Hanteer paniek en spanning in hierdie tye só

Marietjie du Toit, Mesites Christen Akademie
Gepubliseer: 12 Junie 2020

96

Onsekere tye soos die wat ons tans beleef, is ’n ware teelaarde vir stres, paniek en angstigheid, maar wat nou daarmee gemaak? Hoe hanteer en oorkom ek dit?

Ek glo dié vrae is al deur ons almal gevra, en ek deel graag ’n paar feite en wenke met jou. Ek skryf vandag vir jou op ’n persoonlike vlak, want glo my, elkeen van ons gaan deur stresvolle en onsekere tye waarin ons onder meer angstigheid, paniek en vrees beleef. Die beste manier om dié derduiwel te hanteer, is om dit te verstaan. Begrip stel jou in staat om ’n strategie daar te stel om dit te hanteer en te oorwin.

Emosies soos magteloosheid en die gevoel van buite-beheer-wees, kan paniek en angs tot gevolg hê. Om stres en angs te hanteer, is dit belangrik dat ons sal verstaan dat ’n stresvolle situasie ’n impak op alle fasette of dimensies van ons menswees het. Dit beïnvloed ons na gees, siel en liggaam. Ek verduidelik dit sommer gou so: Sodra jy jouself in ’n stresvolle situasie bevind, reageer jou brein op die boodskap wat hy vanuit sy omgewing ontvang. Die vloei van inligting is soos volg: Jy neem iets waar, gee ’n betekenis daaraan en jou brein reageer dan op die boodskap (betekenis/interpretasie) wat hy ontvang. Indien die boodskap wat jou brein ontvang ’n negatiewe of bedreigende inhoud het, sal jou brein reageer vanuit die boodskap van gevaar. Dan word die stresreaksie geaktiveer ten einde jou liggaam in staat te stel om te veg of te vlug.

Die veg-of-vlug-aksie is ’n poging om jouself te beveilig en uit die stresvolle situasie te ontsnap. Die hele veg-of-vlug-proses begin deurdat die stresreaksie (simpatiese senuweestelsel) geaktiveer word. Onder meer word die adrenalienkliere geaktiveer en jou liggaam ontvang dié hormoon om jou in staat te stel om te veg of te vlug. Die adrenalien in jou liggaam kan jou angstig laat voel (asof jy ’n krieweling onder jou vel het), jou maag kan op ’n knop wees en jy kan hipersensitief voel. Terselfdertyd word die aggressie-emosie geaktiveer, wat jy tog nodig het om te kan veg of vlug.

Dalk kan jy met dié beeld, wat ons produsente goed sal verstaan, identifiseer: Dis soos ’n perd wat net wil uitbreek, maar hy word met ’n stang in sy bek teruggehou. Sy hele liggaam bewe en hy trippel rond van die krag en opwinding. Met die geringste hoeveelheid wat jy skietgee, bars hy met krag na vore. Voel jy so? Die stressituasie is dalk van so ’n aard dat jy dit nie kan beveg of wegvlug nie. Wat nou gemaak? Onthou, jou brein reageer op die boodskap wat hy ontvang. Jou brein moet dus ’n boodskap kry dat jy veilig is en dat die gevaar verby is. Die boodskap stel jou brein in staat om die stresreaksie te staak en ’n proses (parasimpatiese senuweestelsel) vir herstel word geaktiveer, wat jou liggaam weer na sy normale staat van funksionering/balans laat terugkeer.

Indien jou liggaam in ’n staat van stres bly, kan dit jou immuniteit afbreek, wat jou kwesbaar maak vir siektes. Dalk sê jy dis makliker gesê as gedaan. Die vinnige terugkeer na ’n staat van balans is egter moontlik in ideale omstandighede, wat ons nie noodwendig het nie. Ons is deurlopend blootgestel aan stresvolle en onsekere situasies, wat tot gevolg het dat die herstel nie plaasvind nie. Om dié rede is dit noodsaaklik dat sekere intervensies gemaak moet word, ten einde jou liggaam te help om te herstel na ’n staat van balans.

Noudat jy in kort verstaan wat die stresreaksie is en hoekom jy voel soos jy voel, kan jy iets daaraan doen. Die strategie om die stres te hanteer en te oorwin, is om in al drie die dimensies van jou menswees ’n intervensie te maak. Soos jy gesien het, is die boodskap wat jou brein ontvang die deurslaggewende aspek van hoe jy in ’n stressituasie gaan reageer.

In die fisiese of liggaamsdimensie is dit noodsaaklik om so gou moontlik vir jouself struktuur te skep en iets fisies te doen wat vir jou brein die boodskap deurgee dat jy in beheer is. Sodra jou brein ’n boodskap van buite-beheer-wees en magteloosheid kry, interpreteer hy dit as gevaar. Dit aktiveer die stresreaksie. Net so is die teenoorgestelde waar: As jou brein die boodskap kry dat jy in beheer is, sal hy nie die stresreaksie aktiveer nie.

Op die sielsdimensievlak is dit noodsaaklik dat jou denke positief is, want jou emosies volg jou denke. Hier praat ek nie van positive thinking nie, maar wel van denke wat in die waarheid gegrond is. Jou denke word gevorm deur wat jy glo. Jou denkproses begin by dit wat jy glo, wat gevorm word uit waarheid, vorige ondervinding en ervaring. Jy moet egter kies of jou denke deur die waarheid gevorm word en of dit uit jou vorige ervaring/ondervinding gerig word. Met ander woorde, dit wat jy glo, vorm jou denke en dan volg die emosies en jou gedrag. Ek wil dit graag so voorstel: geloofsbeginsels (mind) → denke (thoughts) → emosies (feelings) en/of gedrag. Dit help natuurlik ook altyd om met iemand te praat wat jy kan vertrou.

Marietjie du Toit is ’n sielkundige en religieuse spesialis in Christelike pastorale berading, verbonde aan die Mesites Christen Akademie.

Die belangrikste plek van intervensie is dus by wat jy glo. Glo jy die waarheid of glo jy die situasie? Waar lê jou beheer? Binne jouself in jou geesdimensie of buite jouself in die wêreldgebeure? Toets alles aan die hand van die waarheid (dit wat jy weet) en nie aan die hand van jou emosies (hoe jy voel) nie. Die waarheid maak vry: “… en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak” (Joh. 8:32) en “… laat God julle verander deur julle denke te vernuwe” (Rom. 12:2). Die Engelse vertaling verduidelik dit so: “This (denke wat vernuwe is) takes place in the spirit of your mind, as we come to know Him, our minds are renewed in accordance to that knowledge of Him.”

Dit is ook my gebed vir jou in hierdie tye van onsekerheid, dat jy sal staan op die Rots van Waarheid (Ps. 18:3) en dat jou gedagtes vernuwe sal word, met jou oë gerig op Jesus wat reeds die stryd oorwin het (Joh. 16:33) en dat jy sal lewe saam met Hom vanuit sy oorwinning vir jou (2 Kor. 2:14).