Geïntegreerde gewas- en aangeplante weiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 9: Babala (Pennisetum glacun)

1297

Hierdie artikel is die negende in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in BL-gebaseerde gewas-aangeplante weiding-rotasies speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van aangeplante weidingspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n aangeplante weiding-rusoesgewas, en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplante weiding-rotasies word.

Dit is egter noodsaaklik om ’n aangeplante weidingspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en grondherstel.

Festucaarundinaceae/Langswenkgras (Tall fescue)

Langswenkgras is ’n baie algemene gematigde spesie met die baie bekende eienskap dat dit regdeur die winter groen bly. Hierdie spesie word dikwels gebruik om te verseker dat voldoende groenvoer regdeur die herfs, winter en vroeë lente in die somerreënvalstreke beskikbaar is.

Hierdie spesie vereis ongelukkig aanvullende besproeiing om optimale groei te verseker. In ’n gebied wat winterreën ontvang, sal hierdie spesie baie goed aard. Hierdie gematigde spesie is inheems in Europa, waar dit blykbaar sedert 1771 geproduseer word.

Langswenkgras groei tot op ’n hoogte van 1 200 mm en het ’n tipiese donkergroen kleur. Navorsingsverslae dui aan dat hierdie spesie sedert 1909 in Suid-Afrika aangeplant word. Van die belangrike kultivars sluit Amelie, Demeter, Dovey, Feugo, Emeraude, Jenna, Panatex en AU Triumph in.

Agro-ekologiese verspreiding

Langswenkgras is ’n spesie met ’n relatief hoë waterbehoefte van 800 mm en meer, maar doen besonder goed met besproeiing, aangesien dit ’n baie belangrike spesie is wat in voervloeiprogramme gebruik word. Dit het die vermoë om in droëlandtoestande in relatief nat gebiede soos vleie te groei.

Aangesien hierdie spesie ’n lang groeiseisoen het en die hoogste droëmateriaalproduksie gedurende die herfs en lente lewer, is dit ook belangrik om daarop te let dat langswenkgras se produksie sal afneem, veral in die somer wanneer dagtemperature hoog is, en in die winter wanneer dagtemperature uiters laag is.

Soos voorheen genoem, is langswenkgras goed by swaar kleigrond aangepas en kan tydperke van versuipte toestande oorleef. Selfs al is dit by baie toestande aangepas, word daar nie aanbeveel dat dit in goedgedreineerde hooglandgrond, teen warm noordelike hange of in ligte sandgrond geplant word nie. As daar ’n behoefte is om hierdie spesie in die warmer gebiede van die land te plant, moet dit in die koeler gedeeltes van die landskap geplant word, veral teen die suidelike hange.

Daar is egter bewyse dat langswenkgras goed in die warmer gebiede van die land kan vaar, maar slegs as water nie beperk is nie. Voldoende water is dus van die uiterste belang om oorlewing en optimale produksie te verseker.

Langswenkgras.

Bestuur en benutting

Soos vir die meeste grasspesies is mededinging met onkruid in die jong saailingstadium nadelig gedurende die vestigingsfase van langswenkgras. Daar word aanbeveel dat hierdie spesie in die herfs (April/Mei en Maart in baie koue gebiede) en selfs die lente (September/Oktober) geplant word en dat in ag neem word dat baie hoë of baie lae temperature ontkiemende plante kan doodmaak.

Wanneer dit in rye gesaai word, word ’n saaidigtheid van 10 kg/ha tot 15 kg/ha aanbeveel, en wanneer breedwerpig gesaai word, word ’n koers van 20 kg/ha aanbeveel. Onder besproeiing kan 30 kg/ha gebruik word.

Aangesien langswenkgras ’n hoë watervereiste het, vereis dit grond met ’n baie hoë grondvrugbaarheid. Om aan hierdie hoë voedingstofvereistes te voldoen, sal bemestingskoerse afhang van wat die mikpunt vir die droëmateriaal (DM) produksie  is, wat bepaal word deur die hoeveelheid neerslag (water) wat in die vorm van reënval en besproeiing beskikbaar is.

Oor die algemeen moet grond wat vir produksiedoeleindes gebruik word, bemes word om die grond se fosfaat (P)-vlakke van 35 mg/kg grond en kalium (K)-vlakke van 120 mg/kg teen ’n grond-pH van 6 tot 7 te handhaaf. Om ’n relatief hoë droëmateriaalproduksie van ongeveer 16 ton/ha per jaar te verkry, sal tot 470 kg stikstof (N) nodig wees, veral onder besproeiingstoestande.

Hierdie stikstofbemesting kan in twee of drie aanwendings gegee word. Dit is bekend dat besproeide langswenkgras onder baie hoë vrugbaarheidstoestande met gereelde ontblaring in die omgewing van 12 tot 13 ton DM/ha/jaar kan produseer.

Hierdie produksie kan met ongereelde ontblaring afneem. Navorsing het getoon dat besproeide langswenkgras/klawer-mengsels met gereelde ontblaring 11 ton DM/ha/jaar kan produseer. As kort beweiding gedurende die warmste somermaande vermy word, sal dit goeie weiding vir die res van die jaar verseker.

Langswenkgras is ook daarvoor bekend dat dit ’n baie goeie spesie vir wintervoerdoeleindes is, en met sorg kan ’n goeie gehalte hooi geproduseer word. ’n Baie algemene metode van benutting is om kuilvoer daarvan te maak, veral voordat die stingels heeltemal ontwikkel het.

Langswenkgras-bloeiwyse.

Bestuursuitdagings

Wanneer ’n gematigde meerjarige aangeplante weiding in ’n somerreënvalstreek gebruik word, is die skedulering van besproeiing van die uiterste belang. Beweiding van hierdie aangeplante weiding op die korrekte tyd om die nadelige effek op die lewensvatbaarheid en prestasie daarvan te vermy, kan uitdagend wees as in ag geneem word dat die aangeplante weiding in die somer groen bly, maar dat die groeikoers minimaal is. Verkeerde weidingsbestuur van hierdie aangeplante weiding buite sy groeitydperk kan oorbeweiding tot gevolg hê.

Grondbewaring en gesondheidsvoordele

Vir die somerreënvalgebiede kan hierdie aangeplante weiding vir die wintertydperk gebruik word as bykomende besproeiing beskikbaar is. Dit het die vermoë om die vogtoestande binne die besproeiingstelsel te benut, veral as graangewasse dikwels daar gekweek word.

Met langswenkgras wat aktief groei en die daaropvolgende weiding wat regdeur die herfs, winter en vroeë lente beskikbaar is, is die voordele van voedingstofherwinning (mis en urine) en grondversteuring as gevolg van die vee se pote duidelik.

Hierdie faktore kan help om die grond se toestand te herstel wat deur reënval en intensiewe aanvullende besproeiing regdeur die normale groeiseisoen van die graangewas geskep is.

Diereproduksie-aspekte

As die instandhouding van goeie grondvrugbaarheid in ag geneem word, is dit belangrik dat langswenkgras ten opsigte van die gehalte daarvan bestuur word. Langswenkgras is geneig om in die laat somer saad te skiet wanneer dit dikwels baie onsmaaklik is en dit nie die beste tyd is om dit vir weiding te gebruik nie; dit moet glad nie bewei word as dit duidelik is dat daar onvoldoende groei is nie.

Navorsing het getoon dat langswenkgras wat goed bestuur en gereeld ontblaar word, ru-proteïenwaardes van 17,5% tot 19,5%, ruveselwaardes van 24% tot 29% en totale verteerbare voedingstowwe (TVV) van 60% tot 64% kan lewer, met die laagste waardes in die herfs en die hoogste waardes in die laat winter en vroeë lente.

Navorsing oor die gemiddelde weidingkapasiteit van langswenkgras het getoon dat dit aanvaarbaar is om te verwag dat ongeveer 3,5 volwasse grootvee-eenhede (GVE)/ha met ’n lewende gewigstoename van 490 kg/ha gedra kan word. Ten opsigte van skaapproduksiestelsels kan 20 tot 25 skaap/ha ekonomies lewensvatbaar wees.

Graangewasproduksie

Nadat ’n tipiese rusoesgewasstelsel met langswenkgras vir ’n tydperk van ongeveer drie tot vyf jaar gebruik is, behoort die grond genoeg herstel te wees om eenjarige graangewasse onder ’n BL-stelsel te kweek.

Onkruiddoders maak die aangeplante weiding vinnig dood en die aangeplante weidingreste bly op die grond se oppervlak, wat bedekking verskaf wat erosie beperk en waterinfiltrasie bevorder, asook hulle tempo van mineralisasie verminder. Wanneer ’n besluit geneem is om die rusoes te beëindig, moet alle aangeplante weidingskomponente beskou word as “onkruid” wat verwyder moet word. Dit moenie meer as bron van voer vir lewende hawe gesien word nie.

In sekere situasies/gebiede kan ’n eenjarige peulgewas geplant word direk nadat die rusoesgewas verwyder is, soos weiwieke (Viciavillosa) as wintergewas of akkerbone (Vicnaunguiculata) en sojabone (Glycine max) in die volgende somer, gevolg deur mielies (Zea mays) in die gewasrotasie.

Die watervereistes vir die eerste oes wat ná die aangeplante weiding beplan word, sal die tydsberekening vir die verwydering van die aangeplante weiding beïnvloed, veral in die droër westelike graanproduksiestreke van Suid-Afrika. Betroubare en tydige seisoenale reënvalvoorspellings kan met hierdie beplanning help. Ná die aangeplante weidingfase sal die graanoesopbrengs in die droër streke beperk word, tensy die grondwater-profiel aangevul word.

Nadat die aangeplante weiding verwyder is, moet onkruid in die braakland beheer word om grondwater te bewaar sodat die maksimum voordele van die rusoes verkry kan word. ’n Geskikte geenbewerkingsplanter moet gebruik word om die graangewasse direk in die reste van die aangeplante weidingsgewas te plant sonder enige ander bewerkingspraktyk wat die grond versteur.

Normale geïntegreerde bemestings- (gegrond op grondvrugbaarheidsvlakke en opbrengsmikpunte), onkruid- en plaagbeheerpraktyke moet gevolg word. Tydens die transformasiefase nadat nuwe BL-graanlanderye gevestig is (byvoorbeeld tydens die eerste paar jaar ná die verwydering van ’n rusoesgewas), word ’n toename van 30% in N-bemesting op mielies aanbeveel omdat die N in die grond geïmmobiliseer is.

Daarna moet die beskikbaarheid van N vir die plant deur middel van ’n geskikte ontleding geëvalueer word, en bemestingsaanwending moet dienooreenkomstig aangepas word.

Gevolgtrekking

In ’n voervloeiprogram van ’n diereproduksiestelsel word langswenkgras beskou as ’n baie belangrike aangeplante weiding, aangesien dit die gapings in die aangeplante weidingvraag vul in dié tye wanneer subtropiese aangeplante weidings nie optimaal groei of die beste gehalte het nie.

Die belangrikste vereiste is egter dat hierdie spesie voldoende water nodig het, en as die water beperk is, sal hierdie spesie nie goed groei nie en is dit nie die geskikste spesie vir ’n lewendehawe-produksiestelsel nie. Wanneer dit in ’n winterreënvalstreek geleë is, of in ’n streek wat regdeur die jaar reën ontvang, is dit ongetwyfeld ’n spesie wat met groot sukses met die korrekte weidingsbestuurstrategie gebruik kan word.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.