Geïntegreerde gewas- en aangeplante weiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 17: Lupines (Lupinus spp.)

2229

Hierdie artikel is die 17de in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in bewaringslandbou-gebaseerde (BL-gebaseerde) gewas-aangeplante weiding-rotasies speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van aangeplante weidingspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n aangeplante weiding-rusoesgewas, en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplante weiding-rotasies word.

Dit is noodsaaklik om ’n aangeplante weidingspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en/of grondherstel. Hierdie artikel fokus op ’n eenjarige weidinggewas wat algemeen in agronomie gebruik word om grondtoestande te verbeter om goeie weiding vir skape te verskaf.

Lupinus spp., lupines of lupins

Daar is na bewering ongeveer 120 spesies lupines. Daar is slegs drie spesies eenjarige lupines wat vir landboudoeleindes belangrik is. Dit sluit die geellupine (L. luteus), die witlupine (L. albus), ook bekend as die Italiaanse lupine, en die bloulupine (L. angustifolius), ook bekend as die smalblaarlupine, in.

Een van die vernaamste eienskappe van lupines is die teenwoordigheid van alkaloïede in die plant, wat bepaal hoe soet of bitter die plant is.

L. luteus-blomme.
L. albus.

Agro-ekologiese verspreiding

Lupines kan in die winterreënval- en/of die somerreënvalstreek van die land geplant word. ’n Baie algemene produksiegebied vir hierdie spesie is die kusstreke van die Wes-Kaap, wat veral vir skaapproduksie geskik is.

Die algemeenste spesies wat in die Wes-Kaap geplant word, is L. angustifolius, wat vir sandgrond gewild is, en L. albus wat beter by leemgrond aangepas is. Hierdie lupinespesies is daarvoor bekend dat dit makliker as ander peulgewasse vestig.

Hulle verkies ’n effense suur (nie baie suur nie) en armer grond, en die stikstof wat hulle produseer is uiters waardevol vir die opvolggewas wat in daardie grond geplant word. Die eenjarige witlupine, wat in die somerreënvalstreek ook as die soet witlupine bekendstaan, vereis matige temperature vir die beste groei en ontwikkeling.

Dit floreer dus in die koel, vogtige areas van die Hoëveldstreke in Mpumalanga, die Oos-Vrystaat en die KwaZulu-Natalse plato. Die meeste lupines word gekweek vir die hoëkwaliteitsaad, wat as ’n proteïen- en energiekonsentraat in lewendehawevoer gebruik word.

L. angustifolius.
L. angustifolius (soet).

Bestuur en benutting

In die somerreënvalstreke, waar koel en vogtige toestande heers, kan lupines geplant word sodra die reënseisoen in September/Oktober begin. Wanneer hierdie spesies onder besproeiing geplant word, kan dit so vroeg as Augustus, en in Maart vir winterreënvalstreke, geplant word.

Aangesien die witlupine se saad groot is, is hoë saaidigthede (40 kg/ha tot 50 kg/ha) nodig, ongeag die ryspasiëring. Gelukkig is lupines minder sensitief vir grondvoorbereiding as die meeste gewasse. Al is die lupine se saad groot, word daar aanbeveel dat die saad vlak geplant moet word – hoogstens 3 cm diep.

Aangesien lupines peulgewasse is, het hulle nie baie stikstof nodig nie. Lupines verkies ’n laer grond-pH en verdra nie vry kalk in die grond nie. Hierdie spesie reageer uiters goed op fosfaat (P) en kalium (K), en dit is dus belangrik om die grond se vlakke van hierdie spesifieke voedingstowwe op te bou. Omdat dit ’n peulgewas is, is dit noodsaaklik dat die saad goed met die regte Rhizobium-bakterieë geïnokuleer word.

Lupines is bekend vir hulle hoë produksie van goeie gehalte-saad en onder optimale toestande sal hulle na verwagting enigiets tussen 1,5 ton/ha tot 4 ton/ha lewer, afhangend van die heersende toestande. Die soetlupine word gekenmerk deur ’n hoë proteïen- en olie-inhoud, wat baie goed deur herkouers verteer word.

Hierdie gewas is nie in die vroeë groeistadiums vir weiding geskik nie, aangesien daar min hergroei is. Vir die beste waarde as weiding word daar aanbeveel dat dit in die gevorderde groeistadium bewei word, wanneer die meeste van die groei plaasgevind het. Die dravermoë van lupines sal van die saadopbrengs en teenwoordigheid van onkruid afhang.

Lupines het verskillende gebruike, byvoorbeeld as wisselbougewas, as aangeplante weidingsgewas en as ’n kuilvoergewas. As wisselbougewas word lupinesaad direk in koringstoppel gesaai, met geen bykomende stikstof (N) nie, en dit kan gebruik word om uitermatig hoë vlakke van ander makrovoedingstowwe te verminder.

As aangeplante weidingsgewas, veral vir skape, is weiding dikwels beperk as gevolg van hoë konsentrasies van alkaloïede in die jong blare en groeipunte. Namate die plant volwasse word, word meer dele van die plant geëet. Die grootste waarde van lupines lê egter in die droë somermaande in die winterreënvalstreek, wanneer skape die sade optel wat afgeval het en ook die stoppels vreet.

Lupines kan ook gebruik word om kuilvoer te produseer, aangesien die spesie baie groen materiaal, vog en proteïen bevat. Die spesie se hoë saadproduksie verskaf verder ’n gekonsentreerde vorm van koolhidrate, wat baie waardevol is in die kuilvoer-maakproses.

 L. angustifolius (bitter met blou blom).

 

Bitterlupines (L. angustifolius) word vir weiding geplant. Vee eet slegs die ouer blare en vermy die groeipunte. Foto’s Amelia Genis (Landbouweekblad) en Piet Lombard (Elsenburg)

Grondbewaring en gesondheidsvoordele

Dit is algemeen bekend dat lupines by arm en effense suur grond aangepas is, maar hulle het hoë groeivereistes. Lupines word vir groenbemesting en as rotasie vir graan gebruik omdat hulle stikstof uit die atmosfeer kan bind en dit in ’n bruikbare vorm kan omskep.

Swak bemeste lupines kan die grond uitput en dit selfs armer as vantevore laat. Lupines kan egter baie waardevol wees vir grond met uiters hoë vlakke van voedingstowwe wat mettertyd opgebou het. Dit is ook bekend vir onkruidbeheer en om tussen landerye met graangewasse te gebruik om te voorkom dat siektes versprei.

Atmosferiese stikstofbindingskoerse van tot 400 kg N/ha is in Europa en Australië waargeneem.

Breëblaarlupines (L. albus) is soet (smaaklik) en word geplant sodat die saad geoes en vir veevoer gebruik kan word.

Bestuursuitdagings

Een van die grootste uitdagings met die gebruik van lupines vir weiding is dat hulle dikwels hoë vlakke van alkaloïede bevat. Indien groot hoeveelhede alkaloïede deur herkouers ingeneem word, kan dit beduidende metaboliese versteurings by lewende hawe veroorsaak, en uiteindelik tot hulle dood lei. ’n Ander tipe vergiftiging wat voorkom, is Phomopsis-vergiftiging, wat die inname behels van lupinestoppel waarop ’n swam groei, veral na reën in die somer of herfs.

Soetlupines (L. angustifolius) word geplant sodat die saad geoes kan word.

Diereproduksie-aspekte

Studies het getoon dat met ’n ru-proteïeninhoud van 19% is dit moontlik om ses skape/ha vir agt maande van die jaar op lupineweiding te dra. Lupines is ’n gekonsentreerde bron van proteïen sowel as energie, en die beste vorm van lupinebenutting in Australië is as ’n volgraanvoer vir weiskaap om laegraadse ruvoerdiëte aan te vul.

Lewendehaweproduksie-reaksies wissel na gelang van die gehalte van die voer wat beskikbaar is. Die doeltreffendheid waarmee lupinegraan benut word, wissel van ’n lewendige gewig-verandering van 0,8 g/g lupine droë materiaal vir laegehalte-ruvoer waar skape vinnig gewig verloor, tot lewendigegewig-toename van 0,2 g/g tot 0,3 g/g lupine droë materiaal waar die gehalte van die ruvoer voldoende is om instandhouding of stadige groei te ondersteun.

Lupine-aanvullings lei gewoonlik tot ’n hoër inname, groter toename in lewendige gewig en beter wolgroei as vergelykbare aanvullings van graan. Dit is hoofsaaklik as gevolg van die groot proteïenbydrae tot grootpens mikrobiese proteïensintese, maar ook moontlik as gevolg van die effek van deurvloei proteïene wat verby die grootpens beweeg, groter metaboliseerbare energie-inhoud en minder versteurings van veselvertering wat dikwels met die fermentasie van graanstysel gepaardgaan.

Gevolgtrekking

Eenjarige lupines is belowende peulgewasse vir groenbemesting en voer. Die samestelling van die saad en veral die hoë proteïeninhoud maak lupines uiters geskik vir die dieet van lewende hawe as ’n proteïenryke produk van intensiewe boerderystelsels. Aangesien lupines dikwels kan groei in grond wat nie vir ander gewasse geskik is nie (te sout, swaar, suur of arm), word die ontwikkeling van kultivars wat by tropiese Afrika-toestande aangepas is, sterk aanbeveel.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.

Soetlupineproef met een bitter kultivar (SSL10 met die blou blomme).

Verwysings

Dickinson, EB, Hyam, GFS, Breytenbach, WAS, Metcalf, WD, Basson, WD, Williams, FR, Scheepers, LJ, Plint, AP, Smith, HRH, Smith, PJ, Van Vuuren, PJ, Viljoen, JH. Archibald, KP and Els, JN. 2004. Kynoch pasture handbook. Kejafa Knowledge Works: Maanhaarrand.