Volgens onlangse vooruitskouings deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) word ’n populasiegroei van sowat een biljoen mense teen 2025 verwag, wat die wêreldpopulasie op agt biljoen mense te staan sal bring. Hierdie groei plaas al hoe meer druk op produsente en voedselverwerkers om voedsel volhoubaar en bekostigbaar te produseer.
Vir volhoubare voedselsekerheid is ’n veilige balans tussen winsgewende verbouing, verwerking en bekostigbaarheid vir verbruikers nodig. Voedselverbruikers benodig nutriëntwaarde in ’n gebalanseerde dieet en daarom ontstaan groter druk op die insetketting om die regte kombinasie van proteïene, koolhidrate, vette, vitamiene en minerale daar te stel.
Soos wat druk toeneem om voedsel volhoubaar met die beskikbare natuurlike hulpbronne te produseer, verhoog die behoefte na innovasie en tegnologie om deur middel van substituutvoedselprodukte in die wêreld se nutriëntbehoeftes te voorsien.
Sojabone kan gebruik word om een van hierdie primêre nutriënte, naamlik proteïen, te verskaf. Volgens die Amerikaanse Departement van Landbou (USDA) was die internasionale sojaboonproduksie 337 miljoen ton in 2019 en dit word as een van die wêreld se grootste proteïengewas-produksiebronne gesien. Die vernaamste verbruiker van sojabone bly die veevoerbedryf. Met die groeiende soeke na ’n volhoubare en gesonder leefstyl, ontwikkel daar egter tans ’n sterk tendens by verbruikers om proteïenalternatiewe wat direk van plante afkomstig is, te gebruik. Dit gaan hier oor meer as ’n behoefte na voedingswaarde, maar ook oor die verbruikersvraag na alternatiewe tot diereproteïen. Die marksegmentfokus is dus nie slegs op vegetariese verbruikers nie, maar daar is ’n beduidend groeiende marksegment wat belangstel in fleksiemaaltye en ’n balans wil handhaaf tussen diere- en plantproteïene as voedingsbron.
Hoekom sojabone as bron vir menslike voeding?
As gevolg van toekomstige populasiegroei, die groeiende vraag na proteïene asook beperkings in produksie van diereproteïene, word sojabone as ’n belangrike substituut gesien om in hierdie behoefte te voorsien. Dit dra by tot ’n goeie balans tussen dier- en plantproteïene. Getekstureerde plantaardige proteïen, ook bekend as TVP (Texturised Vegetable Protein) of TSP (Texturised Soya Protein), is basies direk verwerkte rou materiaal, waarvan ’n groot deel opgemaak word deur sojaboonprodukte.
Hoekom juis sojaproteïen (TSP)?
- Soja is ’n uitstekende bron van proteïen.
- Dit het ’n hoë verbruikersaanvaarding as gevolg van die tekstuur en eienskappe soortgelyk aan vleis.
- Soja is ’n gesonde alternatief tot vleis en dek ’n groot nutriëntspektrum.
- Die tegnologiese ontwikkeling van prosessering verhoog die verbruikersaanvaarding van TSP as insluiting tot diëte.
- Dit het ’n lang rakleeftyd afhangende van vetinhoud en stooromstandighede.
- Goedkoper hantering en logistieke voordele.
- Plantproteïene as mensevoedsel het sowat ’n 50% laer omgewingsimpak as alternatiewe.
Alternatiewe sojaboonprodukte
Daar bestaan vier klasse van sojaboonprodukte wat veral vir menslike diëte geproduseer word, naamlik: Nat TSP en droë TSP (ongeveer 50%-proteïen), sojaproteïenkonsentraat (>60%-proteïen) en sojaproteïenisolaat (>90%-proteïen).
Nat TSP word veral aangewend in vleisanaloë, wat meestal gebruik word as nuggets, schnitzels asook patties en kan as ontbeende, verwerkte kossoorte voorberei word. Nat TSP is veselagtig met ’n digte tekstuur en moet in ’n kouevoedselketting gehou word, wat koste verhoog.
Droë TSP word veral gebruik as vleisaanvullers en as volledig gegeurde maalvleis. Met vordering in tegnologie verhoog die kwaliteit na verskillende marksegmente drasties. Droë TSP beskik ook oor ’n veselagtige, sponsagtige tekstuur en vereis nie ’n kouevoedselketting nie. Die raklewe is beduidend langer en ’n rehidrasieproses met water berei die produk voor vir verbruik en smaaklikheid.
Die meerderheid verbruikers in die Suid-Afrikaanse markkonteks het ’n negatiewe gevoel teenoor soja as alternatief vir diereproteïene. Hierdie sentiment bestaan hoofsaaklik as gevolg van die aanwending van sojaproteïen in voedingskemas, voorbereiding asook die kwaliteit wat nie altyd na wense is nie. Alhoewel Suid-Afrikaanse verbruikers erken dat sojaproteïen ’n gesonde nutriëntwaarde het en wel daagliks op een of ander manier indirek verbruik word, verhoed die negatiewe sentiment steeds baie verbruikers om sojaprodukte as verkose proteïenbron tot aanvulling van diereproteïene te gebruik. Let wel dat hierdie argument nie op vegetariërs gefokus is nie, maar die meerderheid van die plaaslike bevolking, wat ’n gebalanseerde maaltyd teen bekostigbare pryse vir hul families moet voorberei, insluit.
In die plaaslike mark maak droë verpakte sojamaalvleis met geursel steeds die grootste deel van die sojamarksegment uit en is dit algemeen beskikbaar in supermarkte. Die tweede grootste aanwending van sojaproteïen word in die geprosesseerdevleisbedryf gesien, waar dit veral as proteïenkonsentrate ingesluit word in polonie, rooiworsies en hamburgerpatties as aanvuller om aan vereistes vir verteerbare proteïen te voldoen. Dit word ook op alle supermarkrakke onder verkoeling gesien. Derdens is daar die groeiende aanwending onder kleiner vleisverwerkers (plaaslike slaghuise), wat verwerkte soja insluit as vleisaanvullers in veral maalvleis en wors met die doel om vir verbruikers ’n meer bekostigbare proteïenbron te verskaf met ’n smaaklike geur en tekstuur.
Die plaaslike voedselverwerkingsketting ervaar tans baie druk om gebalanseerde, nutriëntryke voedsel teen bekostigbare pryse aan verbruikers te voorsien Dit moet nie net aan beter gesondheidsvereistes voldoen nie, maar ook beter smaak en voldoen aan voedselveiligheidsmaatreëls. Wesenlike groei word verwag in hierdie marksegment vir soja-alternatiewe tot proteïenaanvulling – veral oor die volgende twee jaar. In die VSA en Europa het produkaanbiedinge alreeds die afgelope twee jaar groei van meer as 80% getoon, volgens produkregistrasiedatabasisse. Met die plaaslike druk op voedselverskaffers en -verwerkers, is daar ’n verwagting van meer as 25%-groei in hierdie marksegment in Suid-Afrika oor die volgende twee jaar. Dit sal grootliks vanaf sojabone as rou materiaal ontwikkel en as aanvulling tot diereproteïen in diëte dien.
Met die COVID-19-pandemie se invloed op verbruikers se finansiële situasie, word voedselverwerkers genoop om teen ’n versnelde tempo aandag te skenk aan die proteïenbehoeftes van diëte. Waar natsojaproteïen-alternatiewe van hoër kwaliteit tot op hede gefokus was op die vegetariese mark, sal die produkaanbiedingsgroei grootliks plaasvind in die gebalanseerde verbruiker se behoefte vir voldoende proteïenaanvulling teen bekostigbare pryse. Dit sal as aanvulling tot diereproteïen ontwikkel word, eerder as kompetisie.
Skakel Jannie Myburgh vir meer inligting by 071 610 2077.