou, egter nie op die oomblik plaasvind nie.

Graan SA staan lede steeds by met die dieselrabatstelsel, veral waar lede deur die SAID geoudit word.

Invoerrabat op trekkerbande (radials)
Graan SA het saam met ander rolspelers by die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (ITAC) aansoek gedoen om vrygestel te word van die invoertarief van 20%, wat tans gehef word op ’n bandgrootte met ’n deursnee van kleiner as 91 cm. ’n Finale uitslag van ITAC word afgewag.

Beweging van landboumasjinerie wat nie gelisensieer kan word nie
’n Voorstel is aan die Nasionale Departement van Vervoer gemaak rakende die wettige beweging van hierdie voertuie, wat eintlik nie volgens wet sonder ’n laebaksleepwa vervoer kan word nie. Die voorstel sluit onder meer die gebruik van begeleidingsvoertuie in. Die departement is besig om die voorstelle intern te bespreek en hulle terugvoer word afgewag.

Algemene sake
Agri SA neem ook gereeld aan die Produksie/Inset-werkgroep deel om terugvoer te gee oor algemene sake soos elektrisiteit, water, paaie en grond.

Insetpryse
Graan SA moniteer deurlopend die pryse van plaaslike en internasionale insette. So kan seker gemaak word dat plaaslike produ­sente die regte prys vir hul insette betaal om sodoende kompeterend te kan wees teenoor hul internasionale eweknieë.

’n Voorbeeld hiervan is die byhou van internasionale kunsmispryse en die vergelyking van tendense met dit wat in die plaaslike kunsmismark gebeur. Waar tendense dramaties verskil, kan die redes daarvoor verder ondersoek word en selfs met die plaaslike kunsmismaatskappye opgeneem word. Só het Graan SA al by verskeie geleenthede ongerymdhede in bedrywe uitgewys.

Die werkgroep het ’n sterk dryf om die plaaslike landbouchemiese waardeketting meer deursigtig te kry. Hiervoor is ’n student by die Universiteit van die Vrystaat se hulp bekom om insetpryse – veral landbouchemiese pryse – by produsente te kry om die mark meer deursigtig te maak. Deursigtigheid en kompetisie in die insetomgewing word dus hierdeur bevorder. Daar word ook deurlopend gepoog om belangrike insetinligting tydig aan lede te verskaf.

Insette waarop gefokus word, is saad, kunsmis, landbouchemikalieë, brandstof, landboumasjinerie en onderdele.

Kwaliteit van insette
Graan SA probeer verseker dat die insette wat produsentelede aankoop van goeie gehalte is en veral dat dit aan die wetlike vereistes voldoen. In samewerking met die Sasol-landboutrust, die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) en Fertasa bestuur Graan SA ’n kunsmis­kwaliteitmoniteringsprojek waar die kwaliteit van kunsmis gereeld getoets word.

Wat betref kwaliteit, staan Graan SA ook uitsluitlik sy lede by met dispuutoplossing, sou daar ’n dispuut ontstaan as gevolg van substandaardinsette.

Wanneer dit by wetgewing kom, is Graan SA ook op die voorgrond van onderhandelinge en kommentaar om seker te maak produsente word teen insette van minderwaardige kwaliteit beskerm.

Beskikbaarheid van insette
Graan SA poog verder om seker te maak dat sy lede – veral in kritieke tye – toegang tot voldoende hoeveelhede insette het. Hier is die organisasie deurlopend in kontak met insetrolspelers oor produsentelede se behoeftes, hetsy dit nuwe behoeftes is of selfs net hoeveel van bestaande produkte benodig word. Graan SA is boonop op ’n gereelde basis met die regering in kontak oor nuwe behoeftes om seker te maak dit kan ook regulatories in Suid-Afrika hanteer word.

Om op te som
Graan SA werk toegewyd daaraan om sy lede op die voorpunt van in­setprystendense te hou sodat hulle op insetkoste kan spaar. Die organisasie poog ook om seker te maak lede het toegang tot die nuutste tegnologie en dat die kwaliteit van insette op standaard is.

Klik op die ikoon om na ’n potgooi te luister waarin Corné Louw ’n kort opsomming van hierdie artikel gee.