’n Huldeblyk aan die graanprodusent

Gepubliseer: 28 Oktober 2020

1876
Alzena Gomes,
skakelbeampte, Graan SA
alzena@grainsa.co.za

Voedselproduksie was in ons leeftyd nog nooit belangriker as juis nou nie. Hierdie jaar sal om verskeie redes lank in die geheue ingegraveer wees. As gevolg van die COVID-19-pandemie en die daaropvolgende inperking is 2020 se planne sommer vroeg in die jaar opsygeskuif. Die immerdurende grendeltyd het kort voor lank die nekslag aan landswye byeenkomste, funksies, konferensies en al wat ’n spoggeleentheid kon wees, toegedien.

Dié jaar veral, sou die hoop wat die Graanprodusent van die Jaar-toekenning uitbeeld, ’n nuwe lig kon werp op ’n toekoms wat vir seker anders gaan wees. In hierdie onsekere tye is daardie hoop steeds gegrond in die bekendheid van die landerye en van ons produsente.

“Vir die organisasie is die toekennings ’n absolute hoogtepunt, ons vier ons produsente – die room van die oes – en die uitnemendheid van graanproduksie in hierdie land. Dit is so bemoedigend om te sien wat hulle doen en hoe dit gedoen word en hul veerkragtigheid is prysenswaardig.”
– Jannie de Villiers, Graan SA HUB, by die 2017 Graanprodu­sent van die Jaar-funksie
“Die Graanprodusent-proses waarvan ons deel was, het my oortuig dat landbou in my murg en been is. Al is dit ’n uitda­gende beroep, is dit nog steeds baie vervullend.”
– Johan en Dirkie van As, 2018 Graanprodusent van die Jaar

Hierdie toekenning is in 2000 ingestel ter erkenning van ons land se uitnemende graan- en oliesadeprodusente. Dit weerspieël die sleutelrol van kommersiële produsente in die moderne lewe – diegene wat uitdagings oorwin om lewens te voed.

Oor die afgelope twee dekades was daar ’n wye verskeidenheid finaliste, wat betref area, gewas, skaal en produksiepraktyke. Jaco Minnaar, voormalige Graan SA-voorsitter, het beklemtoon dat die Graanprodusent van die Jaar-funksie erkenning gee aan die Suid-Afrikaanse graanprodusent – elkeen in eie reg – en werklik merkwaardig.

Die proses was vervullend. Om jouself so te ondersoek … te ondersoek hoekom jy regtig doen wat jy doen, is iets waarby ons verskriklik baie geleer het.”
– Tonie Linde en Willie Beukes, 2019 Graanprodusent van die Jaar

Dít onderskei suksesvolle graanprodusente
Met die vergrootglas op die afgelope jare se suksesverhale, is daar ’n goue draad deur elkeen se prestasie verweef. Dit is nie die kleur van die verf op die masjinerie nie, hetsy groen, rooi, geel of blou. Dit is nie noodwendig die keuse van saad wat geplant is of die chemikalieë en kunsmis wat toegedien word nie. In werklikheid is dit nie soseer eers die produksie nie, want Suid-Afrika is vol wêreldklasprodusente. Die eienskap wat uitnemende graanprodusente kop en skouers bo die res laat uitstaan, is hoe hulle hul ondernemings bestuur.

Bedryfskapitaal, risiko en ekstra inkomste
Suksesvolle produsente ag positiewe bedryfskapitaal as uiters belangrik en is daarop ingestel om dit te behou en selfs op te bou om korttermyn- risikodraende vermoë te ondersteun. Produsente fokus verder daarop om nie hul inkomstestrome te laat stagneer nie en bykomende vorms van inkomste word op die meerderheid van plase aangetref. Dit word gedoen deur diversifisering met vee en wild, deur meer aangepaste hektare aan te pak of selfs ’n posisie buite die plaasgrense wat ’n goeie bron van stabiele inkomste besorg.

“Die Graanprodusent van die Jaar-funksie gee erkenning aan die Suid-Afrikaanse graanprodusent – elkeen in eie reg – en werklik merkwaardig.”
– Jaco Minnaar, voormalige Graan SA-voorsitter

Finansiële vernuf, analises en onderhandelings
Opmerklik by alle suksesvolle graanprodusente is die vernuf en vermoë om goeie oordeel te fel en vinnig besluite te neem. Dit vereis egter uitstekende boekhouding en ’n deeglike begrip van die boer­dery se geldsake. Dié produsente is goed met getalle, weet wat hulle koste is en ken hulle gelykbreekpunt. Selfs belang­riker is egter die gebruik van data om besluite te neem. Suksesvolle graanprodusente raai nie! Finansiële rekords word gebruik om graanproduksie te ontleed en hulle weet hoe elke deel van die boerdery se bedrywighede in mekaar pas, watter vertakking die lonendste is en watter een aanpassing benodig. As sodanig, word die vermoë om te onderhandel en proaktief te wees, na waarde geag.

Bates, bemarking en besluite
Op suksesvolle plase kry baie min bates ’n lewenslange waarborg en niepresterende bates word verkoop voordat die winsgewende dele van die boerdery benadeel word. Hand aan hand hiermee loop bemarking – ’n vaardigheid wat suksesvolle produsente van die ander onderskei. Beplanning vir die seisoen word eerste gedoen – nie laaste nie – en dan word die plan uitgevoer. Suksesvolle produsente beplan daagliks, weekliks, maandeliks en jaarliks en besigheidsbesluite word geneem sonder om moontlike alternatiewe opsies te beperk. Verder is ons produsente ook ingestel op besluite wat nuwe moontlikhede bied.

“Hierdie is slim plase. Hulle gebruik tegnologie om uitdagings die hoof te bied. Hulle fokus op die kleinste besonderhede, maar het tog ’n geïntegreerde holistiese be­nadering tot groei.”
– Antonie Delport, besturende direkteur, Syngenta Suid-Afrika

Die geheelbeeld
Die Graanprodusent van die Jaar-kandidate het oor die jare heen bewys dat die geheelbeeld saak maak en dat dit besluit­neming moet dryf. Daar is ook ’n duidelike boodskap dat groter nie noodwendig op sigself ’n oplossing is nie. Suksesvolle graan­produsente streef na beter, nie net na groter nie!

“Hierdie is slim plase. Hulle gebruik tegnologie om uitdagings die hoof te bied. Hulle fokus op die kleinste besonderhede, maar het tog ’n geïntegreerde holistiese benadering tot groei,” het Antonie Delport van Syngenta gedurende ’n onlangse toekenningsfunksie beklemtoon.

Die toekenning is meer as ’n tradisie. Dis ’n trotse weerpieëling van die passievolle mense wat Suid-Afrikaanse graanproduksie relevant, sterk en uniek maak.

2020 was nie wat ons verwag het nie – dit was nie waarop ons gehoop het nie. Te midde van ’n veranderende wêreld sal die Graanprodusent van die Jaar-geleentheid egter in die toekoms steeds hulde bring en hoop gee, terwyl dit die beeld uitdra van kommersiële landbou as lewensaar van die moderne samelewing.