Geïntegreerde gewas- en aangeplante weiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 6: Bloubuffelsgras (Cenchrus ciliaris)

2342

Hierdie artikel is die sesde in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in bewaringslandbou-gebaseerde (BL-gebaseerde) gewas-aangeplante weiding-rotasies speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van aangeplante weidingspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n aangeplante weiding-rusoesgewas, en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplante weiding-rotasies word. Dit is egter noodsaaklik om ’n aangeplante weidingspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en/of grondherstel.

Cenchrus ciliaris/Bloubuffelsgras (blue buffalo grass)

Bloubuffelsgras, ook bekend as jakkalsstert-buffelsgras, is ’n inheemse polgras met ondergrondse wortelstokke. Hierdie gras het ’n tipiese blougroen kleur, soos die Molopo-kultivar, of ’n heldergroen kleur soos die Gayndah-kultivar.

Die Molopo-kultivar kan tot 1 500 mm hoog groei. Die algemeenste kultivar wat in Suid-Afrika beskikbaar is, is Molopo, wat na die plek van oorsprong vernoem is. Die Gayndah-kultivar word gewoonlik van Australië af ingevoer en het reeds sy aanpasbaarheid en potensiaal in talle dele van die land getoon. Hierdie kultivar het ’n fyner struktuur as die Molopo, en dit gee ’n smaakliker aangeplante weiding en beter gehalte wintervoer.

Agro-ekologiese verspreiding

Die droogtebestandheid van hierdie grasspesie maak dit ’n goeie somerweiding en hooigewas, veral in die droër dele van die land. Hierdie spesie het die vermoë om in gebiede te oorleef wat so min as 300 mm reën per jaar kry.

Bloubuffelsgras sal die beste groei in ’n gebied waar die temperatuur en ligintensiteit hoog is. Wanneer die dagtemperature hoog is en nagtemperature medium tot laag, kan daar verwag word dat groei geaffekteer sal word. Hierdie gras moet verkieslik by hoogtes van meer as 1 550 m bo seespieël geplant word. Australiese navorsing het aangedui dat as geen ander beperkende faktore teenwoordig is nie, die gras die beste by ’n temperatuur van 35 ºC sal groei.

Bloubuffelsgras groei goed in die meeste grondsoorte, behalwe in ligte sandgrond. Sommige swaar kleigrondsoorte is ook geskik, hoewel die vestiging van hierdie spesie in hierdie grond moeilik is, en die risiko vir versuiping vir hierdie spesie in sulke grond is dikwels groot.

Grond met ’n pH onder 5,5 is nie geskik vir die vestiging van die gras nie, tensy kalk bygevoeg word om die pH reg te stel. Navorsing dui voorts aan dat bloubuffelsgras nie goed vestig in grond met ’n lae fosfaatinhoud (P-inhoud) nie, en gevolglik oorleef saailinge swak.

Bestuur en benutting

Die vestiging van bloubuffelsgras kan dikwels ’n groot uitdaging wees. Sorgsaamheid en geduld is noodsaaklik wanneer hierdie spesie geplant word. Die grond moet goed bewerk word, verkieslik 300 mm diep in die herfs van die vorige jaar, of so vroeg as moontlik in die jaar waarin daar geplant word.

Kalk kan bygevoeg word op dieselfde tyd as wat die grond bewerk word om eweredige inwerking te verseker. Ligte bewerking met ’n skottelploeg word aanbeveel om vog so goed as moontlik te bewaar, onkruid te beheer en ’n ferm saadbed te behou teen die tyd dat daar geplant word. Superfosfaat kan aangewend word voor die finale voorbereiding van die saadbed om fosfaatinhoud (P-inhoud) van die grond van ongeveer 15 mg/kg tot 20 mg/kg grond te verseker.

Die vestiging van bloubuffelsgras is ’n delikate proses. In die gebiede van die land waar die omgewing geskik is, word daar aanbeveel dat hierdie spesie aan die einde van Januarie tot die middel van Februarie geplant word. Dit is moontlik om vroeër te plant, maar onkruidbeheer kan dikwels ’n probleem wees. Die beste tyd vir plant is wanneer die reënval gereeld en betroubaar voorkom. Dit is noodsaaklik dat saad wat vars geoes is, nie geplant word nie, aangesien die saad nege tot twaalf maande nodig het om ryp te word nadat dit geoes is. Daar word aanbeveel dat gesertifiseerde saad gebruik word om die koper sowel as die verkoper te beskerm.

Die saaikoers kan wissel tussen 4 kg/ha wanneer die land se produksiepotensiaal laag is, en 6 kg/ha vir ’n land met ’n hoë produksiepotensiaal.

Verpilde saad kan teen ’n saaikoers van 5 kg/ha tot 8 kg/ha geplant word. ’n Baie belangrike determinant vir die suksesvolle vestiging van bloubuffelsgras is die metode wat gebruik word om die gras te vestig.

’n Bloubuffelsgras-saadkop.
’n Goeie stand bloubuffelsgras.

 

Goed-bemeste bloubuffelsgras.

 

Kultivar Gayndah (links) en Molopo (regs).

 

Bloubuffelsgras vir wintervoer.
Erosiebeheer.

Die drie metodes vir vestiging is:

  • Saadstrooiing (breedwerpig): Hierdie metode word aanbeveel wanneer digte plantpopulasies vereis word, veral gebiede wat besproei moet word of in gebiede waar die grondvrugbaarheid en reënval hoog is.
  • Ryplanting: Hierdie metode word aanbeveel vir gebiede met ’n lae reënval en wanneer die land ’n lae produksiepotensiaal het. Die afstand tussen die rye sal volgens omgewingstoestande verskil. In ’n gebied waar die reënval tussen 400 mm en 550 mm wissel, kan spasie tussen die rye soveel as 2 000 mm wees, terwyl in ’n gebied met ’n reënval van 600 mm en hoër die spasie tussen die rye 750 mm kan wees. ’n Mielieplanter, die trekkerwielmetode of ’n spesiaal-ontwerpte bloubuffelsgrasplanter kan gebruik word om die gras te vestig. Hierdie saad moet nooit dieper as 5 mm geplant word nie, aangesien dit ontkieming sal vertraag en die vestiging negatief sal beïnvloed.
  • Die plant van wortelsteggies: Bloubuffelsgras kan ook geplant word deur wortelsteggies te gebruik. Gebruik steggies wat drie tot vier aktiewe ogies het. Plant die wortelsteggies in grond wat nat genoeg is, en maak seker dat die grond om die steggie behoorlik gekonsolideer is. Om 1 ha te plant, sal twintig tot dertig 50 kg-sakke nodig wees.

Die bemesting van bloubuffelsgras moet ooreenstem met die hoeveelheid vog wat ontvang is. In die droër westelike en noordelike dele van die land waar lae reënval voorkom, is dit kritiek dat die bemestingkoerse aangepas word.

Die gewildheid van bloubuffelsgras het toegeneem en dit kan dikwels in die sentrale en oostelike dele van die land gesien word, veral in die Laeveld-gebiede langs die pad. Die bemestingkoerse sal dus deur reënval en kunsmispryse bepaal word.

Bemesting tydens vestiging is belangrik, en kalk sal nie noodwendig beduidend hoër opbrengste verseker nie. Indien die grond se pH tot bokant 6 verhoog word, sal optimale opname egter verseker word van voedingstowwe wat vereis word vir groei en weerstandigheid teen beperkende faktore wat groei belemmer. Dit is noodsaaklik dat die fosfaat (P)-inhoud van die grond voldoende moet wees, aangesien navorsing getoon het dat bloubuffelsgrassaailinge ’n hoë P-vereiste het.

As daar aan die algemene aanbevelings vir kunsmis voldoen word, sal dit nie nodig wees om binne drie jaar met P te bemes nie. Die volgende jaar se superfosfaat kan aangewend word om die grond se P-inhoud op 15 mg/kg grond en hoër te behou. In hoogs produktiewe gebiede kan dit voordelig wees om die aanwending van P tussen die lente en die somer te verdeel.

Ten opsigte van aanbevelings oor stikstofbemesting (N) is dit dikwels baie moeilik om ’n duidelike aanbeveling te verkry, aangesien dit grootliks van die reënval as bepalende faktor afhanklik is. ’n Baie algemene aanbeveling wat gegrond is op navorsingsbevindings by die Mara-navorsingstasie wissel tussen 40 kg tot 100 N/ha vir ’n gebied wat ’n reënval van 400 mm tot 800 mm kry.

Hierdie aanwendings kan oor twee tydperke verdeel word. Met die produksie van hooi, en die ooreenstemmende verwydering van kalium (K), sal die K gereeld in die vorm van kaliumchloried (KCI) teen ’n koers van 50 kg tot 100 K/ha aangewend moet word.

Bestuursuitdagings

Een van die belangrikste faktore wat die gehalte van bloubuffelsgras bepaal, is die ouderdom van die materiaal sedert die laaste oes. Hoe ouer die materiaal is, hoe minder aanvaarbaar sal die hooi vir die dier wees.

Verteerbaarheid en dus die voedingswaarde sal aansienlik afneem namate die plant ouer word. Om hierdie redes moet die produsent probeer om die hooi elke ses tot agt weke (ongeveer 750 mm hoog) te sny.

’n Hoër hooi-opbrengs kan verkry word, maar dit sal moontlik van ’n laer gehalte wees as die tydperke tussen die oeste langer is, dus minder oeste. Die gehalte van die hooi wat op die korrekte stadium gesny word, kan voldoende wees om droë en dragtige beeste gedurende die wintermaande in stand te hou.

Ten opsigte van weiding is diere geneig om eerder die blaarmateriaal as die stingels te vreet. As die diere gedwing word om die stingels te vreet, is dit moontlik dat ’n onvoldoende hoeveelheid voer beskikbaar is en diereproduksie sal negatief beïnvloed word.

’n Goeie praktyk om afgevrete bloubuffelsgras hergroei te gee, is om die aangeplante weiding elke twee tot drie jaar met ’n getande implement te belug, afhangend van die tekstuur en die voginhoud van die grond. Kleigrond is minder afhanklik van hierdie praktyk as die meeste ander grondsoorte, en dit is raadsaam om hierdie praktyk te gebruik wanneer grond nie te droog is nie.

Grondbewaring en gesondheidsvoordele

Bloubuffelsgras is ’n spesie wat wyd aangepas is en het die vermoë om in verskillende grondtoestande te groei en al die hulpbronne wat beskikbaar is, optimaal te benut. Aangesien dit goed by droër toestande aangepas is, word dit baie aantreklik om hierdie spesie te gebruik om grond te laat rus en die grondgehalte onder uiterste klimaatstoestande te herstel.

Met die hoeveelheid droë materiaal wat onder verskillende vogtoestande geproduseer word, het hierdie spesie die vermoë om, net soos talle ander subtropiese grasse, die grondtemperatuur te verlaag, wat verdere saadontkieming sal bevorder, en ook voorkom dat vog uit die grond verdamp. Hierdie behoud van vog word eerder gebruik vir plantgroei wat uiteindelik sal bydra tot organiese materiaal wat gedeeltelik vir veevoer gebruik kan word, of tot grondorganiese materiaal afgebreek word, en dan ook ’n mededinger vir ongewenste, waardelose onkruidspesies sal wees.

Diereproduksie-aspekte

Dit is algemeen bekend dat bloubuffelsgras onsmaakliker kan raak hoe ouer dit word, en veral as dit té hoog uitgroei. Op hierdie stadium ontwikkel te veel dik stingels, wat die diere vermy wanneer hulle wei.

Net soos produksie deur reënval en bemesting beïnvloed word, só sal die weidingkapasiteit ook beïnvloed word. Weidingkapasiteitwaardes is in die verlede op gemiddeld 1,2 GVE/ha/180 dae vir die Bloemfontein- en die Mara-distrik vasgestel, met ’n langtermyn gemiddelde reënval wat van 400 mm tot 550 mm wissel. Op die Springbokvlakte is ’n weidingkapasiteit van 1,1 en 1,5 LSU/ha/180 dae vasgestel. Dit kan egter so laag as 0,8 GVE/ha/180 dae wees, en met hoë reënval of besproeide gebiede kan dit tot 2,5 GVE/ha/180 dae styg.

Diereproduksie op bloubuffelsgras kan gewigstoenames van 140 kg/ha tot 185 kg/ha lewer, en kan so hoog as 345 kg/ha word. Talle navorsers en skrywers beveel aan dat hierdie spesie slegs vir jong, groeiende diere gebruik word om die mees ekonomiese resultate te verkry.

Aan die ander kant kan hooiproduksie in lae reënvalstreke so laag as 2 ton/ha wees. Opbrengste van tot 12 ton/ha in hoë reënvalstreke is egter al verkry. Met ’n ses- tot agt weke hergroei van bloubuffelsgras wat goed bemes is, kan ru-proteïenwaardes van tot 12%, ruveselwaardes van 35% tot 50%, en ’n verteerbaarheid van 55% tot 65% verkry word.

As deel van ’n diereproduksiestelsel is dit belangrik om alternatiewe gebruike vir aangeplante weidingspesies te hê, en bloubuffelsgras het die potensiaal om ook as ’n winterweiding gebruik te word. Hierdie spesie kan dus van sy kwaliteit behou om saam met die byvoeging van ’n winterlek diere se gewig in stand te hou.

Graangewasproduksie

In die noordwestelike en sentrale dele van ons land waar graangewasproduksie prominent is, kan bloubuffelsgras gewoonlik vir ’n tydperk van ongeveer vyf jaar in ’n gewasproduksiestelsel gebruik word. Ná hierdie tydperk sal die grond genoeg herstel het om eenjarige graangewasse onder ’n BL-stelsel te verbou.

Onkruiddoders maak die aangeplante weiding vinnig dood en die aangeplante weidingreste bly op die grond se oppervlak, wat bedekking verskaf wat erosie beperk en waterinfiltrasie bevorder asook hulle tempo van mineralisasie verminder. Wanneer ’n besluit geneem is om die rusoes te beëindig, moet alle lewende plante beskou word as “onkruid” wat verwyder moet word. Dit moenie meer as bron van voer vir lewende hawe beskou word nie.

Afhangend van die aangeplante weidingspesie en die situasie (byvoorbeeld droë of nat gebied) kan die aangeplante weiding doodgemaak word ’n seisoen voordat graangewasse geplant word om toe te laat dat die grondprofiel met water aangevul word. Die watervereistes vir die eerste oes wat ná die aangeplante weiding beplan word, sal die tydsberekening vir die verwydering van die aangeplante weiding beïnvloed.

Betroubare en tydige seisoenale reënvalvoorspellings kan met hierdie beplanning help. Na die aangeplante weidingsfase, sal die graanoesopbrengs beperk word tensy die grondwaterprofiel aangevul word. Nadat die aangeplante weiding verwyder is, moet onkruid in die braakland beheer word om grondwater te bewaar om die maksimum voordele van die rusoes te verkry.

’n Geskikte geenbewerkingsplanter moet gebruik word om die graangewasse direk in die reste van die aangeplante weidingsgewas te plant sonder enige ander bewerkingspraktyk wat die grond versteur. Normale geïntegreerde bemestings- (gegrond op grondvrugbaarheidsvlakke en opbrengsmikpunte), onkruid- en plaagbeheerpraktyke moet gevolg word.

Gevolgtrekking

Cenchrus cilliaris (bloubuffelsgras/blue buffalo grass) word beskou as een van die beste aangeplante weidingspesies wat by droë en nat toestande aangepas is. Dit het die vermoë om aangeplante weiding van ’n goeie gehalte te produseer as dit korrek bestuur word.

Soos by ander subtropiese spesies kan hierdie spesie ook wanbestuur word en dan is die waarde daarvan baie min. Met goeie vestiging, reënval en vrugbaarheid (ongeag hoeveel) kan hierdie spesie wonderlike weiding en hooi van ’n hoë gehalte vir diereproduksie bied, terwyl die grond vir toekomstige graanproduksie herstel word.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter @up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.