Koringprys bly wisselvallig

Gepubliseer: 10 Julie 2020

2169

Ruan Schutte
junior landbou-ekonoom en
bemarker, Graan SA
ruan@grainsa.co.za

15/06/2020

Die Suid-Afrikaanse koringmark is uitgelewer aan internasionale faktore weens die feit dat Suid-Afrika ’n netto invoerder van koring is. Dit veroorsaak wisselvalligheid in die plaaslike mark wat tot onsekerheid lei.

Covid-19-inperkings het ’n definitiewe invloed op die gebruik van graan, alhoewel die presiese impak moeilik is om te bepaal. In die rubriek word ’n oorsig van die internasionale sowel as die plaaslike markte gegee.

Internasionale markte
Daar heers tans heelwat wisselvalligheid in die wintergraanmarkte. Van die wêreld se grootste uitvoerders van koring het ’n uitvoerverbod tot einde Junie ingestel om voedselsekerheid te midde van die Covid-19-pandemie te verseker. Ongunstige weerstoestande het ook vir die grootste gedeelte van die produksieseisoen in van Rusland se topproduksie-areas voorgekom, wat bygedra het daartoe dat Rusland se oesskatting laer aangepas is. In Tabel 1 word die verskil tussen die 2018/2019-seisoen en 2019/2020-seisoen aangedui.

Wêreldproduksie en die koringeindvoorraad het met onderskeidelik 4,09% en 5,45% toegeneem gedurende die periode. Die styging in die eindvoorraad kan bydra tot die onderdrukking van die internasionale koringprys. Koringproduksie neem ook tans vinniger toe as wat die vraag toeneem, wat bydra tot die styging in die eindvoorraad. Afrika en Oseanië se produksie het egter met meer as 10% gedaal weens ongunstige weerstoestande wat oor die koringproduksiegebiede geheers het. Die CNGOIC (China National Grain and Oils Information Centre) het op 3 Junie 2020 aangedui dat koringverbruik in China in 2020/2021 met 500 000 ton gaan toeneem van maand tot maand – vanaf 121,7 miljoen ton die vorige seisoen tot 124,3 miljoen ton. Op 9 Junie 2020 het Brasilië se Conab (Companhia Nacional de Abastecimento) ’n toename van 300 000 ton aangekondig vir die 2020/2021-produksieprojeksie, wat die totale produksie na 5,7 miljoen ton kan neem.

In Grafiek 1 is die 2010/2011-seisoen as 0%-basis gebruik om die verandering oor tyd aan te dui. Die beweging van die eindvoorraad toon aan dat dit van 2010/2011 tot 2018/2019 met 34% toegeneem het. Volgens die projeksie lyk dit asof dit met 50% (65% vir die toptienproduserende lande) oor tyd gaan toeneem na die 2020/2021-seisoen. Die grafiek toon aan dat produksie met 17% gaan toeneem vanaf 2010/2011 na 2020/2021.

Grafiek 1: Verandering oor tyd in wêreldvraag en -aanbod.
Bron: IGC
Nota: 2018/2019 (skatting); 2019/2020 (voorspelling); 2020/2021 (projeksie)

In teenstelling met die toename in produksie, toon die projeksie dat die vraag na koring met net 14% gaan toeneem oor dieselfde periode.

Plaaslike markte
Die voortslepende droogte en warm winters die afgelope vier jaar het vir moeilike produksietoestande gesorg. Dit het veroorsaak dat baie meer onbestendigheid in die plaaslike vraag-en-aanbodsyfers voorkom. Indien 2010/2011 as ’n 0%-basis gebruik word, dui Grafiek 2 aan hoe wisselvallig die plaaslike koringmarkte oor tyd vertoon het. Die gemiddelde vraag in Suid-Afrika het met 1% per jaar toegeneem vanaf die 2010/2011-seisoen. Invoer het met gemiddeld 0,26% afgeneem en produsentelewerings het met gemiddeld 26% toegeneem tot en met die 2018/2019-seisoen. Dit het daartoe bygedra dat die eindvoorraad gemiddeld met 21,73% toegeneem het oor dieselfde tydperk. Die wisselvalligheid in die wisselkoers veroorsaak ook onbestendigheid in die plaaslike koringprys. Met die Covid-19-pandemie wat lei tot onsekerheid op internasionale vlak sowel as onvoorspelbare weersomstandighede in die topproduserende lande, kan verwag word dat internasionale sowel as plaaslike koringpryse vir nog ’n ruk lank wisselvallig gaan wees.

Grafiek 2: Verandering oor tyd in Suid-Afrikaanse vraag en aanbod.
Bron: SAGIS

Ten slotte
Wintergrane vir die 2020/2021-seisoen word tans aangeplant. Produsente in die Wes-Kaap het weer eens droë toestande tydens planttyd beleef, wat bygedra het tot oneweredige opkoms in die grootste gedeelte van die provinsie. Goeie reëns het wel in die week van 12 Junie geval, wat omstandighede verander het. Tans is die Wes-Kaap nat, gemoedere is gelig en vooruitsigte lyk goed vir die seisoen – indien dit aanhou reën. Graan SA salueer die toegewyde produsente wat aanhou produseer in uitdagende toestande en wat verseker dat die voedselsekerheid van medelandsburgers ’n prioriteit bly. Hopelik sal die wêreldekonomie vinnig herstel, sodat kontant in omloop bly en verbruikers kan bekostig om aan te hou kos koop.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar egter geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van hierdie inligting nie.