Landboukrediet in troebel waters

Dr Dirk Strydom, bestuurder: Graanekonomie en Bemarking, Graan SA
Gepubliseer: 5 Augustus 2020

918

Dit is geen geheim dat die Suid-Afrikaanse landbou­sektor deur krediet gedryf word nie. Daar is slegs enkele produsente wat vandag nog op ’n kontantbasis kan produseer, veral binne gewasverbouing.

Verder is dit waar dat die landbousektor ’n klompie uitdagende jare beleef het, met droogte wat heelwat produsente op hul knieë gedwing het. Uit die nuwe landbousensus kan gesien word dat daar tussen 2007 en 2017 ’n daling was in die getal plase waar gewasverbouing toegepas word. Dit is weer eens ’n bewys dat die marges binne die graan- en oliesadebedryf onder druk is.

Volgens die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) se analises gaan dit tot drie jaar neem vir produsente in die westelike gedeeltes van die land om ’n positiewe kontantvloei te vestig – mits dit goeie jare is. Weens die laer marges neem dit soveel langer om te herstel van terugslae binne die bedryf. Die gesegde dat ’n boer hom weer uit die moeilikheid kan produseer, is dus nie meer van toepassing op een of twee seisoene nie, maar eerder op die lang termyn. As daar dan ook vir vier uit ses jare droogte ervaar word, raak dit nog moeiliker.

Afgraderings en druk op kredietverskaffers
Hierbenewens is die Land Bank se afgradering na rommelstatus deur Moody’s ’n verdere terugslag. Met die skryf van die artikel was daar selfs in die media sprake dat die bank nie sy skuld sal kan nakom nie en dat verdere waarborge en hulp vanaf die staat benodig word. Daar is ook agribesighede wat kredietafgraderings ervaar het. Boonop is sekuriteit meer onder druk as gevolg van plaaspryse wat die afgelope tyd ook onder druk was.

As daar gekyk word na die kredietsektor in geheel, het kommersiële banke reeds vroeg baie selektief te werk gegaan met kliënte en finansieringsgeleenthede om risiko’s te probeer beperk. In hierdie opsig was baie van die agribesighede bereid om die risiko-oordrag te doen. Laastens het die Land Bank probeer om die segment vir kleinskaalprodusente te dek, wat uiters uitdagend was omdat hulle ook kapitale bronne ontvang het soos enige kommersiële bank op die vrye mark.

Die strawwe seisoene wat binne landbou ervaar is, het veroorsaak dat die kredietvlakke teen die einde van 2019 volgens die kort begrip vir landboustatistiek hoër as R160 miljard was. Dié druk en die Land Bank-bekommernisse het begin veroorsaak dat die risiko weer vanaf agribesighede na kommersiële banke terugbeweeg het – nie noodwendig deur individuele produsente nie, maar eerder deur die groter strukture. Dit lyk dus nie baie belowend vir die kredietomgewing binne landbou nie. Suid-Afrika is boonop na rommelstatus afgegradeer, wat beteken dat die koste van kapitaal (wat reeds skaars is) nog duurder gaan word.

Groter fokus op terugbetaalvermoë en kontantvloei
Die gevolg is dat kredietverskaffers risiko tot nog ’n groter mate gaan vermy. Die onsekere beleidsomgewing het ook al hoe meer fokus op terugbetaalvermoë en kontantvloei geplaas. Gegewe die feit dat die marges onder druk is en kontantvloei in baie gevalle reeds negatief is, is dit voor die hand liggend dat finansiering al hoe meer van ’n uitdaging gaan raak.

Daar gaan definitief nuut gedink moet word oor landbou­finansiering. Omdat daar so ’n groot fokus op kontantvloei geplaas word, is dit belangrik om ’n ondersteunende beleidsomgewing te skep wat dit fasiliteer. Dit kan gesubsidieerde oesversekering insluit, wat die risiko vir die produsent sowel as die kredietverskaffer verlaag. Dit bied die produsent ook ’n beter geleentheid om goeie prys­geleenthede in die mark te benut. Met ’n belastingvrye spaarplan kan fondse benut word in tye wanneer dit swaar gaan (veral omdat landbou in siklusse funksioneer) en ook verhoed dat daar nie onnodige spandering op kapitaalgoedere plaasvind nie (implement­rekening en -paaiemente). Daar sal ook anders gekyk moet word na landbou binne die kredietbeleidsomgewing om siklusse en risiko’s beter te bestuur. Is dit dalk weer tyd vir ’n landboukredietraadmodel wat moontlik deur die privaat sektor gedryf word?

Punte om in gedagte te hou:

  1. In moeilike ekonomiese omstandighede is die krediettelkaarte strenger om risiko te beperk, al is die rentekoerse laer.
  2. Waardes van en die vraag na grond in sekere areas is laer (nie orals nie). Dit maak kredietrisiko hoër.
  3. Die Land Bank is primêr verantwoordelik vir produksiekrediet by verskeie agribesighede.
  4. Sommige agribesighede koop ook die huidige oes aan met fasiliteite vanaf die Land Bank.

Bogenoemde beteken nie dat daar glad nie finansiering beskikbaar gaan wees nie, maar dit dra alles by tot risiko’s in die kredietomgewing.

Wat produsente kan doen om finansiering te vergemaklik:

  1. Beskerm kontantvloei ten alle tye.
  2. Diversifiseer die besigheid.
  3. Pas goeie finansiële bestuur en rekordhouding toe. Die meeste kredietgradeerders gebruik slegs die finansiële state om ’n be­sluit te neem.
  4. Goed ingeligte kontantvloeibeplanning per bedryfsvertakking is belangrik.
  5. Goeie finansiële motiverings en bewyse van terugbetaalvermoë is noodsaaklik.
  6. Moenie onnodige risiko’s aangaan met kontantvloei en skuldvlakke nie.
  7. As daar uitdagings is as dit kom by delging van skuld, kommunikeer en beplan vroegtydig met die kredietverskaffer.
  8. Belê in effektiewe administratiewe stelsels en vennote wat kan help om goeie finansiële besluite te neem en voor te lê.