Langplaas se lang pad na grondgesondheid

Gebupliseer: 10 Februarie 2020

2873
Karina Muller,
SA Graan medewerker

Genestel aan die voet van die Magaliesberge in die omgewing van Brits in Noordwes, lê Langplaas Boerdery waar die derde geslag Janse van Rensburgs tans boer – van ’n beskeie begin tot ’n trotse Zero Residue-etiket op hul produkte.

Pieter (Langpiet) Janse van Rensburg, die patriarg van die familie, het in die jare veertig in die Koedoeskop-omgewing met waatlemoene begin boer. Aanvanklik het hy twee hektaar met die hand ontbos en saam met twee werkers die waatlemoene met emmers natgemaak. Die oes het hy dan self met ’n drietonvragmotor na die markte in Pretoria en Johannesburg vervoer.

Dié boorling van Brits het later teruggekeer soontoe en daar op 10 ha begin boer. Dié grond maak vandag deel van Langplaas Boerdery uit. Hul Christenskap is vir die span aan die stuur van die boerdery besonder belangrik en hulle besef hul afhanklikheid van die Here en hul verantwoordelikheid teenoor hul naaste. Langpiet het in sy veertigs onverklaarbaar verlam geraak en was lank bedlêend in die hospitaal. Op ’n dag het ’n man vir hom gebid en op dieselfde dag het Langpiet opgestaan en weer geloop! Hierdie wonderwerk het hom sy lewe lank bygebly en hy het altyd in die Here gejubel en sy lewe as ’n fees geniet.

Tans is Gert jr en Peet, Langpiet se tweelingkleinseuns, as besturende direkteurs aan stuur van sake. Die twee staan volgens Gert jr “op die skouers” van hul pa, Gert sr, wat hulle in ’n uiters belangrike raadgewende hoedanigheid lei.

Grondgesondheid het so verbeter dat erdwurms en ander insekte teruggekeer het.

Die kleinseuns het in 2006 aan boord gekom. Die proses was nie sonder uitdagings nie, vertel Gert jr. “Saam met die nuwe bloed, kom ’n nuwe dinamika en entoesiasme. Die ouer generasie moenie die handbriek te veel optrek nie en so die gevaar loop om die entoesiasme en energie van die jongelinge te smoor nie. Net so moet die jonger generasie wat honger vir die risiko is, besef dat die ouer generasie hope ondervinding het en dit hoog op prys stel.” ’n Goeie wedersydse verhouding is noodsaaklik.

Op Langplaas word hoëdigtheidsbeweiding geïmplementeer om natuurlike bemesting in die grond te kry.

Volhoubaarheid
Gert jr en Peet het voorgestel dat Langplaas meer natuurlik en volhoubaar bedryf word. “Ons pa het aanvanklik nie heeltemal saamgestem nie. Ons het hom uiteindelik oortuig, nadat hy ons genadiglik baie vryheid gegee het om dinge te beproef,” vertel Gert jr.

Hulle het begin deur nie meer oesreste af te brand en kunsmis met ’n hoë soutindeks te gebruik nie. Aanvanklik het hulle enkelspesiedekgewasse (byvoorbeeld sunnhennep, hawer en mosterd) aangeplant in die plek van die grane (mielies en sojabone) wat voorheen geplant is.

Die Janse van Rensburgs het kers opgesteek by kenners soos Alan Savory en Gabe Brown. Hoewel Gert jr meen dat dit nie so maklik is as wat laasgenoemde dit laat lyk nie – veral vir ’n groenteboerdery – het hulle grondgesondheid binne enkele maande so verbeter dat erdwurms en ander insekte teruggekeer het.

Later het hulle die enkeldekgewasse met ’n dekgewasmengsel vervang. Daarna het hulle ook hoëdigtheidsbeweiding geïmplementeer om natuurlike bemesting in die grond te kry.

Pieter (Langpiet) Janse van Rensburg en sy seun, Gert sr, in ’n uieland op Langplaas. Langpiet is in 2018 op die ouderdom van 91 jaar oorlede.

Weens die ligging van Langplaas, wat deur verskeie teerpaaie verdeel word en waar daar geen natuurlike weilande is nie, bied hoëdigtheidsbeweiding vele uitdagings – veral wanneer dit reën.

“Ons wil hoëdigtheidsbeweiding dus vervang deur mis in die lande te strooi voordat ons die dekgewasse vestig. Ons leuse bly: “Boots die natuur na.”

Die afgelope dekade reeds produseer Langplaas Boerdery wortels en beet (hulle poog vir twaalf maande van die jaar), patats (agt maande) asook botterskorsies (ses maande) op 1 000 ha.

Grondgesondheid

Gert jr raai ander produsente, wat die pad van holistiese boerdery wil begin stap, aan om by die beginsels van grondgesondheid te begin.

  • Sorg dat daar so min as moontlik grondversteuring is. Dié beginsel is meer uitdagend in die groentebedryf, meen hy.
  • Plant dekgewasse aan – grond moenie kaal lê nie.
  • Daar moet altyd ’n lewende gewas in die grond wees – dit voed mikro-organismes.
  • Sover moontlik moet daar herkouers op die grond wees.
  • Diversiteit is nodig – plant dekgewasmengsels in rotasie aan.

Hy noem ook dat elkeen se omstandighede uniek is en dat elke produsent sy eie werkbare stelsel moet vind. “Ons het al baie skoolgeld betaal en sal ook in die toekoms so maak, maar ons bly gedagtig aan ons roeping dat ons gesonde en smaaklike kos volhoubaar wil verbou en in die proses nie drinkwater wil besoedel nie.”

Gert Janse van Rensburg jr.

Waar begin ’n mens?
Dit is die vraag van menige produsent wat met holistiese boerdery wil begin. Gert jr meen die beskikbare kerngereedskap moet gebruik word en gee dié riglyne:

  • Versteur die grond so min as moontlik.
  • Plantdiversiteit is uiters belangrik.
  • Diversiteit van diere moet ook oorweeg word.
  • Maak gebruik van organiese insette.
  • Sonlig en water moet ten beste benut word.
  • Gebruik implemente wat spesifiek vir geenbewerking ontwerp is.

Die Janse van Rensburg-span deel graag hul kennis met ander produsente en nooi hulle om op Langplaas te kom kuier.