Nuwe ekspo se wiele reeds aan die rol

Gepubliseer: 5 Mei 2020
Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain

1386

Die NAMPO ALFA Lewendehawe-, Jag- en Buitelewe-ekspo word vanjaar vir die eerste keer van 24 tot 26 September op NAMPO Park aangebied. As lewendehawe, die buitelewe, voertuie en vuurwapens jou hart vinniger laat klop, is hierdie ekspo net buite Bothaville vir jou.

Graan SA se Bennie Zaayman wat vir die organisering van die ekspo verantwoordelik is, sê die idee vir ’n jag- en buiteleweskou op NAMPO Park bestaan al ’n geruime tyd. “Graan SA wou ’n ekspo in sentraal Suid-Afrika vestig waar produsente nuwe produkte vanuit die buitelewe- en jagbedryf eerstehands en op hulle voorstoep kan ervaar.”

NAMPO Park is ideaal toegerus vir so ’n ekspo en besoekers sal vuurwapens op ’n skietbaan kan uittoets. “Lede van die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging se Bothaville-tak sal as baanbeamptes optree, en besoekers sal die geleentheid kry om vuurwapens met mekaar te vergelyk.”

Ook wat 4×4-voertuie betref, sal besoekers die nuutste modelle kan toetsbestuur op ’n baan wat nie hoogs tegnies uitgelê is nie. “Die visie van die ekspo is om geleentheid vir deelname te bied. Eerder as om net toeskouers by die ekspo te verwelkom, wil ons hê dat elkeen deelneem en die dag geniet,” vertel Bennie.

Die ekspo kombineer ALFA, wat voorheen in Parys aangebied is en wat oor die afgelope vier jaar die grootste lewendehawe-ekspo in die land geword het, met ‘n opwindende jag- en buitelewe-afdeling. Die NAMPO ALFA-ekspo bied ALFA die geleentheid om uit te brei en selfs meer aan produsente te bied.

Uitstallers is welkom om Bennie Zaayman te kontak by 082 414 8099.

Lewendehawe, vuurwapens en voertuie vorm deel van die fokus van die NAMPO ALFA Lewendehawe-, Jag- en Buitelewe-ekspo wat vanjaar vir die eerste keer op NAMPO Park aangebied word.