Hoe vergelyk chemiepryse met internasionale tendense?

Gepubliseer: 10 Julie 2020

1381

Corné Louw
senior ekonoom, Graan SA
corne@grainsa.co.za

Suid-Afrika voer so te sê 100% van die aktiewe bestanddele om landbouchemikalieë mee te formuleer, in.

’n Onlangse verslag van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) toon 41% van die waarde van dié invoer is onkruiddoders, 34% is insekdoders, 17% is swamdoders en 8% is ander middels. Naas landboumasjinerie, kunsmis en veevoer, spandeer Suid-Afrika die meeste aan die invoer van landbouchemikalieë (R6 miljard per jaar) as dit kom by landbou-insette. Die meeste landbouchemiese invoer oor die afgelope drie jaar was afkomstig van die Europese Unie (42%), gevolg deur China met 24% en die Verenigde State van Amerika met 13%.

Behalwe vir internasionale tendense, speel die waarde van die rand ook ’n deurslaggewende rol in die plaaslike prysvorming van landbouchemikalieë. Wanneer na tendense op internasionale markte oor ’n jaartydperk gekyk word, het pryse van baie aktiewe bestanddele gedaal. Aangesien die wisselkoers egter oor hierdie tydperk met amper 26% verswak het, kan landbouchemiese pryse heelwat hoër wees vir plaaslike produsente as verlede jaar.

Grafiek 1: Die Chinese prys van glifosaat in rand het met 142% oor ’n periode van tien jaar toegeneem.

Koste vir die graanprodusent
In die Wes-Kaap kan landbouchemikalieë tussen 16% en 20% van ’n koringprodusent se lopende produksiekosterekening uitmaak, terwyl dit in sekere dele van die somergewasproduserende gebiede minder as 5% uitmaak. Produksiepraktyke soos geenbewerking asook die probleem van onkruiddoderweerstand in die Wes-Kaap het veroorsaak dat koste aan landbouchemikalieë uitermatig styg.

Deurlopende monitering van insetpryse is noodsaaklik om seker te maak die regte prys word vir die regte kwaliteit betaal. Plaaslike graan- en oliesadeprodusente betaal reeds invoerpariteit vir die meeste van hul insette, wat dit moeilik maak om met internasionale eweknieë te kompeteer.

Hoe groter die koste aan landbouchemikalieë, hoe belangriker is dit dat produsente die regte prys daarvoor betaal. As gevolg van die hoë mate van invoer, speel internasionale pryse en die wisselkoers ’n bepalende rol in die samestelling van plaaslike pryse. Hoe die finale produk vanaf invoer tot by die eindverbruiker (die produsent) beweeg, speel ook ’n bepalende rol. Soms voel dit vir produsente of hierdie ketting effe lank is.

Deursigtigheid in die waardeketting
Dit is uiters moeilik om plaaslike chemiese pryse op ’n groot- of kleinhandelsvlak in die hande te kry. Prysmonitering is dus vir alle praktiese doeleindes onmoontlik en die plaaslike waardeketting is tans glad nie deursigtig nie.

In hierdie artikel word tendense in internasionale landbouchemiese pryse uitgewys. Omdat Suid-Afrika so afhanklik van invoer is, behoort plaaslike tendense hiermee te korreleer. Graan SA-lede word dus gevra om hulle prystendense hiermee te vergelyk en terugvoer te gee oor enige tendense wat nie strook nie.

Internasionale pryse
Tabel 1 toon internasionale onkruiddoderpryse (in ’n Chinese hawe) per aktiewe bestanddeel oor ’n jaartydperk aan. Die eerste gedeelte van die tabel is die pryse in dollars, terwyl die tweede gedeelte dieselfde pryse aandui, maar omgeskakel in randwaarde. Uit die tabel kan gesien word dat die pryse van alle onkruiddoders, behalwe asetochloor en trifluralien, in dollarwaarde gedaal het. Behalwe vir atrasien, het al die pryse in randwaarde egter skerp gestyg as gevolg van die beduidende verswakking van die wisselkoers oor ’n jaartydperk.

Tabel 2 toon internasionale insekdoderpryse per aktiewe bestanddeel oor ’n jaartydperk aan. Die eerste gedeelte van die tabel is die pryse in dollars, terwyl die tweede gedeelte dieselfde pryse aandui in randwaarde. In dollarwaarde het alle insekdoders oor ’n jaartydperk gedaal. As gevolg van die verswakking van die rand, styg die prys van die aktiewe bestanddele egter in randwaarde oor ’n jaartydperk.

Moontlike pryse
Behalwe vir enkele aktiewe bestanddele, lyk dit of internasionale chemiese pryse afwaarts neig. Nader aan die somergewasplantseisoen gaan die waarde van die rand en inperkingsmaatreëls in Europa en China beslis bepaal wat produsente vir middels gaan opdok vanaf September en Oktober.

Klik op die ikoon om na ’n potgooi te luister waarin Corné Louw, (senior ekonoom, Graan SA) ’n kort opsomming van hierdie artikel gee.