Geïntegreerde gewas- en aangeplanteweiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 25: Tef (Eragrostis tef)

4953

Hierdie artikel is die 25ste in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies bespreek wat ’n belangrike rol in bewaringslandbou-gebaseerde (BL-gebaseerde) gewas-aangeplanteweidingrotasies speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van voerspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n eenjarige dekgewas, en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplanteweiding-rotasies word. Dit is noodsaaklik om ’n plantspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en/of grondherstel.

Hierdie artikel fokus op ’n eenjarige somer-grasdekgewas met die potensiaal om gebruik te word om grondtoestande te verbeter en om hoëkwaliteitvoer vir herkouers en perde te lewer.

Eragrostis tef, teff of tef

Tef kom oorspronklik van Etiopië en is ’n eenjarige, yl polgras wat tot 1 m hoog kan groei. Tef is ʼn blaarryke plant en lewer hoë saadopbrengste wanneer dit ‘n reproduktiewe stadium bereik. Dit is ’n C4-plant en gebruik ligenergie effektief onder lae vogomstandighede.

Dit is ook ’n gras met vlak wortels en die vermoë om vinnig in verskeie grondtipes te vestig. Daar is talle verskillende tipes tef, met drie hooftipes saadkleure. Die wit tef word stadig volwasse, groei in koeler toestande en is beter vir graanproduksie. Rooi en bruin tef is grasse wat vinniger volwasse word en is beter vir voer. As gevolg van tef se goeie voedingseienskappe word dit meestal in Suid-Afrika as ’n hooigewas geproduseer.

Agro-ekologiese verspreiding

Tef benodig gemiddelde reënvalvlakke van so laag as 350 mm per jaar en die graantef kan met reënval so hoog as 2 500 mm per jaar groei. Hierdie spesie is weerstandig teen matige droogtes, warm weerstoestande, swak grond en lae vrugbaarheid.

Die meeste kultivars benodig ten minste drie goeie reënbuie gedurende die vroeë groeistadium en 200 mm tot 300 mm water in totaal. In Suid-Afrika groei die meeste tef in areas wat tussen 400 mm en 900 mm reënval ontvang. Wit tef het die vermoë om ’n bietjie ryp te verdra, alhoewel dit nie in langdurige uiters koue temperature sal oorleef nie. Aan die ander kant kan tef ook temperature van 35°C en hoër verdra.

Tef kan by verskeie grondtipes aanpas en dit groei in enigiets van sandgrond tot turfgrond. Dit is noemenswaardig dat alhoewel tef in kleigrond soos swart turfgrond groei, sal dit nie versuipte grondtoestande verdra nie. Daarom is dit noodsaaklik vir optimale tefproduksie dat grond goed gedreineer is in gebiede met hoër reënval. Vanuit ’n grond chemiese oogpunt sal grond met ʼn pH laer as 5 nie die groei van tef aansienlik beïnvloed nie, wat hierdie spesie dus suurgrond-verdraagsaam maak.

Eragrostis-tef in die vroeë blomstadium.

Tef ten volle in blom.

Bestuur en aanwending

Aangesien tef ’n gewas is wat meestal vir hooi geproduseer word, is dit uiters belangrik om ’n ferm, fyn saadbed te hê vir die baie klein saadjies wat gesaai word. Gevolglik is ’n gelyke en eenvormige saadbed nodig, wat die oes van die hooi sal vergemaklik. Wanneer tef geplant word, is dit noodsaaklik om voor en nadat die saad gesaai is, die saadbed te konsolideer (rol). Dit is ook belangrik om seker te maak dat die grondvrugbaarheidsvlakke op standaard is – veral vlakke van fosfor (P) en kalium (K), wat onderskeidelik ten minste 15 mg/kg grond en 100 mg/kg grond moet wees.

Sodra die tef ontkiem het, kan die aangeplante weiding twee keer gedurende die groeiseisoen bemes word met twee toedienings van 50 kg N/ha. Indien te veel stikstof toegedien word, kan dit veroorsaak dat die spesie omval, wat dit moeilik maak om te oes asook ’n uitermatige verlies aan droëmateriaalopbrengs (DM-opbrengs) tot gevolg het.

Wanneer daar beplan word om tef te saai, is dit belangrik om in ag te neem of dit saam met ander meerjarige subtropiese grasse soos Eragrostis curvula (oulandsgras/weeping love grass) geplant gaan word – wat algemene praktyk is – of op sy eie, want dit sal die saaikoers bepaal.

Tef word gewoonlik vroeg in die somer geplant en kan dan ten minste twee oeste lewer. Wanneer dit egter in die middel van die somer geplant word, word daar gewoonlik slegs een oes verkry. Die saaikoers vir sandgrond is 7 kg/ha tot 10 kg/ha, en vir kleigrond 10 kg/ha tot 15 kg/ha. Aanplanting moet tussen middel-Oktober en middel-Januarie geskied.

Tef word dikwels as ’n pleeggewas vir verskeie meerjarige aangeplanteweidingsgewasse gebruik en word gereeld met Rhodesgras en Smutsvingergras gemeng.

Wanneer tef saam met hierdie ander spesies gesaai word, is die verhouding van tef tot ander spesies belangrik, aangesien die tef die ander spesie kan versmoor as dit nie reg bestuur word nie. Dit is dus belangrik om die saaikoers van tef te verlaag tot 5 kg/ha tot 8 kg/ha, afhangend van die grondtipe (sand teenoor klei) en reënval (laag tot hoog).

Grondbewaring en -gesondheidsvoordele

In talle dele van die wêreld word tef al hoe aantrekliker as ’n tydelike nie-onkruid grondbedekker. Sy vinnige vestiging en mededingendheid met ander onkruid maak hierdie spesie as tydelike grondbedekker uiters belangrik vir die rehabilitasie van gedegradeerde en versteurde grond. Soos reeds genoem, vestig tef vinnig en dít is ’n uiters belangrike eienskap van ’n aangeplante weidingsrusoes- of dekgewas wat die gevaar van gronderosie verminder.

Aangesien tef ’n vlak wortelstelsel het, het dit die vermoë om die grondoppervlak te stabiliseer en nie die grondvog en voedingstowwe op dieper vlakke uit te put nie. Tef word tans as ’n pleeggewas gebruik en dit het die funksionaliteit om ’n mikro-klimaat op die grondoppervlak te skep om sodoende die grondtemperatuur te verlaag, wat die ontkieming van meer meerjarige spesies bevorder en ook noemenswaardige vogverlies voorkom deur verdamping op die grondoppervlak te verlaag.

Bestuursuitdagings

Die feit dat tefsaad so klein is, hou tydens die saaiproses probleme in, en indirek ook wanneer onkruid verwyder en daar gedors word. Die klein saad maak ook die beheer van populasiedigtheid en verspreiding moeilik wanneer die saad gesaai word. Die oneweredige plantestand na ontkieming beïnvloed die doeltreffendheid van voedingstofverbruik van die gewas, asook die gewasopbrengs.

Tef word nie aanbeveel vir weiding nie, aangesien te veel plantmateriaal verlore gaan wanneer die diere wei en dit vertrap. Dit is ook nie geskik vir kuilvoer nie en nog minder vir wintervoer – soos aangevoer in die vorige standpunt.

Dit maak tef ‘n baie belangrike hooigewas en dit kan hoëkwaliteitvoer lewer. Dit is moeilik om tef te oes omdat dit omval. Omdat tef swaar omval, is dit nie raadsaam om groter hoeveelhede misstof te gebruik om opbrengste te verhoog nie.

Die belangrikste siektes wat aangemeld word vir tef is tefroes (Uromyces eragrustidis Tracy) en kopvlek (Helminthosporium miyakei Nisikado) (Stewart and Dagnachew, 1967; Tareke, 1981)

Daar is bevind dat omvalsiekte, wat veroorsaak word deur Drechslera poae (Baudis) Shoemaker, ernstig en selfs skadelik kan wees wanneer hoër saaidigthede en vroeër eerder as later saaidatums gebruik word (Ketema, 1997). Ander insekplae is ook aangemeld en sluit krieke (soos Decticoides brevipennis Ragge), garsvlieg (Hylemya arambourgi) en die rooi tefwurm (Mentaxya ignicollis Walker) in (Ketema, 1997).

Diereproduksie-aspekte

Tef is bekend as ’n baie goeie kwaliteit hooigewas. Dit is binne 65 tot 75 dae vir hooiproduksie gereed. Die beste resultate word verkry wanneer dit tydens die vroeë tot middel-blomstadium gesny word. Dit kan tussen 2 ton DM/ha en 8 ton DM/ha hooi lewer, afhangend van die klimaat- en bestuursfaktore. Sommige produsente kon al aangeplante tefweiding suksesvol besproei en het tot 12 ton DM per hektaar geproduseer.Hierdie gras word dikwels vir die perdebedryf gebruik omdat dit van ’n hoë kwaliteit is. Met betrekking tot voerkwaliteit, word gerapporteer dat tef ru-proteïenvlakke so hoog as 11% en so laag as 6% kan hê. Tef het ’n ru-veselinhoud van tussen 27% en 35% en verteerbaarheid van 55% tot 60%.

Gevolgtrekking

Wanneer die rol van aangeplanteweiding-rusoes- en dekgewasstelsels in bewaringslandbou in ag geneem word, kan tef – as ’n eenjarige kortseisoengewas en ’n plant wat die beste in die warm somermaande groei – gebruik word as ’n noodvoergewas tydens vertraagde aanplanting, swak stande of wanneer die koue winter ander gewasse laat doodgaan.

As ’n kortseisoen-rusoesgewas kan tef ’n goeie onkruid-mededingende grondbedekker wees wat die grond beskerm teen gronderosie – veral tydens ’n droë seisoen, aangesien dit droogte goed verdra. Tef se vlak wortelstelsel en lae vrugbaarheidsvereistes maak dit meer geskik om te kweek in rustende grond, eerder as tussen ongewenste onkruidspesies wat potensiële onkruidsaad tot die saadbank toevoeg.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.

Verwysings

Dickinson, EB, Hyam, GFS, Breytenbach, WAS, Metcalf, WD, Basson, WD, Williams, FR, Scheepers LJ, Plint, AP, Smith, HRH, Smith, PJ, Van Vuuren, PJ, Viljoen, JH, Archibald, KP and Els, JN. 2004. Kynoch Pasture handbook. Kejafa Knowledge Works: Maanhaarrand.
Ketema, S. 1997. Tef, Eragrostis tef (Zucc.) Trotter. ISBN 92-9043-304-3. Biodiversity Institute: Addis Abeba, Ethiopia, IPGRI.
Stewart, RB and Dagnachew, Y. 1967. Index of plant diseases in Ethiopia. Experiment Station Bulletin No. 30. Alemaya University of Agriculture: Dire Dawa, Ethiopia.
Tareke, B. 1981. Inheritance of lemma colour, seed colour and panicle form among four cultivars of Eragrostis tef (Zucc.), Trotter. PhD Thesis, University of Nebraska: Lincoln, USA.