Hierdie artikel is die 26ste en laaste in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies bespreek wat ’n belangrike rol in bewaringslandbou-gebaseerde (BL-gebaseerde) gewas-aangeplanteweidingrotasies speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van voerspesies of aangeplanteweidingrusoes- en dekgewasse (wat in hierdie artikel uitruilbaar gebruik word) afhanklik, en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplanteweiding-rotasies word.

Om as aangeplanteweiding-rusoesgewas te kwalifiseer, moet ’n plantspesie aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde dit moet as voer vir lewende hawe en vir grondherstel gebruik kan word. Hierdie artikel is die laaste in die reeks en fokus op die manier waarop hierdie verskillende spesies as “aangeplanteweiding-rusoesgewas” by verbouingstelsels geïnkorporeer word.

Die term “aangeplanteweiding-rusoes” kan ’n verskeidenheid een- of meerjarige spesies, peulgewasse, grasse of wortelvoergewasse insluit wat in kort- of langtermynrotasies gebruik word. Dit is dus belangrik om tussen ’n korttermyn- en ’n langtermyn-rusoesverbouingstelsel te onderskei.

Integrasie van aangeplanteweiding-ruslande met graangewasstelsels

Met die afname in die vrugbaarheid en produksiekapasiteit van baie Suid-Afrikaanse gewasverbouingsgrond is daar ’n groeiende behoefte om suksesvolle rusoes-aangeplanteweidingstelsels in graanproduserende streke te ontwikkel. Rusoes-aangeplante weiding in gewasrotasies het die vermoë om die kwynende grondgesondheid en verskillende eienskappe om te keer, die produktiwiteit van lewende hawe te verbeter en toenemende omgewingsprobleme te verminder.

Die afgelope reeks artikels oor verskillende spesies het die belangrike voordele van hierdie spesies as ’n geïntegreerde deel van gewas-lewendehawe BL-stelsels beklemtoon. Hierdie voordele sluit in: beter voedingstofsirkulasie en grondbiodiversiteit, minder erosie, verdigting en voedingstofloging, beter grondbelugting en waterbewaring, groter koolstofvaslegging en storing.

Dit is egter belangrik om die eienskappe van die verskillende rusoes-aangeplanteweidingspesies te vertaan, aangesien die verkeerde kombinasie van spesies ’n negatiewe uitwerking op daaropvolgende gewasse kan hê. Peul-aangeplanteweiding-rusoesgewasse word die meeste vir stikstofbydraes gebruik as gevolg van hulle vermoë om stikstof te bind om deur ’n volgende gewas gebruik te word. Grasrusoesgewasse word meer algemeen gebruik om gronderosie asook onkruid te beheer, voedingstofherwinning en koolstofvaslegging te verbeter en grondstruktuur te verbeter.

Brassicas word gebruik om verdigting te verminder en grondstruktuur te verbeter deur hoër vlakke van organiese materiaal, herwinning van voedingstowwe en onderdrukking van siektes en onkruid.

’n Winter-dekgewasmengsel, Ottosdal, Noordwes. Foto: Hendrik Smith

Rusoesgewasrotasies en assosiasies met kontantgewasse

Die volgende afdeling verskaf inligting oor verskillende rusoes- of dekgewasse wat saam met, tussen of ná kontantgewasse gekweek word. Die klem val op die somerreënvalgebied van Suid-Afrika. Hierdie gewasse moet verkieslik as ’n multispesiemengsel geplant word en deur middel van ultra-hoë digtheidsbeweiding oor ’n kort tydperk benut word. Die ideale situasie is om die hele jaar lank ’n verskeidenheid lewende wortels in die grond te hê om die gesondheid van die grond te verbeter.

Na mielies of sojabone, of laat in die groeiseisoen (as ’n winterdekgewas of laat tussengewas)
Graanrog, eenjarige raaigras, koring, hawer of korog as grasse kan geplant word om grondorganiese materiaal op te bou, voedingstowwe te herwin en grondverdigting te verminder (sien foto 1).

Brassicas (oliesaad of Tillage-radys of rape) word gebruik om voedingstowwe te herwin, verdigting te verminder en die onderdrukking van onkruid en siektes te bevorder. Wieke kan as bron van stikstof geplant word. Laat tussengewasverbouing is die tegniek om hierdie winterdekgewasse in ’n volwasse mieliegewas te saai. Die dekgewasse ontkiem en groei stadig onder die mieliedak (sien foto 2a en foto 2b).

Wanneer die mielies in die herfs of winter geoes word, is die dekgewasse reeds gevestig en die groei hervat, wat waardevolle tyd bespaar. Die tussengewas sal gewoonlik regdeur die winter en lente baie meer groei as enige dekgewas wat na die mielieoes gesaai word.

Benewens die voordeel vir lewendehawe-integrasie is daar talle ander ekonomiese en omgewingsvoordele.

2a. ’n Aflosgewasverbouingstelsel met mielies en ’n winterdekgewasmengsel van hawer, radyse en wieke. Foto’s Hendrik Smith en Gerrie Trytsman

Tydens die groeiseisoen van kontantgewasse (as groen rusoes)
Gewasse soos babala, voersorghum, akkerboon, sojabone, mungbone, dolikos lablab, fluweelboon, sonhennop en jackboon kan gebruik word.
Die tyd van beëindiging hang af van die behoefte om grondwater vir die volgende gewas te stoor of te bewaar.

In die groeiseisoen, terselfdertyd as mielies (as tussengewas)
Nie-klimplante (soos akkerboon, Mucuna of fluweelboon), of klimplante (dolikos lablab en fluweelboon) kan gesaai word twee tot agt weke nadat mielies geplant is. Later aanplantings het egter ’n kleiner impak op die mielie-opbrengs. Hoe vroeër die rusoesgewas gesaai word, hoe groter is die grondbeskerming en onkruidonderdrukking wat verkry word.

In kleinskaalse stelsels word tussengewasse ook as bron van voedsel geplant, byvoorbeeld droëbone of akkerbone, en hulle reste kan ook vir veevoer gebruik word (sien foto 4).

2b. ’n Aflosgewasverbouingstelsel met mielies en ’n winterdekgewasmengsel van hawer, radyse en wieke. Foto’s Hendrik Smith en Gerrie Trytsman

3. ’n Somerdekgewasmengsel, Ottosdal, Noordwes. Foto: Hendrik Smith

4. Mielies as tussengewas met akkerbone, Bergville, KwaZulu-Natal. Foto: Hendrik Smith

Aangeplanteweiding-rusoesgewasse vir ’n spesifieke doel

’n Groep dekgewasse is beskikbaar vir produsente om vir ’n spesifieke doel te plant en kan die volgende insluit (die spesies wat gelys word, is nie die enigstes nie en ander opsies bestaan wel):

Vinnige voer wat bewei kan word
Hawer, voerradyse, rape, korog en stoelrog, en eenjarige raaigras, tef vir droë lande, babala, voersorghum en gars.

Vestiging of verbetering van geenbewerking
Voerradys, rape, babala en voersorghum. Babala en voersorghum kan groot hoeveelhede reste laat vir grondbedekking.

Voorkoming van gronderosie
Grasse het digte wortelstelsels om grond te verbeter, en die beste grasdekgewasse sluit in babala, voersorghum, graanrog, eenjarige raaigras, hawer, koring en gars. Ander dekgewasse sluit in lablab, bokwiet (met ’n vlak, veselryke wortelstelsel), akkerboon en winterertjie.

Aangeplanteweiding-rusoesgewasse vir die opbou van koolstof in die grond (om C:N-verhouding te verhoog)
Eenjarige somergewasse: Babala en voersorghum.
Eenjarige wintergewasse: Graanrog, eenjarige raaigras, korog, hawer, koring en gars. Meerjarige gewasse: Subtropiese grasse, byvoorbeeld Rhodesgras, Smutsvingergras, oulandsgras, witbuffelsgras, bloubuffelsgras en langswenkgras (sien foto 5).

5. Rhodesgras gemeng met wit buffelsgras by Ventersdorp. Foto: Gerrie Trytsman

Aangeplanteweiding-rusoesgewasse vir die verhoging van stikstof in die grond (om C:N-verhouding te verlaag)
Eenjarige somergewasse: Akkerboon, sojabone, mungbone, dolikos lablab, fluweelboon, jackboon en sonhennop kan gebruik word.
Eenjarige wintergewasse: Winterertjie, rooi klawer, soet klawer, wieke, serradella en lupines. Meerjarige gewasse: Lusern, armmanslusern en stylo.

Het nie onkruiddoder nodig om dood te maak nie
Hawer, akkerboon, winterertjie, voerradys en rape.

Vermindering van verdigting (diep wortels)
Babala, voersorghum, eenjarige raaigras, voerradys, soet klawer, graanrog, hawer en dolikos lablab.

Herwin oormatige voedingstowwe (stikstof, fosfor)
Voer- en Tillage-radyse, rape, eenjarige raaigras, graanrog, hawer, koring, babala, voersorghum, soet klawer, winterertjie, akkerboon, rooi klawer en wiekespesies.

Oor die algemeen het peulgewasse P nodig vir N-binding, maar is ongelukkig swak gebruikers van P in die grond. Aangesien peulgewasse tot grondversuring kan bydra, kan dit daartoe lei dat P vasgelê word en minder beskikbaar raak.

Gewoonlik absorbeer grasdekgewasse meer P as peulgewasse omdat hulle ’n fyner wortelstelsel en ’n groter oppervlak het as peulgewasse, wat ’n penwortel het. In gemengde peulgewas-gras aangeplante weiding sirkuleer die peulgewas N na die gras en die gras sirkuleer P na die peulgewas.

Natuurlike onkruiddoders of allelopatiese uitwerking vir onkruidonderdrukking
Graanrog, voerradys, hawer, gars, babala en voersorghum . Eenjarige raaigras, graanrog en sorghum kan gebruik word om sojaboon-sist-aalwurm te beheer.

Lok voordelige insekte
Bokwiet, soet klawer, rooi klawer en ander geselekteerde klawer- en wiekespesies, sonhennop, sonneblom, dolikos lablab en sorghum.

Verdra nat grond
Witklawer, rooi klawer, ander geselekteerde klawerspesies, eenjarige raaigras, graanrog, koring en hawer.

Verdra hitte en droogte
Dolikos lablab, akkerboon, wiekespesies, mungbone, soet klawer, sorghum, babala, gars en tef.

Verdra koue
Stoelrog, hawer, koring, korog, winterertjie en geselekteerde klawerspesies.

Pleeggewas
Eenjarige somergewasse: Tef. Eenjarige wintergewasse: Hawer en eenjarige raaigras.

Tabel 1 verskaf ’n oorsig oor die vernaamste aangeplanteweiding-rusoesspesies wat as veevoer dien (beeste, varke, skape, hoenders en vis).

Tipe BL-gewasstelsel

Groeiperiode

Voordele

Nadele

Geskikte spesies wat algemeen gebruik word

Droë materiaal (DM) en vleisproduksie (g/d)

Niepeul-voergewasse< 1 jaarMaklike vestiging.
Vinnige produksie van voer. Maak vinnige skuif tussen gewas- en lewendehaweproduksie moontlik.
Geen stikstofbinding nie.
Min uitwerking op GOM.
Min voordele ten opsigte van siekte- of onkruidbeheer.
Gematigde eenjarige gewasse:
Hawer Rog
Knolgewasse:
Radys Voerraap
Warmseisoen eenjarige gewasse:
Voersorghum Babala
3 - 6 ton DM/ha
ADT: 800 - 900 g/d

4 - 6 ton DM/ha
ADT: 650 - 800 g/d

8 - 10 ton DM/ha
ADT: 500 - 600 g/d
Eenjarige peulgewasse< 1 jaarVerhoog grondstikstof beskikbaar vir daaropvolgende gewasse.
'n Paar siekte- en onkruidbestuursvoordele.
Maak vinnige skuif tussen gewas- en lewendehaweproduksie moontlik.
Verskaf beperkte grondbedekking. Min uitwerking op GOM.
Kan in daaropvolgende gewasse onkruid wees.
Somer:
Akkerboon Lablab

Fluweelboon
Jackboon


Winter:
Wieke
Serradella
3 - 5 ton DM/ha
ADT: 550 - 650 g/d


Giftig: versigtig

2 - 3 ton DM/ha
ADT: 900 - 1 100 g/d
Meerjarige peulgewasse1 - 4 jaarVerhoog grondstikstof beskikbaar vir daaropvolgende gewasse. Goeie siekte- en onkruidbestuursvoordele.Beperkte verbetering van GOM. Laer verbouingsintensiteit. Verskaf beperkte grondbedekking.Lusern

Armmanslusern

Ertjies
6 - 8 ton DM/ha
ADT: 650 - 750 g/d

Nie baie produktief in proefnemings nie

ADT: 850 - 900 g/d
Tropiese grasse1 - 4 jaar
> 4 jaar
Verminder onkruidbevolkings. Verskaf goeie grondbedekking. Toename in grondorganiese materiaal (GOM) groter as vir suiwer peulgewasse of eenjarige voergewasse.Laer verbouingsintensiteit.Grasse (somer):
Smutsvinger
Rhodesgras
Borseltjiegras
Buffelgras
Bahiagras Oulandsgras
8 ton 10 ton DM/ha
ADT: 480 - 600 g/d
Tropiese grasse/peulgewasmengsels>4 jaarBeter benutting van hulpbronne. Voedingstof-gebalanseerde voer. Besparing aan N-bemesting.Minder N gebind en beskikbaar as met suiwer peulgewasse. Probleme om volhardende aangeplante weiding in daaropvolgende gewasse te beheer.Peulgewasse:

Lusern
Armmanslusern
10 - 12 ton DM/ha
ADT: 600 - 750 g/d

Gevolgtrekking

Aangeplanteweiding-rusoes- en dekgewasse bied talle voordele aan produsente om boerderywinsgewendheid en omgewingsvolhoubaarheid te verhoog. Elke aangeplanteweiding-rusoes- en dekgewas het ’n nis of spesiale doel. Peulgewasweiding-rusoes- en dekgewasse word tipies gebruik om grond se stikstofvlakke te verbeter. Grasweiding-rusoes- en dekgewasse word gebruik om grondorganiese materiaal te verhoog, oormatige voedingstowwe te herwin en grondverdigting te verminder.

Brassica-gewasse word gebruik om grondporieë te verhoog, voedingstowwe te herwin en onkruid te onderdruk. Sommige ander dekgewasse word gebruik om insekte, siektes of onkruid te onderdruk of voordelige insekte te lok. Dekgewasse moet dus as ’n integrale deel van enige boerderystelsel beskou word ten einde voedingstowwe doeltreffend te benut, grondgesondheid te verbeter en boerderywinsgewendheid te verhoog.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.

Verwysings

Hoorman, JJ, Islam, R en Sundermeier, A. 2009. Sustainable crop rotations with cover crops. Fact Sheet SAG-9-09, Agriculture and Natural Resources: Ohio State University, Extension.
Smith, HJ en Trytsman, G. 2011. The integration of livestock with conservation agriculture. Veeplaas.
Truter, WF, Dannhauser, CS, Smith, H en Trytsman, G. 2014. Integrated crop and pasture-based livestock production system. SA Graan/Grain.
Willey, RW. 1985. Evaluation and presentation of intercropping advantages. Experimental Agriculture 2, 119 – 133.