Ottosdal-proewe keer dié kennis dalk op sy kop

Gepubliseer: 12 Junie 2020

496

André Nel,
onafhanklike akker-boukundige
Dr Hendrik Smith,
bewaringslandboufasi-liteerder, Graan SA

Susan Koch,
LNR-Plantgesondheid
en -beskerming

Proefwerk deur die Ottosdal Geenbewerkingsklub dui tans daarop dat die wisselbou-effek onder geenbewerking verskil van die wisselbou-effek wat in bewerkte grond gevind is. Die verskil kan bes moontlik aan die verandering in die gesondheid van die grond toegeskryf word.

Wisselbou is ’n baie ou praktyk in gewasverbouing. Trouens, dit was waarskynlik een van die belangrikste praktyke wat die volhoubaarheid van gewasproduksie bevorder het voor die grootskaalse gebruik van chemikalieë.

Die koms van kunsmis, onkruiddoders en plaagbeheermiddels gedurende die twintigste eeu het die noodsaaklikheid van wisselbou op die agtergrond geskuif. So het die monokultuurverbouing van mielies ’n houvas begin kry weens, onder meer, die ekonomie daarvan, die beskikbaarheid van mieliereste as winterweiding en die relatief laer bestuursvereistes wat dit gestel het teenoor die vereistes wat verskillende gewasse gesamentlik stel.

Uit ’n besigheidsoogpunt is gewasdiversifikasie, wat met wisselbou gepaard gaan, ’n belangrike meganisme om produksie- en finansiële risiko’s te bekamp. ’n Droogteperiode gedurende die verloop van ’n seisoen het gewoonlik nie dieselfde impak op verskillende gewasse nie. Een jaar trek die een gewas die wa deur die spreekwoordelike drif en die volgende jaar doen die volgende gewas dit – veral in die droë westelike dele van die somergraanproduksiegebied. ’n Sogenaamde wisselbou-effek kom ook dikwels voor, waar ’n gewas soos mielies se opbrengs deur wisselbou met byvoorbeeld ’n peulgewas, verhoog word en die wins dus ook verhoog.

Tot en met die koms van bewaringslandbou is al die navorsing om die wisselbou-effek te kwantifiseer in bewerkte grond gedoen. Dit is dus in grond waarvan die organiese materiaal drasties verlaag het en die mikrobe-aktiwiteit ontwrig is. Kortom, gedegradeerde of afgetakelde grond met ’n lae gesondheid. Een só ’n proef op bewerkte grond is naby Ottosdal uitgevoer.

Wisselbou in bewerkte grond
’n Wisselbouproef is vanaf die 1997/1998-seisoen, oor ’n periode van vier jaar, op die plaas Holfontein gedoen. Dit is daarna vir ’n verdere vyf jaar op die plaas Noodshulp voortgesit. Dit kan aanvaar word dat die gesondheid van die proefgrond weens etlike dekades se bewerking reeds afgetakel was. Die doel was om die wisselbou-effek van verskillende gewasse op mielies in ’n statisties uitgelegde proef te ondersoek. Dit was dus moontlik om vas te stel of ’n opbrengsverskil tussen twee wisselboustelsels toevallig is of aan die wisselboustelsels toegeskryf kan word.

Deur die monokultuurmielies se opbrengs as verwysing te gebruik, is die opbrengs van mielies na sonneblom in vier van die nege seisoene nie beïnvloed nie, in vier was die opbrengs tot soveel as 1,1 t/ha-1 laer en in slegs een seisoen is die opbrengs met een ton verhoog. Die invloed van sonneblom op die opbrengs van opvolgmielies in bewerkte lande is as neutraal tot negatief beskryf, met ’n klein kans om dit te verhoog.

Sojabone het die daaropvolgende mielies se opbrengs in twee seisoene met 0,61 t/ha-1 en 0,77 t/ha-1 verhoog. In die oorblywende sewe seisoene was daar geen invloed nie. Die invloed van sojabone op die opbrengs van opvolgmielies in bewerkte grond was dus neutraal tot positief.

Sedert die genoemde proef gedoen is, het bewaringslandbou in die Noordwes Provinsie en veral in die Ottosdal-omgewing begin posvat. Die beginsels van bewaringslandbou is die nou al bekende minimum grondversteuring (geenbewerking indien moontlik), organiese grondbedekking deur die behoud van ’n deklaag van oesreste en/of dekgewasse asook gewasdiversifikasie of wisselbou. Onder bewaringslandbou word grond- organiese materiaal opgebou wat ’n gunstige habitat vir mikroörganismes skep. Die grond se gesondheid begin dus herstel.

Die Ottosdal Geenbewerkingsklub is in 2013 gestig met die doel om bewaringslandboupraktyke te ondersoek en akkerboukundige riglyne daar te stel. Een van die aspekte waarop besluit is, is om vas te stel of die wisselbou-effek wat in bewerkte grond gevind is, ook in geenbewerkte grond met ’n deklaag geld.

Wisselbou onder geenbewerking
’n Wisselbouproef is in 2013/2014 op die plaas Humanskraal uitgelê, waar akkerbone, graansorghum, mielies, sojabone, sonneblom en voersorghum in wisselbou met mekaar en in monokultuur verbou word. In die eerste seisoen is ses gewasse in 18 m breë stroke langs mekaar geplant. In die tweede seisoen is die rigting van die stroke loodreg verander om in die derde seisoen weer na die rigting en posisie van die eerste seisoen terug te keer. Deur die wisseling van die plantrigting oor seisoene voort te sit, is persele geskep waar elke gewas met elk van die ander gewasse afgewissel asook in monokultuur verbou word. Aangesien die proef nie herhalings het nie, sou dit onwetenskaplik wees om opbrengsverskille wat binne ’n bepaalde seisoen voorkom aan die effek van wisselbou toe te skryf. Indien ’n bepaalde opbrengsverskil egter gereeld voorkom, is dit ’n sterk aanduiding dat ’n wisselbou-effek bestaan.

Vyf seisoene het reeds verloop en die opbrengs van mielies is soos volg deur sojabone en sonneblom beïnvloed. Die mielie-opbrengs na sojabone was in drie seisoene tussen 0,22 t/ha-1 en 1,6 t/ha-1 laer, in een seisoen 0,98 t/ha-1 hoër en in een seisoen gelyk aan die opbrengs van mielies in monokultuur. In die geval van sonneblom was die mielie-opbrengs in een seisoen laer (0,49 t/ha-1), in drie seisoene met tussen 0,11 t/ha-1 en 0,9 t/ha-1 hoër en in een seisoen gelyk aan die opbrengs van monokultuurmielies.

Dit lyk dus of die resultate van die geenbewerkingswisselbouproef nie met die resultate van die vorige wisselbouproef onder bewerking ooreenstem nie. Die wisselbou-invloed van sojabone op die opbrengs van mielies het van positief/neutraal na neutraal/negatief verander. Sonneblom se invloed het oënskynlik van oorwegend neutraal/negatief tot oorwegend positief verander. Die wisselbou-effek en die akkerboukundige riglyne wat vir wisselbou in bewerkte grond van toepassing is, blyk dus nie van toepassing vir geenbewerking te wees nie.

Grondgesondheid
Grondgesondheid is belangrik vir die prestasie van gewasse, maar tydens die uitvoering van die bewerkte wisselbouproef het dit nie aandag geniet nie. In die geenbewerkingswisselbouproef word die Haney-grondgesondheidswaarnemings tans op sekere persele gedoen – en die resultate is insiggewend. ’n Belangrike waarde in dié opsig is die grondgesondheidsindeks. Dit is ’n indekswaarde wat bereken word uit die mikrobiologiese aktiwiteit en die water-ekstraheerbare koolstof en stikstof. Die ideaal is dat die indekswaarde hoër as sewe moet wees.

Die gemiddelde indekswaardes van monsters wat in Augustus 2019 en Februarie 2020 geneem is, is 7,65 vir die sonneblom/mielie­stelsel, wat hoër is as die 6,65 van die mieliemonokultuurstelsel. Die sojaboon/mieliestelsel se indekswaarde is maar 5,20. Tans lyk dit dus of dié indekswaardes ooreenstem met dit wat met die opbrengs van mielies in wisselbou met sojabone en sonneblom gebeur. Grondgesondheid het moontlik ook ’n sigbare kant. Die afsterf van die oudste mielieblare laat in die seisoen is waarskynlik ’n sigbare simptoom van die verskil in die gesondheid van die grond (Foto 1 en Foto 2).

In menige seisoen is daar ’n duidelike verskil in die afsterf van die oudste mielieblare in verskillende wisselboustelsels, wat gewoonlik ook in die opbrengs weerspieël word. Foto 1 is mielies na graansorghum en Foto 2 mielies na sonneblom. Dié sigbare verskil is bes moontlik ’n aanduiding van die verskil in die gesondheid van die grond.

Sonneblom en grondgesondheid
Waarom sou sonneblom dan die gesondheid van die grond soveel meer as sojabone bevoordeel? Die antwoord lê waarskynlik in die invloed van spesifieke gewasse op grondgesondheid, spesifiek die grondbiologie of -biodiversiteit. Gevorderde tegnologie en analises help om lig te werp op wat met die mikrobiologiese populasies in die grond gebeur onder verbouing van sekere gewasse. Gedurende die 2016/2017-seisoen is ’n multidissiplinêre grondbiologie- en grondchemie-ondersoek gedoen met befondsing van die destydse Departement van Wetenskap en Tegnologie.

Die span is deur navorsers van die Landbounavorsingsraad (LNR), die privaat sektor en die National Agricultural Technology Institute (INTA) in Argentinië verteenwoordig. ’n Belangrike fokuspunt van die studie was om na die metagenomiese samestelling van bakterieë en swamme in die grond rondom die gewas se wortelstelsel te kyk. Werkende taksonomiese eenhede is geïdentifiseer en statisties ontleed. Die ontleding van die swamme het getoon dat daar wel ’n digter mikrobiologiese swampopulasie rondom sonneblomwortels ontwikkel, wat statisties van dié van die mielies en sojabone verskil. In die geval van bakterieë was daar geen betekenisvolle verskil in die digtheid van populasie tussen die van sonneblomme en mielies nie. In beide gevalle het sojabone nie noemenswaardig tot grondgesondheid bygedra nie. Dit lyk dus of sonneblom ’n goeie kandidaat is om die gesondheid van die grond onder geenbewerking in ’n wisselboustelsel te bevorder.

Bewerking van die grond ontwrig grondmikrobes tot so ’n mate dat die aktiwiteit en samestelling onder verskillende gewasse geneutraliseer word en totaal anders daar uitsien as onder geenbewerking. Sonneblom blyk in die opsig ’n goeie voorbeeld te wees.

Toekoms
Die gesondheid van grond verander ongelukkig nie oornag nie en die toekoms sal leer of die grondgesondheid- en opbrengsverskille wat tot dusver gevind is, sal voortduur. Ander proewe in die Ottosdal-projek wys egter reeds dat groter diversiteit in die bewaringslandboustelsel deur die insluiting van dekgewasse en vee, die grondgesondheid baie vinniger verbeter. Soos wat die data vermeerder, sal kennis en riglyne oor wisselbou in bewaringslandboustelsels (wat ook dekgewasse en vee insluit) se invloed op die grondgesondheid, produktiwiteit, risiko en winsgewendheid duideliker word. Daarvolgens sal die beste akkerboukundige riglyne geformuleer kan word.

Dit is egter voorlopig goeie nuus dat sonneblom die grondgesondheid in bewaringslandbou bevoordeel, aangesien sonneblom naas mielies die belangrikste kontantgewas in die gebied is en noodwendig in wisselbou met mielies verbou word.

Erkenning gaan aan lede van die Ottosdal Geenbewerkingsklub vir die toegewyde uitvoering van die proewe en aan Rian Pierneef (LNR) en Valeria Faggioli (INTA, Argentinië) wat onbaatsugtig die gevorderde statistiese ontledings gedoen het.