Geïntegreerde gewas- en aangeplanteweiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 22: Akkerboon (Vigna unguiculata)

4024

Hierdie artikel is die 22ste in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in bewaringslandbou-gebaseerde (BL-gebaseerde) gewas-aangeplanteweidingrotasies speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van aangeplanteweidingspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n aangeplanteweiding-rusoesgewas, en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplanteweiding-rotasies word. Dit is noodsaaklik om ’n plantspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en/of grondherstel.

Hierdie artikel fokus op ’n peuldekgewas met aangeplanteweidingsgewaspotensiaal wat gebruik word om grondtoestande te verbeter en hoëgehalteweiding vir herkouers te verskaf.

Vigna unguiculata, akkerboon of cowpea ​​​​​​

Akkerbone is ’n eenjarige somerpeulgewas wat vinnig groei. Dit kan tot 60 cm hoog word wanneer dit in gunstige toestande groei. Daar is talle kultivars wat aansienlik ten opsigte van groeiwyse wissel. Sommiges is kort, regop, bostipes, en ander is lank en rankerig.

Tydens droogtes kan ’n akkerboonpenwortel tot 2,5 m diep groei (afhangend van die grondtipe) om vog dieper in die grondprofiel te bereik. Die ranktipe word verkies vir voer of dekgewasse, terwyl die bostipe meer geskik is om direk meganies te oes.

Vroeë vegetatiewe stadium.
Laat vegetatiewe stadium.

Agro-ekologiese verspreiding

Hoewel akkerbone herhaalde versuiping sal verdra, sal hulle nie goed groei indien die grond vir lang tydperke versuip is nie. Akkerbone groei die beste in die somer en die geskikte temperatuur vir ontkieming is ongeveer 8°C, en vir blaargroei is dit 20°C. Die optimale temperatuur vir groei en ontwikkeling is ongeveer 30°C.

Fotosensitiewe variëteite se blomvormingstyd hang af van wanneer en waar dit gesaai word en kan langer as 100 dae wees. Navorsing het ook getoon dat die variëteite wat vroeg blom se blomvormingstyd deur warm en vogtige toestande verleng kan word. Akkerbone groei goed in hitte en is meer droogtebestand as talle ander gewasse.

Dit kan met reënval van 400 mm tot 800 mm per jaar groei. Goed verspreide reënval is belangrik vir die groei en ontwikkeling van akkerbone.

In sekere gebiede van Suid-Afrika is die frekwensie van reën baie hoog, wat tot ernstige versuiping lei, terwyl dit in ander gebiede so onbetroubaar is dat vogbewaring van die allergrootste belang vir gewasproduksie is.

Akkerbone reageer op erge vogstremming deur groei te beperk en blaaroppervlakte te verminder deur die blaaroriëntasie te verander en die huidmondjies te sluit. Voldoende reënval tydens die blom- of peulvormingstadium is dus belangrik. Blom- en peulafsnoering tydens erge vogstremming dien ook om groei te beperk.

Akkerboonvariëteite sal in ’n wye verskeidenheid grondtipes groei, maar die peulgewas toon ’n voorkeur vir sandgrond, wat beter wortelgroei moontlik maak. Hierdie aanpassing by ligter grond gaan gepaard met droogteverdraagsaamheid deur verlaagde blaargroei, minder waterverlies deur huidmondjies, en blaarbeweging om lig en hittelas onder stremming te verminder.

Hierdie gewas verdra onvrugbare en suur grond beter as ander gewasse, en vereis ’n grond-pH van 5 tot 6. Dit is ook uiters belangrik om te onthou dat al kan akkerbone versuipte toestande oorleef, floreer hulle in goed gedreineerde grond en sukkel dus in swaarder grond.

’n Rolmoer wat gebruik word om dekgewasse plat te stoot.

Bestuur en benutting

Die optimale saaitye is Oktober tot Desember. Gewasse wat vroeg gesaai word, is minder regop, meer vegetatief en het ’n laer opbrengs as dié wat op die optimale tyd gesaai word. Dit is ook noodsaaklik dat akkerbone met ’n spesifieke stikstofbindende bakterium, Bradyrhizobium spp., geënt moet word om te verseker dat doeltreffende nodulasie vir stikstofbinding plaasvind, maar dit is nie nodig as akkerbone of ander peulgewasse (mungbone, grondbone en stylos) voorheen in dieselfde gebied gekweek is nie.

Die voorbereiding van die grond voordat daar gesaai word, is soortgelyk aan dié vir ander veldgewasse. Alternatiewelik word minimum bewerking aanbeveel, en dit is voordelig om direk in gras-, peulgewas- of gewasstoppels te saai. Akkerbone het groot saailinge wat sterk groei en is dus beter geskik vir minimum bewerkingspraktyke. ’n Saaikoers van 20 kg/ha tot 30 kg/ha moet gebruik word om optimale droë materiaal en graanproduksie-opbrengste te kry.

Die saad kan óf gestrooi of in rye van 18 cm of 40 cm geplant word. Voorplant-onkruidbeheer is voldoende beheermaatreël vir hooi- en groenbemestingsgewasse, aangesien akkerbone peulgewasse is wat sterk slinger en onkruid versmoor as die aanbevole saaikoerse gebruik word. Dit lei tot goed gevestigde gewasse.

Aangesien fosfor ’n belangrike voedingstof vir peuldraende gewasse is, bevat Suid-Afrikaanse grond dikwels te min fosfor, en superfosfaattoedienings van 100 kg/ha tot 250 kg/ha word aanbeveel, terwyl kalium voor saai teen 50 kg/ha tot 150 kg/ha toegedien moet word.

Akkerbone word al hoe meer as hooigewas gebruik. Die perfekte tyd om hooi van akkerbone te maak, is tydens die topblomvormingstadium, wat gewoonlik 70 tot 100 dae is nadat dit gesaai is.

Die meeste akkerboongewasse sal op dieselfde tyd volwasse wees, of dit nou vroeg of laat gesaai is. Die gewasse wat vroeër gesaai is, het as gevolg van ’n langer groeiseisoen die geleentheid om meer hooi te verskaf. Studies het getoon dat akkerbone se hooi-opbrengs gewoonlik tussen 2 500 kg/ha en 6 000 kg/ha is, afhangend van die groei- en bestuurstoestande.

Wanneer akkerbone as ’n dek-/groenbemestingsgewas gebruik word, kan dit enige tyd geïnkorporeer of gerol word wanneer voldoende groen materiaal beskikbaar is, maar dit is die beste om dit in die topblomvormingstadium te doen wanneer die materiaal van ’n hoë gehalte is en vinnig in die grond sal ontbind.

Akkerbone nadat dit gerol is.

Grondbewaring en -gesondheidsvoordele

Navorsing oor die bydrae van akkerbone om grond te verbeter, het getoon dat akkerbone ongeveer 4,5 ton droë materiaal per hektaar kan produseer, en dat elke ton ongeveer 30 kg stikstof bevat. Die stikstofinhoud van akkerbone is ongeveer 1,5% tot 3,5%.

Produsente kan die natuurlike vermoë van akkerbone en ander peulgewasse benut om atmosferiese stikstof te bind. Vir goeie peulgroei en stikstofbinding moet die grond voldoende fosfor bevat, ’n goeie balans van mikrovoedingstowwe (yster, swael en molibdeen) hê, ’n geskikte pH, en goeie belugting (geen verdigting of versuiping nie).

Akkerbone is sensitief vir ’n sinktekort. Akkerbone se N-bydrae tot ’n gewasverbouingstelsel wanneer dit geïnkorporeer is, is ongeveer 120 kg/ha.

Bykomende voordele word uit die organiesemateriaalinhoud van die plantmateriaal verkry. Hierdie organiese materiaal help om grondstruktuur, waterinfiltrasie en grond se waterhoukapasiteit te verbeter. Organiese materiaal sal ook die vermoë van die grond verbeter om plantvoedingstowwe te behou deur die grond se katioon-uitruilvermoë te verbeter.

Organiese materiaal wat deur peulgewasse verskaf word, word vinnig deur mikroörganismes in die grond ontbind en hou nie lank in die grond nie. Om die humusinhoud van die grond op te bou, kies grasse wat ‘n hoë veselinhoud het en wat stadig ontbind as groenbemesting, of gebruik gras-peulgewasmengsels. Moontlike grasse om met akkerbone te meng, sluit sorghum-soedangras-basters en babala in.

Langtermyngebruik van eenjarige peulgewasse soos akkerbone sal die grond se humusinhoud verhoog, maar teen ’n stadiger tempo as grasdekgewasse (Valenzuela & Smith, 2002).

Bestuursuitdagings

Studies het getoon dat siektes soos poeieragtige meeldou (tydens nat wintermaande en onder vogtige toestande), blaarvlek, roes en mosaïekvirus by akkerbone aangeteken is. Beheermaatreëls is gewoonlik nie nodig of prakties nie. Tarentale hou ook van akkerboonsaailinge wanneer dit opgekom het en kan baie vernietigend wees.

Diereproduksie-aspekte

Die oes van akkerbone later in die seisoen sal hoër voeropbrengste verseker, maar dit verlaag ook die gehalte. Akkerbone het nietemin ’n hoër voergehalte as sommige subtropiese eenjarige grasse soos babala en soedangras. Talle studies het getoon dat akkerbone ’n hoë ru-proteïenkonsentrasie kan hê, wat wissel tussen 19% en 24%, afhangend van die stadium waarop daar geoes en die bestuur wat toegepas word.

Akkerboonvoer is met sukses aan vleisbeeste regoor die wêreld gevoer, en word dikwels deur kleinboere in Afrika gebruik. Tot op hede is daar geen ervaring oor swak smaaklikheid of teengehalteprobleme nie. Die geskikte metode om die gehalte van die gewas te behou, is om hooi of kuilvoer te maak. Akkerboonhooi is geneig om baie met sojaboonhooi ooreen te stem, en is baie stingelrig. Hierdie eienskap beperk die vinnige droging van die plantmateriaal.

Die volgende resultate is verkry tydens ’n proefneming in die Dundee-distrik (KwaZulu-Natal). Die totale reënval gedurende die somerseisoen van 2003/2004 was 473,6 mm – heelwat laer as die langtermyngemiddelde van 745 mm per jaar, wat hoofsaaklik in die somer val.

Weiding het op 5 April 2004 begin en op 1 Junie 2004 geëindig, toe al die beskikbare weidingsmateriaal benut is. Vleismerino-ooie (met hulle lammers), asook droë skape het die akkerbone in die gemelde tydperk van 57 dae bewei. Tydens die beweidingstydperk het peule reeds gevorm.

Die voedingswaarde van die hele plant was soos volg: suurbestande vesel (SBV) 29,07%, neutraalbestande vesel (NBV) 43,5, en proteïen 15,46%.

Die berekende drakrag vir ’n weitydperk van twee maande (60 dae) was 15,1 kleinvee-eenhede (KVE)/ha/60 dae. Die volgende aannames is in die berekenings gebruik: een ooi met ’n gemiddelde massa van 65,3 kg is as die ekwivalent van 1,28 KVE geneem, een lam (gemiddeld 19,3 kg) is as 0,51 KVE geneem, en een droë skaap (gemiddeld 47 kg) is as een KVE geneem.

Die lammers het met gemiddeld 278,9 g/dag gegroei, en hulle gewigstoename vir die weitydperk was gemiddeld 15,9 kg/lam. Dit is baie aanvaarbaar vir lammers op hierdie tipe droëlandweiding. Hoewel die ooie in ’n lakteerfase was, het hulle ook daarin geslaag om gewig op te tel (38,6 g/dag), en dit sal tot hulle liggaamskondisie in die volgende teelseisoen bydra.

Gevolgtrekking

Akkerbone as ’n eenjarige peulgewas bied talle geleenthede vir BL-gebaseerde gewasverbouingstelsels. Hierdie gewas maak deur N-binding ’n belangrike bydrae as ’n peuldraende gewas. Met akkerbone wat algemeen as ’n droogtebestande gewas bekend is, word baie aandag daaraan geskenk om hierdie gewas te gebruik om hoëgehaltevoer in ’n droër omgewing te produseer.

Akkerbone het dus talle voordele soos om hoëgehalte-groenbemesting of dekgewas te verskaf om grond se gehalte te verbeter, dit is ’n sterk mededinger vir onkruid en verskaf hoëgehaltevoer vir die lewendehawe-produksiekomponent van ’n geïntegreerde gewas- en weidingsgebaseerde lewendehawe-produksiestelsel.

Laastens kan die saai van akkerbone saam met ’n subtropiese gewas soos mielies oor die lang termyn vir so ’n wisselboustelsel baie waardevol wees.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.

Verwysings

Van Zyl, EA & Dannhauser, CS. 2004. Cowpeas as a fodder crop. SA Co-op Vol 22 (2), November 2004.
Valenzuela, H & Smith, J. 2002. Cowpea. Green Manure Crops: Cowpea CTAHR.
2SA-GM-6