Kan daar op bemesting gesny word?

Gepubliseer: 25 Februarie 2020

842
Dr Johann Strauss,
senior wetenskaplike in volhoubare produksiestel-sels, Wes-Kaapse Depar-tement van Landbou
Rens Smit,
navorsingstegnikus in volhoubare produksiestel-sels, Wes-Kaapse Depar-tement van Landbou
Samie Laubscher,
navorsingskoördineerder, Wes-Kaapse Departement van Landbou

Op die vraag of ’n produsent bemesting kan verminder as hy of sy bewaringslandboupraktyke toepas, is die antwoord “ja”. Dit is egter nie ’n eenvoudige antwoord nie. Die ontwikkeling van en vordering met bewaringslandbou neem tyd en is nie ’n oornagsukses of soos die Engelsman sou sê ’n “silver bullet” nie.

Om bogenoemde stelling toe te lig, word daar aan die hand van die resultate van die langtermynbewaringslandbouproef op die Wes-Kaapse Departement van Landbou se navorsingsplaas in die Swartland, Langgewens, verduidelik hoe die stikstofbemesting oor tyd verander het en ook watter impak dit op die effektiwiteit van die bemesting gehad het.

Die Langgewens-proef het in 1996 begin, maar het eers vanaf 2002 aan al die vereistes van bewaringslandbou voldoen. Vir die eerste ses jaar is daar nog minimumbewerking gedoen – of soos dit dikwels genoem word – bewaringsbewerking. Laasgenoemde begrip moet baie versigtig hanteer word. Enige vermindering in die versteuring van die grond anders as wat konvensioneel gedoen is, kan geklassifiseer word as bewaringsbewerking. Dit maak dié begrip se impak baie wyd. In Figuur 1 word die effek van die bewerkingsaksie op die grond verduidelik. In die geval van Langgewens is die grond voor plant liggies losgemaak met behulp van ’n tand-implement (minimumbewerking) en daarna gesaai met ’n aangepaste saaikas. Eers vanaf 2002 was ’n volwaardige geenbewerkingsplanter beskikbaar en daarna is die grond nooit weer versteur behalwe tydens die plantaksie nie.

Oesreste
Nou kan gevra word hoekom na grondversteuring verwys wanneer oor bemesting gepraat word. Enige bewerking (selfs geenbewerking) veroorsaak ’n verbranding van die organiese materiaal in die grond – organiese materiaal wat deur verwering en die aksies van organismes afgebreek kan word en voedingstowwe kan vrystel. Daar is ook voedingstowwe in die oesreste opgesluit – wat verlore gaan as dit van die land verwyder of gebrand word. Dit is alles voedingstowwe wat dan weer uit ’n sak toegedien moet word. En sakke kos geld. Dit is voordeliger om eerder die reste te bewei en die voedingstowwe so te hersirkuleer, mits dit oordeelkundig gedoen word. Onthou, een van die pilare van bewaringslandbou is die behoud van oesreste om die grond teen erosie te beskerm. Beide wind- en watererosie lei tot ’n verlaging van die natuurlike voedingstofkapitaal in die grond.

Figuur 1: Skematiese voorstelling van die volume grond wat versteur word oor die spektrum van bewaringsbewerking of -implemente. Dit strek van die omkeer van die grond met ’n skaarploeg (links) tot die minimale versteuring met ’n skyfplanter (regs). Al die vorms van bewaringsbewerking val tussen hierdie uiterstes.
HD – hoë versteuring en LD – lae versteuring (aangepas uit ’n artikel geskryf deur Reicosky in 2015, met die titel
“Conservation tillage is not Conservation Agriculture”).

Benutting van natuurlike stikstof
Die insluiting van ’n peulgewas of peulgewasweiding as deel van ’n wisselboustelsel is baie belangrik. Stikstof maak nagenoeg 78% uit van die lug wat ons inasem. Dit is gratis en verniet. Slegs peulplante beskik egter oor die vermoë om hierdie gratis stikstof uit die atmosfeer na die grond te neem, wat dit dan beskikbaar maak vir daaropvolgende gewasse. Sonder ’n stikstofbinder in die stelsel moet daar steeds staatgemaak word op voedingstowwe uit ’n sak. En soos reeds genoem – sakke kos geld. Die afbreek van peulplante en die beskikbaarstelling van hierdie stikstof gebeur nie alles op een slag nie, so daar kan gebou word aan ’n stikstofbank in die grond. Oormatige reënval kan van hierdie voedingstowwe loog. Soos die grondstruktuur egter oor tyd verbeter binne bewaringslandboustelsels, is daar minder en minder lo­ging van water, aangesien dit in die porieë vasgevang word. Die insluiting van ’n peuldekgewas met verskillende peulplante kan ook ’n bydrae maak tot die voedingstofbank in die grond, selfs al word dit bewei. Verskillende peule se stikstof word verskillend vrygestel. Waak daarteen om nie al die bedekking af te wei nie – daar moet ten minste ’n 30%-bedekking oor wees nadat vir die volgende seisoen geplant is.

Tabel 1 dui die drastiese afname in die totale stikstoftoediening aan. 1997 is as vertrekpunt ingesluit, aangesien 1996 gebruik is om eers die medics te vestig en daar dus nog nie gewasvolgordes in plek was nie.

Vermindering van bemesting oor tyd
In 2002 is die begin van geenbewerking met ’n tand-implement gedoen, terwyl die gemiddeld van die 2016- tot 2018-seisoene die eerste drie jaar van plant met ’n skyfplanter verteenwoordig. Die 2019-kolom wys die aanpassing in totale stikstof toegedien binne die stelsels. Dit is aangepas na aanleiding van navorsing op die bemestingsbehoeftes van koring en kanola binne bewaringslandboustelsels, wat deur dr Johan Labuschagne van die Wes-Kaapse Departement van Landbou gedoen word. Die stikstofbemesting op die langtermynproef is gesny tot op sy aanbeveling. Sy navorsing het getoon dat meer as 25 kg stikstofbobemesting per hektaar ’n mors van geld binne ’n medics-koring-stelsel is. Om dit nog meer interessant te maak, is elke koring-na-medics-kamp in die helfte verdeel. Die hele kamp is met 15 kg stikstof geplant en slegs die helfte het daarna bobemesting van 25 kg/ha gekry. Die oes het geen betekenisvolle opbrengsverskille tussen die 15 kg/ha- en die 40 kg/ha- toegediende stikstof getoon nie.

Soortgelyke toetse is in 2017 en 2018 gedoen. Oor die twee jaar is daar ses persele getoets en in vyf van die ses het die perseel wat slegs stikstof tydens plant gekry het, ’n beter opbrengs gelewer as die ander helfte, wat ook bobemesting ontvang het. Die produsent boet dus nie in op opbrengs nie, maar spaar insetkoste op die stikstof en diesel omdat hy nie strooi nie. Daar is ook minder slytasie aan die strooier. As produsente in die Wes-Kaap slegs 10 kg stikstof per hektaar minder gee oor die 360 000 ha waarop koring geplant word, is dit rofweg ’n besparing van R57,6 miljoen (met stikstof teen R16/kg) – boonop nog sonder enige ander bykomende koste. Daar word niks minder geoes noudat minder stikstof toedien word nie – die opbrengs is dieselfde of beter as toe die proef begin het. Die geheim lê in die insluiting van ’n peulgewas of peulgewasweiding in die wisselboustelsel asook die opbou van die grond oor tyd.

Effektiwiteit van die stelsels
Wanneer daar gekyk word na die effektiwiteit van die verskillende stelsels in terme van kilogram koring wat per millimeter reën en per kilogram stikstof geproduseer word, maak dit die voordele van vermindering van die bemesting nog duideliker. Stelsels wat ten minste een peulgewas (hetsy lupiene of medics-weiding) per vierjaarsiklus gehad het, was 26% meer effektief in die produksie van koring per millimeter reën. Selfs die stelsel wat net een kanolajaar in vier jaar gehad het, was 11% meer effektief in produksie as waar daar slegs koring verbou is. Die stelsel wat peulgewasweidings ingesluit het, was 89% meer effektief in kilogram koring geproduseer per kilogram stikstof toegedien. Stelsels wat lupiene ingesluit het, was 35% meer effektief in stikstofbenutting, terwyl die stelsel met net een kanolagewas in, 9% meer effektief was in stikstofbenutting.

Gevolgtrekking
In Tabel 1 kan gesien word dat stikstofbemesting op Langgewens van 1997 tot 2002 met 53% gesny is. Van 2002 tot aan die einde van 2018 is dit met 57% gesny. Vanaf die begin van die wisselbouproef tot aan die einde van die 2019-seisoen word daar nou al 173,8% minder stikstof as in 1997 gebruik.

Indien bewaringslandbou 100% toegepas sou word op die 360 000 ha koringaanplantings in die Wes-Kaap en die verskil in totale stikstoftoediening (teen R16/kg) van 76 kg/ha (1997 tot 2019) word in ag geneem, kon daar vanjaar ’n besparing van R437,8 miljoen net aan stikstof gewees het. Hoe sou die prentjie lyk as gars en kanola ook bygevoeg was?