Geïntegreerde gewas- en aangeplante weiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 2: Oulandsgras (Eragrostis curvula)

2866

Hierdie artikel is die tweede in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in bewaringslandbou-gebaseerde (BL-gebaseerde) gewas-weiding-rotasie speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van weidingspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n aangeplante weiding- of grasrusoesgewas, en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-weiding-rotasies word. Dit is egter noodsaaklik om ’n weidingspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewende hawevoer en/of grondherstel.

Eragrostis curvula

Oulandsgras (weeping lovegrass)

Agtergrond

Oulandsgras is reeds vroeg in die 1930’s in KwaZulu-Natal geplant. Dit was gewild as gevolg van die vermoë daarvan om in relatief onvrugbare grond te groei, en dit het tot die Afrikaanse naam van oulandsgras aanleiding gegee.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het alle navorsing oor veldweiding tot stilstand gekom, maar na die oorlog is oulandsgrassaad op die plaas Welgelegen naby Ermelo ingesamel. Hierdie saad is toe op verskeie eksperimentele plase van die Departement van Landbou geplant en geëvalueer, en daaruit het die Ermelo-kultivar bekend geraak.

Agro-ekologiese verspreiding

Die Ermelo-kultivar is steeds die gewildste, en word uitgebreid in die kouer Hoëveld-gebiede van Suid-Afrika gebruik. Die rede vir die gewildheid daarvan is sy vermoë om by ’n verskeidenheid klimatologiese en grondtoestande aan te pas. Hoewel dit in reënvaltoestande van so laag as 450 mm sal oorleef, word dit hoofsaaklik in koeler areas met ’n reënval van 650 mm en hoër verbou. Dit kan strawwe ryp oorleef en sal in amper enige grond groei, selfs in sandgrond met ’n lae pH. Een toestand waarby dit nie aangepas is nie, is nat, versuipte grond.

Bestuur en benutting

Daar is verskeie kultivars in Suid-Afrika geregistreer, insluitende Ermelo, Agpal en PUK 436. American leafy is ’n Amerikaanse kultivar wat dikwels ook ingevoer word. Die Ermelo-kultivar is die algemeenste kultivar en het homself bewys as ’n baie goeie hooigewas, terwyl PUK 436 die vermoë het om tot later in die herfs groen te bly en dus beter bekend is vir sy weidingspotensiaal.

Aangesien oulandsgras baie fyn saadjies het, moet dit in ’n goed voorbereide, fyn en ferm saadbed gevestig word. Dit moet behoorlik gerol word voor en nadat daar gesaai is om ontkieming en vestiging grootliks te bevorder. Vestiging kan met suiwer oulandsgrassaad gedoen word, of in ’n mengsel met eenjarige Eragrostis tef (tef). Die beste tyd vir die vestiging is November/Desember, of in Februarie as breëblaaronkruid ’n probleem is.

As oulandsgras as enkelgewas in hoërreënval-gebiede gevestig word, word ’n saaidigtheid van 4 kg/ha tot 6 kg/ha aanbeveel. Wanneer dit in hoërreënvalgebiede gestrooi moet word, is 6 kg/ha tot 8 kg/ha die aanbeveling.

Wanneer onkruid indringing as ernstige probleem waargeneem word, of wanneer vinnige vestiging vereis word, kan ’n mengsel van oulandsgras en tef gebruik word. Die volgende mengsels word aanbeveel:

  • Lae reënval (strooiing): 2 kg/ha tot 4 kg/ha oulandsgras plus 4 kg/ha tot 6 kg/ha tef.
  • Lae reënval (rye): 2 kg/ha oulandsgras plus 5 kg/ha tef.
  • Hoë reënval (strooiing): 6 kg/ha tot 8 kg/ha oulandsgras plus 8 kg/ha tot 10 kg/ha tef.
  • Hoë reënval (rye): 3 kg/ha oulandsgras plus 6 kg/ha tef.

Soos voorheen genoem, sal rolling voor en nadat daar gesaai is ’n goeie saad-grond-kontak verseker wat ontkieming en die vestiging van saailinge met ongeveer 20% tot 40% sal verbeter, afhangend van die tipe grond en die toestand daarvan.

Hoewel oulandsgras in grond met ’n lae pH sal groei, word daar aanbeveel dat die grond se pH tot ’n vlak van 6 tot 7 verbeter word deur kalk toe te dien en in te werk voordat dit gevestig word. Die fosfor-inhoud (P) van die grond behoort verder voor vestiging 15 mg/kg tot 20 mg/kg te wees, terwyl die kalium-inhoud (K) tussen 100 mg/kg en 150 mg/kg behoort te wees.

Dit is belangrik om hierdie grondvrugbaarheidsvlakke te moniteer en in stand te hou, veral in die geval van hooiproduksie waar geen herbenutting van voedingstowwe deur die mis en/of urine plaasvind nie.

Geel en verpotte gras is ’n teken van ’n tekort aan stikstof. ’n Jaarlikse toediening van 60 kg/ha tot 210 kg/ha suiwer N (± 200 kg tot 750 kg kalksteenammoniumnitraat), afhangend van reënval, is in die verlede met goeie gevolge gebruik. Met huidige kunsmispryse is die ekonomie van hoë kunsmisvlakke onder die loep en ’n laer optimum aanwending van 150 kg N/ha (± 500 kg kalksteenammoniumnitraat) word gewoonlik met veelvoudige aanwendings gebruik.

Een van die voordele van hierdie gras is sy hergroei in die vroeë lente (voor talle ander aangeplante weidings) wat weiding gedurende ’n tydperk van onvoldoende en beskikbare voer verskaf. Goed bemeste oulandsgras wat in ’n vroeë en blaarryke stadium gevreet word, kan gebruik word vir hoogs produserende diere, soos jong osse en melkbeeste. Vir die beste resultate word ’n vinnig-roterende weidingstelsel aanbeveel wat 1,5 tot 4,0 GVE’s per hektaar vir die groeiseisoen (Oktober tot Maart) kan onderhou.

Om die beste gehalte hooi te produseer, moet die werk in een dag voltooi word. Begin vroeg in die oggend (05:00) in die somer sny en gebruik ’n hooiskudder om die gras twee tot drie keer deur die dag op ’n sonnige dag om te draai, en dit sal teen laatmiddag gereed wees om te baal. Opbrengste van tussen 4 ton/ha en 13 ton/ha kan verwag word, aangesien dit direk verband hou met reënval wat ontvang is en voedingstowwe wat aangewend is.

Vir talle mense is die praktyk om oulandsgras te brand nie aanvaarbaar nie, aangesien daar beweer word dat dit grasproduksie verlaag. Hierdie verlaging in produksie is egter nie as gevolg van die brand nie, maar eerder van verkeerde weidingspraktyke daarna, met ander woorde te gou en te dikwels.

Bestuursuitdagings

Oulandsgras het ’n goed beplande bemestingsprogram nodig om produksie, gehalte en smaaklikheid te bevorder. Die grootste uitdaging wat met die maak van hooi ervaar word, is om dit op die korrekte groeistadium te sny. Oulandsgras word dikwels gesny wanneer dit lyk of die produksie hoog is en die spesie se bloeiwyse heeltemal ontwikkel het, maar dit is gewoonlik wanneer die gehalte op sy laagste is.

Daar word aanbeveel dat dit gesny word wanneer die hele aanplanting by 10% van sy blomstadium is. Dit word dikwels waargeneem wanneer die grasveld van liggroen na ’n donkerder, blou-groen kleur verander. Dit is ook bekend dat oulandsgras nie goeie staande hooi uitmaak nie en liewer vir lente- en vroeë somerweiding en hooiproduksie later in die somer gebruik moet word.

Grondbewaring en gesondheidsvoordele

As gevolg van oulandsgras se vermoë om by verskillende grond- en klimaatstoestande aan te pas, is dit bekend as ’n betroubare aangeplante weiding met verskeie voordele. Benewens dat dit met goeie bestuur goeie gehalte hooi en weiding verskaf, is dit ook bekend dat hierdie spesie die verbetering van grondtoestande bevorder.

Dit word veral gesien by sandgrond, aangesien dit as grondbinder optree, die erosie van die sanderige bogrond verhoed, en die organiese materiaal in die grond verbeter as gevolg van die sterk en vrugbare wortelstelsel wat die spesie het. Bykomend tot hierdie spesie se inherente eienskap om maklik in grond van ’n swak gehalte te vestig en te groei, het dit ook die vermoë om voedingstowwe meer doeltreffend te benut. Dit is voordelig, aangesien dit goeiegehalte-veldweiding teen ’n laer koste verskaf omdat dit voedingstowwe baie doeltreffend gebruik terwyl dit ook die grondstruktuur herstel.

Oulandsgras (weeping lovegrass).

 

Oulandsgras (weeping lovegrass).

Diereproduksie-aspekte

Oulandsgras kan ’n weidingkapasiteit van 1,5 GVE/ha tot 4,0 GVE/ha verskaf. Benewens die hoeveelheid beskikbare voer wat die spesie verskaf, sal die voedingswaarde ’n noodsaaklike rol speel by die smaaklikheid van die weiding en die hoeveelheid weiding wat deur die dier ingeneem word. Stikstofbemesting kan dus ’n positiewe uitwerking op die verteerbaarheid van die weiding hê, en nog belangriker, op die ru-proteïen-inhoud (RP-inhoud). Volgens die werk wat reeds in die 1980’s deur Rethman gedoen is, is daar getoon dat die ru-proteïenvlakke van tot 19% met 240 kg N/ha bereik kan word.

Bykomend tot die voedingswaarde wat oulandsgras (met goeie voedingstofbestuur) kan verskaf, het die spesifieke groeistadium ook ’n invloed op die gehalte van die materiaal wat ingeneem word. Wanneer hooi in die pypstadium geproduseer word (met ander woorde net voor die aanvang van die voortplantingstadium wanneer die bloeiwyse ontwikkel) kan beter lewende hawe-produksie van verwag word. Ten opsigte van die gemiddelde daaglikse toename (GDT) het navorsing getoon dat ’n gemiddelde van enigiets tussen 240 g/dag tot 650 g/dag bereik kan word. In totaal kan diere se gewig tot soveel as 750 kg/ha tot 1 000 kg/ha oor ’n hele groeiseisoen toeneem.

Graangewasproduksie

Nadat ’n tipiese grasrusoesstelsel met oulandsgras vir ’n tydperk van ongeveer vyf jaar gebruik is, behoort die grond genoeg herstel te wees om eenjarige graangewasse onder ’n BL-stelsel te kweek. Onkruiddoders maak die weidingsgewas vinnig dood en die dooie weidingreste bly op die grond se oppervlak en verskaf bedekking wat erosie beperk en waterinfiltrasie bevorder, en ook die tempo van mineralisasie verminder.

Wanneer ’n besluit geneem is om die rusoes te beëindig, moet alle lewende weidingsgewaskomponente beskou word as “onkruid” wat verwyder moet word. Dit moenie meer as bron van voer vir lewende hawe gesien word nie.

Afhangend van die weidingspesie en die situasie (byvoorbeeld droë of nat gebied) kan die gewas doodgemaak word ’n seisoen voordat graangewasse geplant word om toe te laat dat die grondprofiel met water aangevul word. Die watervereistes vir die eerste oes wat ná die weiding beplan word, sal die tydsberekening vir die verwydering van die weiding beïnvloed. Betroubare en tydige seisoenale reënvalvoorspellings kan met hierdie beplanning help. Ná die weidingsfase, sal die graanoesopbrengs beperk word tensy die grond-water-profiel aangevul word. Nadat die weidingsgewas verwyder is, moet onkruid in die braakland beheer word om grondwater te bewaar om die maksimum voordele van die rusoes te verkry. ’n Geskikte geenbewerkingsplanter moet gebruik word om die graangewasse direk in die reste van die weidingsgewas te plant sonder enige ander bewerkingspraktyk wat die grond versteur. Normale kunsmistoedienings (gegrond op grondvrugbaarheid en opbrengsmikpunte), onkruid- en plaagbeheerpraktyke moet gevolg word.

Gevolgtrekking

Oulandsgras kan as lae-inset aangeplante weidingsgewas ’n beduidende rol in bewaringslandbou speel. As gewaslanderye onafgebroke vir talle jare bewerk is en die gesondheid van die grond afgeneem het, kan hierdie spesie baie suksesvol geplant word en die grond herstel word sodat hooi of weiding van ’n goeie gehalte terselfdertyd verskaf word. Die tweeledige voordeel van grondrehabilitasie saam met die opbrengs van lewende hawe-produksie onderstreep die langtermynwaarde ten opsigte van die grasrusoesstelsels met bewaringslandbou.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.