Opbrengskompetisie kry nuwe baadjie

Gebupliseer: 25 Februarie 202
Dr Dirk Strydom, bestuurder: Graanekonomie en Bemarking, Graan SA

1244

Pioneer het vir drie jaar die Weeg-en-wen-kompetisie baie suksesvol in Suid-Afrika aangebied. Die kompetisie het oor die jare uitgebrei en is nou gereed om nog groter te word. Graan SA het dus met die hulp van Pioneer ’n nuwe opbrengskompetisie gevestig.

Hierdie kompetisie bied saadmaatskappye die geleentheid om hul eie kompetisies te vestig en sodoende ook die plattelandse omgewing te ondersteun. Daar is reeds baie projekte wat skole, kerke en niewinsgewende organisasies ondersteun. Die nuwe kompetisie bied almal die geleentheid om eie inisiatief aan die dag te lê, maar ook om deel te wees van die nasionale kompetisie. Individuele produsente kan inskryf vir die nasionale kompetisie en saadmaatskappye kan drie van hul beste opbrengste in elke kategorie instuur vir die kompetisie. Graan SA het saam met saadmaatskappye ’n standaardprotokol vir die kompetisie opgestel om deursigtigheid en standaardpraktyke te verseker sodat appels met appels vergelyk kan word.

Die afgelope paar seisoene was uitdagend vir produsente, met klimaatsomstandighede wat gelei het tot uitermatige finansiële verliese. Binne hierdie moeilike omstandighede het ons egter gesien dat Suid-Afrikaanse produsente wonderwerke kan verrig in terme van opbrengste. ’n Kompetisie soos dié bied nie net die geleentheid om die genetika en tegnologie se uiterstes te toets nie, maar dit gee produsente ook kans om by mekaar te leer wat moontlik is. Die hoogste opbrengs het natuurlik nie altyd die optimale winsgewendheidsvlak nie, maar dit laat produsente toe om te sien waar die grense lê en wat vermag kan word.

Soortgelyke kompetisies in lande soos Amerika en Brasilië het met goeie welslae innovasie en nuwe standaarde gevestig. Suid-Afrika kan nog beter doen! Onlangs is die nuwe wêreldrekord vir mielies in ’n soortgelyke kompetisie deur die Amerikaner David Hula opgestel, met ’n uitnemende 41,44 t/ha.

Nuut in die kompetisie is die kategorieë vir kleinskaalse boere asook koring. Koringbeoordeling en ­produksie wat in 2020 plaasvind, sal saam met die ander gewasse in 2021 aangekondig word.

Kontak Luzelle Botha (Graan SA) by 086 004 7246 vir meer inligting oor die kompetisie en hoe om in te skryf.