BRICS-geleentheid vra beter koördinering

Jolanda Andrag, hoof van bedryfskamer, Agri SA

Gepubliseer: 10 Februarie 2020

1397

‘n Paar dae na die elfde BRICS-besigheidsberaad in Brasilië, sit ’n hawelose man, Diego Rodrigues, in die skadu van die ikoniese Sugarloaf-berg in Rio de Janeiro. In die agtergrond dryf drie oliebore en ’n vloot vragskepe wat vaar oor die Atlantiese horison. Die Rio-hawe simboliseer ’n wêreldekonomie wat mense soos Diego uitsluit. Die opvallende ongelykhede en kontraste in die hawe is ook ’n skerp herinnering aan die werklikheid in Suid-Afrika – veral die ongelykhede in landbou.

Dit was die goue draad wat deur die toesprake van die presidente op die beraad geloop het. Die sukses van die BRICS-vennootskap en die groeiende, wêreldwye invloed daarvan sal uiteindelik afhang van hoe daar meer inklusiewe groei binne elk van die vyf lande bewerkstellig kan word.

Raadslede Xu Lirong (China), Sergey Katyrin (Rusland), Jackson Schneider (Brasilië), Onkar Kanwar (India) en dr Busi Mabuza (Suid-Afrika).

In 2009 het ’n vennootskap tussen die opkomende ekonomieë Brasilië, Rusland, Indië en China tot die skepping van die BRIC-vennootskap gelei. In 2010 is Suid-Afrika, wat grotendeels as ’n poort na handel in Afrika beskou word, by die groep ingesluit om BRICS te vorm. Die BRICS Business Council (BBC) is in 2013 gestig om as ’n raadgewende ekonomiese meganisme vir die BRICS-regerings te dien. Die BBC word deur 25 bedryfsleiers gelei wat die sakelys koördineer en aanbevelings aan die staatshoofde maak. Daarbenewens bestaan die raad uit nege werkgroepe, naamlik landboubesighede, deregulering, energie en groen ekonomie, digitale ekonomie, finansiële dienste, infrastruktuur, vervaardiging, lugvaart en vaardigheidsontwikkeling. Die doel van hierdie werkgroepe is om die BBC te ondersteun in sy missie om handel en beleggings te bevorder sowel as om ’n bemagtigende sake-omgewing te skep.

Landbou was goed verteenwoordig deur onder an­­dere dr John Purchase (HUB, Agbiz), Jolanda Andrag, dr Konanani Liphadzi (HUB, Fruit SA) en Pitso Sekhoto (sekretaris-generaal, AFASA).

Die afgelope paar jaar het die globale politieke landskap verander na ’n multipolêre stelsel, waar lande soos China, Rusland en Indië hulself as wêreldmoondhede geposisioneer het. Tans verteenwoordig die BRICS-lande ongeveer 42% van die wêreldbevolking, 23% van globale BBP en 18% van die wêreldwye handel. Nie net is elke lidland ’n belangrike en groeiende mark nie, maar die BRICS-vennootskap word ook gesien as ’n voertuig vir verdere ekonomiese integrasie asook ontwikkeling. Dit was duidelik in die aggressiewe en goed gekoördineerde agendas wat in die onderskeie werkgroepe gedryf is. Tussen 2011 en 2018 het inter-BRICS-handel met 28,54% toegeneem van $274,7 miljard tot $353,1 miljard.

In 2018 was Suid-Afrika se aandeel in BRICS-handel maar net 6,23% – verreweg die kleinste. Wat nog meer kommerwekkend is van Suid-Afrika se onvermoë om voordeel te trek uit die groeiende handelsgeleenthede in die BRICS-lande, is die negatiewe handelsbalans van $2,1 miljard met die BRICS-groep. Navorsing wat deur die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging gedoen is, toon addisionele uitvoerpotensiaal wat meer as $2 miljard kan beloop. Die bykomende landbougeleenthede wat gelys word, sluit onder meer appels, pomelo’s, wyn, pere, kwepers, mielies en blomme in.

Daar is egter verskillende tegniese uitdagings gekoppel aan elk van hierdie geleenthede, soos die Russiese etikettering wat op die verpakking van sitrusvrugte vereis word. Die beleid van China om slegs een addisionele kommoditeit per jaar vir hulle mark te oorweeg, is ook ’n groot frustrasie vir die landbousektor in Suid-Afrika. Hierdie kwessies is met die BRICS-bedryfsleiers en Suid-Afrikaanse handelsafvaardiging opgeneem, saam met ander sake soos hoë tariewe, onwettige handel en goedkoop produkte wat die plaaslike mark bedreig.

In die toekoms sal die landbousektor hul kollektiewe uitvoeragenda moet versterk en beter koördineer. Daar moet in vennootskap met die regering saamgewerk word om ’n groter belyning tussen die prioriteite van die bedryf en die regering te kry asook om tegniese uitdagings te takel.