NAMPO 2020 gaan virtueel

Gepubliseer: 4 Augustus 2020

1320


Alzena Gomes
skakelbeampte, Graan SA
alzena@grainsa.co.za

Die NAMPO Oesdag, wat landbou al amper vir ses dekades bymekaarbring, moes ongelukkig vir die eerste keer in die geskiedenis gekanselleer word weens die COVID-19-pandemie. Die Oesdag is met die uitbreek van die pandemie tot Augustus 2020 uitgestel, maar na die aankondiging van ’n ongespesifiseerde verbod op groot byeenkomste, sal die NAMPO Oesdag nie in 2020 op NAMPO Park plaasvind nie.

Dit beteken egter nie dat produsente vanjaar die nuutste tegnologie gaan misloop nie. Die goeie nuus is dat die 2020 NAMPO Oesdag, wat vir die 54ste keer aangebied word, vanjaar virtueel gaan plaasvind.

Die tema – “Vind jou 2020 Agrivisie” – wat reeds voor die pandemie aangekondig is, is heel gepas en vind weerklank op meer as een manier! Van 9 tot 12 September 2020 sal die virtuele NAMPO nuut, opwindend en innoverend wees. Dit sal produsente, verskaffers en landboukollegas met mekaar en met baie van hul gunstelinguitstallers in aanraking bring en die deur oopmaak na ’n magdom van aanlyn inligting en skakeling met ander bedryfsorganisasies van regoor die wêreld. Graan SA gaan vanjaar die grootste landbouhandelskou in die Suidelike Halfrond in ’n interaktiewe, aanlyn ervaring wat gerieflik en veilig is, omskep.

Boonop sal die virtuele NAMPO-platform verlengde bedryfsure bied. Uitstallers sal daagliks van 09:00 tot 19:00 beskikbaar wees asook Saterdag tot 14:00. Besoekers sal deur middel van ’n foon, tablet of rekenaar en hul internetblaaier kan inskakel en deelneem aan die gebeure.

Die NAMPO Oesdag se digitale teenwoordigheid gaan met ’n splinternuwe baadjie spog, maar die virtuele skou sal steeds bied wat die besoeker by die tradisionele NAMPO sou vind.

Uitstallers sal al hulle produkte op die virtuele NAMPO-platform kan vertoon en hul nuutste innovasies ten toon stel, terwyl besoekers sal kan aanmeld vir een-tot-een-konsultasies en deur die nuutste tegniese aanbiedings en produkdemonstrasies sal kan delf.

Boonop bied die platformvariasie aan Graan SA die geleentheid om die virtuele NAMPO Oesdag-ervaring verder as net hierdie jaar te laat strek. Die virtuele aanbieding sal nooit die persoonlike ervaring van besoekers en uitstallers op NAMPO Park kan vervang nie. Dit sal egter wel aan toekomstige uitstallers die geleentheid bied om hulle fisieke teenwoordigheid by NAMPO aan te vul met ’n virtuele duplikaat van hul standplaas om sodoende ’n breër gehoor in 2021 en daarna te kan bereik.

Die lanseerblad en ingang na NAMPO Virtueel
Twee sale met unieke inhoud.
NAMPO Virtueel gaan verskeie uitstalruimtes met ’n verskeidenheid ontwerpe hê.

“Die visie van NAMPO was nog altyd om ’n platform vir sake­ondernemings te skep, waar produsente nuwe tegnologie kan besigtig en toegang daartoe kan kry. ’n Virtuele platform kan steeds dié geleentheid bied en verseker dat die visie in die gemak van jou eie omgewing nagestreef word,” het dr Dirk Strydom, Graan SA se bestuurder: Graanekonomie en Bemarking, gesê. “Alhoewel ons nie kan wag om weer in persoon met die agrisektor te netwerk nie, word ons op nuwe maniere verbind en neem ons die kans om duisende NAMPO-entoesiaste te bereik.”

NAMPO Virtueel – Oral om jou!