Kanolasaadpryse in 2020

Gepubliseer: 10 Februarie 2020

1736
Corné Louw
senior ekonoom, Graan SA
corne@grainsa.co.za

Saad, as produksie-inset, maak ongeveer 15% van ’n kanolaprodusent se lopende produksiekosterekening uit. Al Suid-Afrika se kanolasaadbehoeftes word ingevoer vanaf Australië, Europa of Kanada, wat die voorsiening van voldoende hoeveelhede saad ’n uitdaging maak. Graan SA kommunikeer deurlopend met saadmaatskappye om te verseker dat die regte kultivars teen die regte hoeveelhede betyds beskikbaar is.

Beskikbaarheid van saad
Daar is altesaam 15 kommersieel beskikbare kultivars waaruit kanolaprodusente kan kies, wat twee nuwe kanolakultivars vir 2020 insluit.

Soos genoem is, word alle kanolasaad wat in Suid-Afrika aangeplant word, ingevoer vanaf Australië, Europa en nou ook Kanada. Geen kanolasaad word plaaslik vermeerder nie – saadmaatskappye meen dat die plaaslike mark te klein daarvoor is en dat die vermeerdering van bastersaad, wat die grootste persentasie van die mark beslaan, te duur is. Hulle voel ook dat die isolasievereistes van sulke vermeerderings van so ’n aard is dat dit vir Suid-Afrika se relatiewe klein area nie prakties moontlik is nie.

Omdat 100% van Suid-Afrika se kanola­saadbehoeftes ingevoer moet word, maak dit die voorsiening van genoeg saad ’n kuns en bemoeilik dit sake vir plaaslike saadmaatskappye. Indien daar te veel saad ingevoer word, moet hulle die voorraad dra. Boonop bestaan die moontlikheid dat hulle dit sal moet vernietig, omdat die kieming van kanolasaad ’n probleem raak hoe ouer dit word.

Graan SA het met verskeie van die saadmaatskappye gesprekke gevoer en beplanning is gedoen om voldoende saad van die regte kultivars vir 2020 te help verseker. Dit blyk vanuit terugvoer van die verskillende maatskappye dat daar wel vir die 2020-seisoen genoegsame voorraad beskikbaar behoort te wees. Populêre kultivars kan egter vroeg uitverkoop word.

Saadpryse
Pryse van kanolasaad vir die 2020-seisoen het met gemiddeld 4% toegeneem. Tabel 1 toon die saadpryse vir die laaste drie seisoene aan. Tabel 2 toon aan wat sedert 2018 met die rand/Australiese dollar-wisselkoers gebeur het. Jaar op jaar het die rand met 1,2% verswak teenoor die Australiese dollar, wat beteken dat invoere ’n bietjie duurder is as verlede jaar dieselfde tyd.

Hantering van kanola­saadprobleme
Volgens die Plantverbeteringswet word saad se kieming en suiwerheid beskerm. Die minimum ontkiemingsvereistes vir kanola volgens die wet is 60%. Vir gesertifiseerde saad moet die ontkieming ten minste 70% wees, maar die meeste maatskappye waarborg tussen 80% – 90% of 90% – 100%.

Ervaring het getoon dat dit belangrik is om saad by ’n erkende maatskappy met ’n bewese rekord in Suid-Afrika aan te koop. Dit is altyd goed om ’n kontrole te hê om na te verwys. Probeer dus om nie net een kultivar aan te plant nie.

Wenke indien vermoed word daar is fout met die saad
Indien enige saadprobleme vermoed of ondervind word, moet die volgende stappe geneem word:

  • Dring by die saadverteenwoordiger op ’n ondersoek ter plaatse aan.
  • Hou rekord van datums en gesprekke.
  • Versamel en stel soveel moontlik inligting op skrif, neem foto’s of maak video-opnames.

As die probleem nie opgelos word nie, behoort die volgende stappe oorweeg te word:

  • Tree in verbinding met ’n onafhanklike wetenskaplike om ’n ondersoek ter plaatse te doen.
  • Lede kan Graan SA in kennis stel indien die saadmaatskappy nie die nodige aandag aan die probleem skenk nie.

Neem die saak met die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) op indien die saak steeds nie opgelos word nie. ’n Handelskontrole-ondersoek sal gedoen word ingevolge die Plantverbeteringswet.

Kontak Christo Gouws, die Wes-Kaapse streeksverteenwoordiger op Stellenbosch, by 021 809 1709 of christog@daff.gov.za.

Die DALRRD het ook die volgende wenke:

Produsente word aanbeveel om rekord van lotnommers of kodenommers te hou. Tydens die aankope van saad behoort ’n ontledingsertifikaat van die kwaliteit van die spesifieke saadlot aangevra te word, wat uitgereik is deur ’n geregistreerde saadlaboratorium.
Hierdie uitslae behoort nie ouer as drie maande te wees nie. Produsente word ook aangeraai om die fisiese sak en etikette wat aan die sak aangebring is sowel as die faktuur wat uitgereik is, te bewaar.