Kanolakultivarevaluasie: Klimaat en opbrengs

2222
Piet Lombard,
Navorsing- en Tegnologie-
ontwikkelingsdienste,
Wes-Kaapse Departement
van Landbou
Lisa Smorenburg,
Navorsing- en Tegnologie-
ontwikkelingsdienste,
Wes-Kaapse Departement
van Landbou
Johann Strauss,
Navorsing- en Tegnologie-
ontwikkelingsdienste,
Wes-Kaapse Departement
van Landbou

Die Wes-Kaapse Departement van Landbou doen jaarliks kultivarevaluasieproewe in die Swartland en Suid-Kaap. Daar word agt proewe per streek aangeplant. In die 2019-seisoen is ’n totaal van 17 kultivars in die kultivarevaluasieprogram getoets. Daar is ses konvensionele kultivars, vier CL-kultivars (ClearfieldR, Imasamoks-tolerant) en ses kultivars van die TT-groep (Triasientolerant) by die program ingesluit. Daar is een nuwe CL-kultivar (45Y93) en ’n nuwe kombinasietipe kultivar wat Imasamoks- en Triasien-tolerant is (Hyola 580CT) getoets. Die afgelope paar seisoene was alle kultivars reeds basterkultivars.

In 2019 het die Swartland heelwat minder as die gemiddelde reënval ontvang, hoewel die reënval in Julie naby aan normaal was. Die hoeveelheid reën in die Swartland-streek het gewissel tussen 53% en 86% van die langtermyngemiddeld. Die grondvog in die Suid-Kaap was aanvanklik goed, maar te min reën gedurende die groeiseisoen het tot gevolg gehad dat sommige aanplantings misluk het. In die ooste van die verbouingsgebied was daar lande wat gebaal en/of bewei is weens die droogte. Die reënval in die Suid-Kaap was so min as 41,1% tot 80,5% van die langtermyngemiddeld (Mei tot Oktober). Areas waar gemiddeld min reën voorkom tydens die groeiseisoen, is baie meer blootgestel in droë seisoene. Sulke areas se risiko is gevolglik baie hoog.

Die min beskikbare grondvog tesame met ’n baie warm September (onderskeidelik 4,2°C en 5,4°C warmer as die langtermyngemiddeld by Langgewens en Tygerhoek), was baie nadelig vir saadopbrengs. Die klimaat vir Langgewens en Tygerhoek onderskeidelik word opgesom in Grafiek 1 tot 3 en Grafiek 4.

 

Grafiek 1: Maandelikse en jaarlikse reënval by Langgewens vir 2019 en lang termyn.
Grafiek 2: Maandelikse mimimum en maksimum temperatuur by Langgewens vir 2019 en lang termyn.
Grafiek 3: Maandelikse en jaarlikse reënval by Tygerhoek vir 2019 en lang termyn.
Grafiek 4: Maandelikse minimum en maksimum temperatuur by Tygerhoek vir 2019 en lang termyn.

Resultate
Die opbrengsresultate vir 2017 tot 2019 word in Tabel 1 en 2 vir die onderskeie gebiede opgesom. Die CL- en TT-kultivars se data is geskei van die konvensionele kultivars. Die nuwe kombinasietipe kultivar, Hyola 580CT, is by die TT-groep ingesluit. Dit is uiters belangrik dat kultivars stabiele en hoë opbrengste oor seisoene en areas gee.

Diamond en Quarts het in 2018 en 2019 die beste gevaar binne die konvensionele groep. Hulle het oor die afgelope twee seisoene gemiddeld 19% en 22% (Quarts) sowel as 23% en 9% (Diamond) beter gevaar as die proefgemiddeld by Langgewens en Tygerhoek onderskeidelik. Slegs CB Tango en Hyola 50 kon in die Swartland vir die 2018/2019-seisoen ’n gemiddelde opbrengs beter as die proefgemiddeld handhaaf.

Die Suid-Kaap is die area waar die grootste persentasie CL-kultivars aangeplant word. Dié kultivars is baie geskik vir die ondersaai van lusern. Slegs drie kultivars is in beide 2018 en 2019 in die kultivarproewe getoets. In die Swartland en Suid-Kaap het 43Y92 die hoogste opbrengs gegee – onderskeidelik 16% en 19% beter as die proefgemiddeld. Al drie die CL-kultivars het oor die 2018- en 2019-seisoene gelyk aan en/of beter as die proefgemiddeld gevaar. Die twee toppresterende CL-kultivars, 43Y92 en 44Y90, het beide ’n 15% hoër opbrengs as die proefgemiddeld oor die afgelope twee seisoene in beide die Swartland en Suid-Kaap gehad.

TT-kultivars word dikwels in die Swartland gebruik om met onkruidbestuur te help. Triasien-onkruiddoders is ’n Groep C1-produk, wat produsente ’n alternatiewe opsie gee om weerstandbiedende raaigras onkruide te beheer. Dit is belangrik om te besef dat die opbrengs van TT-kultivars 15% tot 20% laer is as die ander twee kanolagroepe. Die twee kultivars, Alpha TT en Hyola 350, het beide gemiddeld beter as die proefgemiddeld in die Swartland gevaar (2018 en 2019). Dit is ’n nuwe standaard wat nie voorheen deur TT-kultivars bereik kon word nie. In die Suid-Kaap was die opbrengs van Alpha TT gemiddeld 7% hoër as die proefgemiddeld.