Jongste saadpryse sê mekaar die stryd aan

Gepubliseer: 12 Junie 2020

1330
Corné Louw
Senior ekonoom, Graan SA, corne@grainsa.co.za
Ikageng Maluleke
Junior ekonoom, Graan SA, ikageng@grainsa.co.za

Insetprysmonitering is een van die belangrike take wat Graan SA namens sy lede verrig. Dit sluit die monitering van saadpryse – nie net jaarliks nie, maar oor tyd – in.

Alhoewel Graan SA se Produksie/Insetwerkgroep bykans twee maal per jaar met saadmaatskappye vergader, kan daar nie aan hulle voorgeskryf word wat met pryse moet gebeur nie. Daar word wel reguit oor Graan SA-lede se kommer oor stygende saadpryse gepraat. Tydens hierdie besprekings word klem gelê op die weerstand wat ál meer teen stygende saadpryse ervaar word sowel as die ekonomiese toestand waarin produsente hulself bevind. Of Graan SA wel hierin slaag, is moeilik om te meet.

Die een aspek waarmee wel sukses behaal word, is om saadpryse vir lede so deursigtig as moontlik te maak en kompetisie in die saadbedryf te bevorder. Naas kunsmis is saad ’n somergraanprodusent se grootste insetkoste – en saadpryse is beslis die koste waarmee graanprodusente tans die meeste worstel.

Afhangende van die plantestand, maak saad as produksie-inset tussen 10% en 17% van ’n mielieprodusent se lopende produksiekoste uit. Gegewe uitstekende navorsing in genetika en tegnologie, bly saad een van die belangrikste insette om opbrengste en produktiwiteit in die graanbedryf te verhoog. Dit is daarom uiters belangrik dat produsente die regte kultivars kies, prys en opbrengspotensiaal teen mekaar opweeg sowel as risikoverspreiding doen. Produksiewinsgewendheid teenoor die hoogste opbrengs moet ook hier in ag geneem word.

Wat sojabone betref, het ’n teling-en-tegnologieheffing op 1 Maart 2019 in werking getree. Soos daar in die tweede jaar van die heffing inbeweeg word, begin die voordele van dié stelsel reeds sigbaar raak. Daar is ten minste vier nuwe kultivars wat die mark kommersieel betree. Verder het sojaboonsaadpryse op ’n gemiddelde basis met 6,8% gedaal, terwyl sekere maatskappye hul pryse gemiddeld met tot 20% verlaag het.

Kultivars verskil ten opsigte van een of meer van ’n verskeidenheid eienskappe en elkeen het ’n unieke aanpasbaarheid en opbrengspotensiaal. Volgens die LNR-Graan­gewasse stel hierdie kultivarverskeidenheid alternatiewe beskikbaar wat goed benut kan word. Die volgende is belangrike riglyne vir kultivarbeplanning wat oorweeg moet word:

  • Moet nooit ’n staatmakerkultivar binne een seisoen met ’n nuwe of onbekende een vervang nie.
  • Kultivarverskeidenheid versprei risiko. Plant ’n reeks kultivars wat verskil in groeiseisoenlengte en eienskappe.
  • Kultivars moet aanpas by ’n spesifieke opbrengspotensiaal, maar moet ook in staat wees om aan te pas by hoër- en laerpotensiaaltoestande.
  • Hersien kultivars jaarliks.

Saadpryse
Mieliesaadpryse het vir die 2020/2021-produksieseisoen gemiddeld met 2,2% gestyg. Op ’n gemiddelde basis het sonneblomsaadpryse met 5,8% gestyg en graansorghumsaadpryse met 6,9%. Sojaboonsaadpryse het met 6,8% gedaal. ’n Goeie barometer om prysstygings teen te meet, is die produsenteprysindeks (PPI). Vir 2020 tot dusver was die gemiddelde PPI-styging 4,5%. Op ’n gemiddelde basis het sonneblomsaad- en graansorghumsaadpryse dus die produksiekoste-inflasie oorskry.

Sien Tabel 1 tot Tabel 4 vir prysvergelykings in rand tussen verskillende maatskappye. Let wel dat pryse kan verskil afhangende van pitgroottes en saadbehandelings.

Riglyne met die aankoop van saad
Daar is ’n aantal faktore waarop produsente moet ag slaan wanneer hulle saad aankoop:

  • Wees daarop bedag dat pryse vir verskillende verpakkings geld, byvoorbeeld 18 kg-, 20 kg- en 25 kg-sakkies of pitverpakkings van 60 000 of 80 000 pitte per sakkie. By sonneblomsaad is daar ook verpakkings met 150 000 en 200 000 pitte per sakkie en by sojabone 140 000 pitte per sakkie.
  • Nuwe kultivars is merendeels die duurder kultivars. Verseker dat die kultivars onafhanklik getoets is en dat die prestasie bewese is. Moet nie onnodig groot risiko’s met ’n nuwe kultivar loop nie!
  • Neem kennis van die agronomiese eienskappe, aanpasbaarheid, opbrengsprestasie en -stabiliteit, kwaliteitseienskappe asook siekte- en plaagweerstand van ’n spesifieke kultivar voor dit aangekoop word.
  • Maak seker tydens aankope dat die kwaliteit van die saad aan al die vereistes voldoen (ook aan wat op die sakkie staan), veral ten opsigte van eenvormige pitgrootte en pitvorm.
  • Wanneer GM-kultivars (Bt- of RR- of dubbelgeenkultivars) aangekoop word, maak seker dat die tegnologiefooi by die prys ingesluit is en dat konvensionele mielies vir die toevlugsarea bykomend aangekoop word. Almal wat die saad hanteer moet ook GM-eienskappe op saadsakke kan uitken en dit van konvensionele kultivars kan onderskei.
  • Sekere saadlotte word met middels behandel wat ’n verskil aan die prys maak.
  • Beding vir korting waar moontlik. Verskeie maatskappye het korting­strukture vir volume-aankope, bevestiging van bestelling, vroeë lewering en vroeë betaling.
  • Kontak saadmaatskappye en hul verteenwoordigers vir meer volledige besonderhede rakende pryse en verskillende verpakkings.

Behandeling van saad
Saadmaatskappye waarborg nie die kwaliteit van saad indien saadbehandeling nie deur die maatskappy self of deur ’n geregistreerde chemiese verskaffer, wat toerusting en prosesse gebruik wat ISO-geakkrediteer is, gedoen word nie. In die geval waar ’n chemiese verskaffer die behandeling doen, moet hy kan verseker dat die behandeling nie die ontkieming beïnvloed nie.

Die chemiese middel wat gebruik word, moet ook onder Wet Nr. 36 van 1947 geregistreer wees en verkieslik deur die saadmaatskappy vir die spesifieke kultivar aanbeveel word. Behandeling van Rhizobium is uitgesluit.

Dit word dus aanbeveel dat produsente wat nie reeds behandelde saad aankoop nie en dit later wil laat behandel, dit in samewerking met die saadmaatskappy moet doen.

Riglyne vir die aanplant van Bt-mielies
Met die aankoop van Bt-saad word ’n tegnologie-ooreenkoms onderteken, waarin ’n produsent onderneem dat die saad volgens voorgeskrewe riglyne aangeplant sal word. Een van die belangrikste riglyne sluit die plant van ’n toevlugsarea in. Daar is twee opsies wat gevolg kan word: ’n 5%-aanplanting van nie-Bt-saad waar stronkboorders nie chemies beheer mag word nie, óf ’n 20%-aanplanting van nie-Bt-saad waar die chemiese beheer van stronkboorders wel toegepas mag word.

Indien die 5%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies uit 5 ha nie-Bt-mielies en 95 ha Bt-mielies bestaan. Sou die 20%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies uit 20 ha nie-Bt-mielies en 80 ha Bt-mielies bestaan. Bykomend tot die vereiste persentasie nie-Bt-mielies, is daar ook spesifieke maatreëls wat geld by die aanplanting van ’n toevlugsarea. Toevlugsareas moet onder meer so geposisioneer word dat Bt-mielies nie verder as 400 m vanaf ’n toevlugsarea aangeplant word nie en dat ten minste twee buite­grense van die Bt-aanplanting gedek word. Die toevlugsarea mag nie uit minder as ses rye bestaan nie en toevlugplante mag nie tussen Bt-plante geposisioneer wees nie.

Mielies wat in die toevlugsarea geplant word, moet dieselfde groeitempo as die Bt-mielies hê en moet ook binne sewe dae van mekaar geplant word.