Geïntegreerde gewas- en aangeplanteweiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 20: Lablab (Lablab purpureus L., Dolichos lablab L.)

1138

Hierdie artikel is die 20ste in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in bewaringslandbou-gebaseerde (BL-gebaseerde) gewas-aangeplanteweiding-rotasies kan speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van aangeplanteweidingspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n eenjarige peul-rusoesgewas, en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplanteweiding-rotasies word.

Dit is noodsaaklik om ’n aangeplanteweidingspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en/of grondherstel. Hierdie artikel fokus op ’n dekgewas met geweldige aangeplanteweidingsgewaspotensiaal wat gebruik word om grondtoestande te verbeter en goeie weiding vir herkouers te verskaf.

Lablab purpureus L., Dolichos lablab L. of lablab

Dolichos lablab is ’n eenjarige, tweejarige of kortstondige meerjarige peulgewas (afhangend van die ekologiese sone waarin dit geplant word), met blomme waarvan die kleur van wit tot pers wissel. Dit word vir mense se dieet, as veevoer of as groenbemesting-dekgewas geplant.

Indien dit nie oorbewei word nie, kan dit ‘n tweejarige plant word. Lablab is ’n uiters waardevolle bron van proteïen vir mense en diere se dieet. Hierdie peulgewas verbeter grondvrugbaarheid deur ’n proses van stikstofbinding (N-binding) as gevolg van ’n simbiotiese verhouding tussen die plant en Rhizobium-bakterieë in die grond.

Lablab is ook bekend as ’n dekgewas wat met ander gewasse afgewissel word. Hierdie gewas is ryk aan minerale, veral fosfaat en kalsium en vitamines A en D.

Lablab in die blomstadium.

Agro-ekologiese verspreiding

Lablab is aangepas by ’n warm, vogtige klimaat met ’n reënval van 450 mm tot 1 200 mm. Wat hierdie gewas aantreklik maak, is dat dit droogtebestand kan wees wanneer dit gevestig is en met minder as 500 mm-neerslag per jaar kan groei. In sulke droogtetye kan daar egter verwag word dat die plant baie blare sal verloor.

Hierdie gewas het ’n diep wortelstelsel en kan in grond met ’n swaar tekstuur water vanaf so diep as 2 m onttrek. Hierdie peulgewas is ook daarvoor bekend dat dit kort tydperke van oorstroming kan hanteer, tensy die grond nie goed gedreineer is nie en die wortelstelsel vir langdurige tydperke oorstroom is.

Lablab kan hoë temperature oorleef en groei die beste wanneer temperature tussen 15 °C en 30 °C wissel. Dit het die vermoë om groei teen baie lae temperature te handhaaf, maar nie te lank nie, en kan deur ryp beskadig word. Hierdie spesie verskaf sy waarde in die herfs in die vorm van waardevolle voer tussen die somer en winterseisoen.

Hierdie gewas kan in ’n wye verskeidenheid grondtipes groei – van diep sandgrond tot swaar kleigrond. Die belangrikste faktor om met enige grond te oorweeg, is dat dit goed gedreineer moet wees, en al groei lablab goed in suurgrond, moet die grond-pH verkieslik nie laer as 4,5 en hoër as 7,5 wees nie.

Indien ’n mens na die grondmikrobiologie kyk wat vir doeltreffende nodulasie vir stikstofbinding nodig is, is daar getoon dat lablab nie goed met plaaslike stamme van Rhizobium noduleer nie, en dit bly belangrik om die toepaslikste Rhizobium-stam vir lablab te gebruik.

Lablab as tussengewas met mielies, Bergville, KwaZulu-Natal.
Lablab as voer en dekgewas vir ontwikkelende produsente, Mokopane, Limpopo.

Bestuur en benutting

Gewoonlik is dit uiters belangrik om ’n fyn saadbed vir kleiner saadspesies te hê, maar lablab het ’n groot saad en ’n fyn saadbed is nie ’n groot vereiste nie. Daar word aanbeveel dat hierdie gewas in rye geplant word, verkieslik 30 cm uit mekaar in die ry, met 45 cm tussen rye.

Saad kan so diep as 5 cm geplant word en moet behoorlik met grond in kontak wees. ’n Aanvaarbare saaidigtheid is 25 kg/ha. Vir voer en weiding kan 15 kg/ha tot 20 kg/ha saad in Oktober/November in rye geplant word.

Dit is uiters belangrik om die saad behoorlik te ent voordat dit geplant word. ’n Peulgewasspesie benodig nie stikstofbemesting nie, maar om stikstofbinding te verseker, kan ’n klein bietjie met plant die aanvanklike wortelstelsel ondersteun totdat die nodulasieproses ten volle funksioneel is. Lablab is bekend daarvoor dat dit ’n goeie weerstand teen siektes het en nie maklik deur insekte aangetas word nie. Hierdie peulgewas kan as hooi of kuilvoer bewaar word, en kan as groenvoer en as ’n peulgewasaanvulling met ’n hoë proteïeninhoud in matige hoeveelhede aan beeste gevoer word.

Dit kan laatseisoenweiding verskaf en werk die beste saam met mielies of voersorghum wanneer dit as tussengewas gesaai word. Indien dit vir voerdoeleindes geoes word, moet dit net voor die blomstadium gebeur. Wanneer dit gesny word, is dit noodsaaklik om voldoende stoppels op ’n hoogte van 10 cm tot 15 cm oor te laat om optimale hergroei te verseker.

Lablab as deel van ’n mengsel met Sunhennop en voersorghum, Ottosdal, Noordwes.
Lablab in ’n vegetatiewe stadium, Ottosdal.

Grondbewaring en -gesondheidsvoordele

Lablab is bekend vir sy beduidende stikstofbydrae tot grond deur middel van stikstofbinding en groot hoeveelhede stikstofvoorsiening uit ontbinde blaarmateriaal. Beter grondvrugbaarheid is dus waarneembaar wanneer lablab as dekgewas of as groenbemestingsgewas as ’n peulrusoesgewas in ’n graantussenverbouingstelsel of mult-spesie mengsel gebruik word.

Lablab wat op blomstadium met ’n snyroller platgerol is, Ottosdal.

Bestuursuitdagings

Dit is algemeen bekend dat lablab se vroeë groei stadig plaasvind en dat dit nie na vestiging aan mededinging deur onkruid blootgestel moet word nie. Navorsing het getoon dat lablabwortels ook vir aalwurmaanvalle vatbaar is, en dat die plante deur blaar-etende insekte beskadig kan word.

Ten opsigte van grondmedium-beperkings is daar bewys dat soutinhoud ’n negatiewe uitwerking op die groei van hierdie peulgewas het. Aangesien hierdie plant baie van hoë temperature hou, groei dit net regtig vinnig wanneer temperature hoër as 29°C is, en groei staak teen temperature van minder as 3°C.

Sover dit uiterste klimaatstoestande betref, het lablab ’n lae verdraagsaamheid vir ryp, veral omdat hierdie plant laat kan saadskiet. Dit raak dan die gehalte van die plant, aangesien die peule baie proteïen bevat en nie behoorlik ontwikkel voordat dit afryp nie.

Diereproduksie-aspekte

Lablab is geskik vir gebruik as voer vir beeste – as hooi, kuilvoer of as groenvoer met behulp van ’n sny-en-drastelsel. Wanneer lablab bewei word, word die blare meestal gevreet en die stingels bly agter.

Aangesien dit vinnig groei, kan dit gereelde ontblaring onder rotasieweiding weerstaan. Indien dit in die eerste seisoen matig bewei word, sal dit soms as ’n tweejarige plant optree en in die volgende seisoen goeie lente- en somerweiding verskaf. Wanneer dit bewei word, is dit noodsaaklik om voldoende hersteltyd toe te laat voordat dit weer bewei word. Dit kan in suiwer stande of in mengsels as groen weiding en staande hooi gebruik word (mengsels met mielies of sorghumkuilvoer). Dit is nie ’n goeie hooigewas in nat gebiede nie omdat die dik stingels stadig droog word.

Dit is uiters belangrik om nie honger diere toe te laat om net lablab te vreet nie, aangesien dit beslis tot opblaas sal lei, veral met jong hergroei. Daar word aanbeveel dat gemengde aangeplante weiding van gras en lablab vir weiding gebruik word, of dat die materiaal met ’n teen-opblaasmiddel bespuit word voordat dit vir weiding gebruik word.

Dit is ook noodsaaklik om te voorkom dat lablab brand, aangesien dit nie vuur verdra nie. Talle navorsingsproefnemings dui seisoenale opbrengste van 2 ton tot 6 ton DM/ha in subvogtige subtropiese gebiede aan, afhangend van die spesifieke klimaatstoestande waarin die gewas gekweek word. Tot op hede het die literatuur getoon dat die proteïengehalte verskil wanneer die blaar-tot-stingel-verhouding verander, en die proteïeninhoud kan wissel van 8,5% tot 24%, afhangend van die hoeveelheid blaarmateriaal wat teenwoordig is.

Lablab kan uitstekende hooi maak indien die blaar bewaar word en die stingelmateriaal behoorlik droog is. Dit is noodsaaklik om die droging van die stingel te verbeter deur ’n drogingsproses deur middel van meganiese kondisionering (vergruising) van die stingelmateriaal aan te wend. Wanneer kuilvoer van lablab gemaak word, word daar aanbeveel dat dit met ’n ander gewas soos sorghum gekombineer word, aangesien dit die proteïeninhoud van die sorghummengsel sal verhoog. Sorghum kan verder voldoende tannien verskaf om opblaas in ’n mate teen te werk.

Gevolgtrekking

Dolichos lablab is ’n gewas wat dikwels in tussengewas-, multi-spesie en lewendehawe-produksiestelsels onderskat word. Die belangrikste faktor om te oorweeg wanneer lablab in ’n lewendehawe-produksiestelsel gebruik word, is die bestuur daarvan ten opsigte van die teengehaltefaktor wat grootliks vir opblaas verantwoordelik is.

Indien dit behoorlik bestuur word, kan hierdie peulgewas waardevolle, proteïenryke droë materiaal vir optimale lewendehawe-produksie verskaf. Bo en behalwe die waarde van lablab in lewendehawe-produksie, maak dit as ’n dekgewas ’n belangrike bydrae tot grondvrugbaarheid.

Indien die plantbiomassa nie deur lewende hawe gebruik word nie, kan dit baie waardevol wees as ’n groenbemestingsgewas, veral omdat hierdie plant ’n groot hoeveelheid blaarval het wat verrot en tot die koolstof- en stikstofvlakke van die grond bydra, selfs voordat die hele plant vir die saai van die volgende graangewas ingewerk word.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.