Een besluit kan jou hele lewe beïnvloed

Louise Kunz, SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 12 Junie 2020

210

Mariana Purnell, sedert Augustus 2013 die hoofbestuurder van Agbiz Grain, tree aan die einde van Junie 2020 af, maar dit beteken geensins dat sy haar graanskoene gaan uittrek nie. Sy is reeds sedert Maart 2004 in die graanbedryf betrokke en gaan vir eers aanbly as die voorsitter van Cereal Science and Technology SA (CST-SA). Dan begin sy ook eersdaags ’n konsultasiebesigheid in die graanbedryf. “Die ander aktiwiteite sal mettertyd afskaal soos wat my opvolger oorneem,” voeg sy by.

Tweede keuse word passie
Hoewel sy by verstek in die landbou beland het, het sy haar ten volle toegewy aan dié sektor en groot mylpale bereik. “My loopbaan in die landbou was baie vervullend. Dit het my linker- en regterbreinbehoeftes vir wetenskap, taal én kreatiwiteit bevredig.”

Mariana, wat in Oos-Londen gebore en getoë is, wou graag aptekerswese studeer, maar met die Universiteit van Port Elizabeth op hul voorstoep, sou dié droom nie verwesenlik kon word nie. Op die dag van inskrywing het sy beperkte keuses gehad en die besluit geneem om vir eers ’n suiwer BSc-graad aan te pak – wat uiteindelik ’n groot invloed op haar loopbaanrigting sou hê.

Aan die einde van Junie tree Mariana Purnell af as hoofbestuurder van Agbiz Grain.

Met plant- en dierkunde as hoofvakke, het sy ’n geleentheid vir verdere studies in die plantkundedepartement gekry toe haar professor haar vir die WNNR-beurs genomineer het om haar BSc(Hons) in plantfisiologie aan te pak. Sy het ook later ’n MSc-graad in plantweefselkultuur verwerf. Vir Mariana is kennis noodsaaklik en sy het verskeie bestuurskursusse voltooi en ook talle ander kwalifikasies verwerf.

Danksy ’n skoolprojek oor die pynappelbedryf was sy bewus van die destydse Departement van Landbou se pynappelproefplaas in Oos-Londen se bestaan. Ná die voltooiing van haar studies het sy daar aangeklop vir ’n pos en was sy dus aan die begin van haar loopbaan vir ’n geruime tyd by tropiese en subtropiese gewasse by die Landbounavorsingsraad (LNR) betrokke.

Sy erken dat sy steeds ’n sagte plek in haar hart vir die pynappelbedryf het. Haar aanvanklike aftreeplan was om by dié bedryf betrokke te raak, maar die lewe het anders verloop en vir nou bly Pretoria haar tuiste.

Op die vraag of sy steeds dieselfde rigting sou inslaan as sy in 2020 moes matrikuleer, antwoord sy: “Omdat ek nie regtig ’n loopbaanrigting gekies het nie – net geweet het dat ek in die wetenskap wil wees – sal ek seker weer dié keuse maak, nou meer as ooit. Met die konvergensie en oorvleueling van wetenskaplike dissiplines is daar nou baie meer opwindende moontlikhede wat eksponensiële ontwikkeling moontlik maak.” Sy het egter ook ’n groot passie vir skryf, redigering en lessenaarsetwerk (desktop publishing).

Mariana glo dat ’n mens nooit van die begin af in die ideale beroep beland nie. “Jy maak langs die pad keuses wat jou skoei en die regte rigting aandui, sodat jy jou hart volg en aanhou groei om jou potensiaal te vervul,” deel sy. Sy glo ook dat ’n mens nooit nee sê vir werk nie. “Jy doen dit en leer daaruit.” Sy voeg by dat kollegas natuurlik ook ’n groot rol speel in jou loopbaanontwikkeling.

Toegewy aan die graanbedryf
Haar ontwikkeling in die graanbedryf het momentum gekry toe sy in 2004, waar sy die bestuurder: Korporatiewe Skakeling by die LNR was, na Senwes geskuif het. Hier is sy as bestuurder: Spesiale Projekte in die Landboudienste-afdeling aangestel en sy het later die posisie bestuurder: Spesiale Produkte by Grainlink gevul tot haar huidige aanstelling ingetree het. “Ek het niks van graan en oliesade geweet toe ek by Senwes begin werk het nie. My kollegas het bygedra tot die kennis wat ek vandag oor die graanbedryf het.” Heelwat van dié kollegas het dan ook haar rolmodelle in die bedryf geword.

As hoofbestuurder van Agbiz Grain het Mariana verskeie prestasies op haar kerfstok. Sy het ’n jaarlikse graansimposium geïnisieer waardeur die bedryf inligting kon bekom oor nuwe ontwikkelinge en aangeleenthede wat die graan- en oliesadebedryf raak. Sy het in 2015 die leiding geneem met die eerste uitstalling van die waardeketting vir graanbedrywe in die parlement ter viering van Wêreldvoedseldag. In 2019 het sy ook die inisiatief aan die dag gelê om ’n georganiseerde bedryfsbyeenkoms te reël tussen verskillende bedryfsliggame en studente van graan en oliesade om werksgeleenthede in die bedryf te bevorder.

Van die grootste veranderings waarby sy in die graanbedryf betrokke was, is die volgende:

  • Die Graansilo-industrie se verandering na Agbiz Grain met die gepaardgaande uitbreiding van die instansie se fokus.
  • Om op die raad te wees van die aanvanklike bestuur van die Grain Farmer Development Association wat vir die kommersialisering van kleinboere gestig is.
  • Die vestiging van die South African Cultivar and Technology Agency (SACTA).

Vir haar was die grootste verandering in die graanbedryf in haar 16 jaar beslis die proses om opbergingsfasiliteite gereed te kry om aan voedselveiligheidsvereistes te voldoen en ook die geleenthede wat identiteitspreservering van graangewasse bied.

Daar was vele uitdagings en moeilike tye in haar loopbaan – een van die eerstes waarmee sy gekonfronteer is, was om hoog bo in ’n silogaandery te moes loop tydens voedselveiligheidsinspeksies. “Ons moes soms al die trappe uitklim, omdat daar nie hysers was nie.” Op ’n ernstiger noot was die moeilikste kwessie die afgelope paar jaar vir haar die vele uitdagings wat heers in die rade van sommige industrieliggame. Die besluitneming oor befondsing vir navorsingsprojekte in die mielie- en koringbedryf in moeilike omstandighede, waar die behoeftes al hoe meer word en die geld al hoe minder, is nog ’n uitdaging wat haar sal bybly.

Sy is positief oor die toekoms van die graanbedryf en landbou in Suid-Afrika. “Die graanbedryf is die fondasie van basiese voeding vir mens en dier in Suid-Afrika én Afrika, selfs wyer na die Ooste. Die graanbedryf kan net groei en sterker word. Produsente moet ag slaan op die voorspellings vir klimaatsverandering en vooruit dink hoe hulle kan aanpas en steeds volhoubaar boer. Opbergers moet nuwe tegnologie in die opberging en hantering van graan aangryp.”

In haar opinie kan die vinnigste veranderinge teweeggebring word met aansporings rondom bewaringslandbou en al die goeie aspekte van grondbestuur asook die veefaktor wat daarmee saamgaan. “Versekeringsmaatskappye en finansiers van landbou kan ’n groot rol speel deur toepaslike insentiewe om vinnig en doeltreffend ’n omwenteling te bewerkstellig,” noem sy.

Een van die groot probleemareas wat sy graag sou wou aanspreek terwyl sy nog betrokke is in die graanbedryf, is die gedeeltelike terugskuif van padvervoer na Transnet se spoorvragvervoer. Volgens haar lê daar reusepotensiaal opgesluit in hierdie skuif na die konsep van ’n hub-and-spoke-vervoersisteem wat pad- en spoorvervoer kombineer.

’n Loopbaan vol hoogtepunte
Vir Mariana is haar loopbaan en persoonlike lewe so nou verweef dat hoogte- en laagtepunte in die een die ander beïnvloed. ’n Week nadat sy in Pretoria by Agbiz Grain begin werk het, het sy uitgevind sy het kanker. Sy het dié struikelblok egter met haar lewensleuse aangepak: “When the going gets tough, the tough get going.” Ten spyte van chemoterapie en bestraling was sy elke dag op kantoor. Dit was egter een van die moeilikste tye in haar loopbaan.

In 1995 het sy die grootste omwenteling van haar loopbaan beleef. Sy het Suid-Afrika verlaat om op ’n vierjaarkontrakbasis as landbouwetenskaplike verteenwoordiger by die Suid-Afrikaanse ambassade in Washington in die Verenigde State van Amerika (VSA) te werk. “Die interaksie met die Wêreldbank, die Amerikaanse Departement van Landbou (USDA), die VSA se Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling (USAID) en universiteite was baie opwindend. Dit was besonder vervullend om die regte verbintenisse met die LNR te bewerkstellig om samewerking op landbouwetenskaplike gebied te bevorder.”

“Ons het ook as voorbeeld van die LNR se samewerking met die USDA ’n nuut geteelde Ornithogalum (tjienkerientjee) vrygestel. Dit is vernoem na die Amerikaanse visepresident, Al Gore, se vrou – Tipper.” Dié projekte was hoog op die lys van die landboufokus vir die Gore/Mbeki-ooreenkoms en het heelwat finansiële ondersteuning gewerf vir die werk van die LNR se fynbosnavorsingseenheid. Dit is iets wat steeds vandag as ’n hoogtepunt in haar loopbaan uitstaan en waarop sy die trotsste is.

Mariana het tydens die 2019 FOSS- internasionale graannetwerkvergadering in Athene, Griekeland, ’n aanbieding gedoen oor die herlewing van die Suid-Afrikaanse koringbedryf deur kwaliteitsbestuur. Sy was ’n gereelde spreker by dié kongres wat elke jaar in ’n ander Europese land plaasvind.

Nog ’n loopbaanhoogtepunt was om as gasspreker genooi te word na die heel eerste internasionale pynappelkonferensie wat in 1992 in Hawaii plaasgevind het.

Aftrede – ’n tyd om te floreer
Met aftrede voor die deur, weet sy dat sy haar kollegas en ander mense in die bedryf, die vergaderings, die debatte en die wonderlike tye wanneer ’n plan uitwerk asook die wonderwêreld van inligting waaraan ’n mens blootgestel word, gaan mis.

Hoe sal iemand wat soveel bereik het graag onthou wil word? “As iemand wat altyd geveg het vir reg en geregtigheid,” sê sy.

Vir haar is die ideale plek om te ontsnap van die gejaagde lewe die Nasionale Krugerwildtuin of ’n rustige kuier by die see saam met vriende. Sy hoop dat sy weer eendag, as die stof rondom die Covid-19-pandemie gaan lê het, sal kan reis – plaaslik en internasionaal.

Tot dan sal haar betrokkenheid by haar plaaslike Rotariër-klub en dié organisasie se bedrywighede haar besig hou. Hierdie diensorganisasie het ten doel om sakelui en professionele leiers bymekaar te bring om humanitêre diens te lewer en om welwillendheid en vrede regoor die wêreld te bevorder.

Verder dien sy op die raad van die National Science and Technology Forum (NSTF) en sy is op hul beoordelingspaneel vir die jaarlike NSTF-toekennings.