Geïntegreerde gewas- en aangeplante weiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 11: Voersorghum (Sorghum spp.)

2939

Hierdie artikel is die 11de in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in bewaringslandbou-gebaseerde (BL-gebaseerde) gewas-aangeplante weiding-rotasies speel.

Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van weidingspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n aangeplante weiding-rusoesgewas, en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplante weiding-rotasies word. Dit is egter noodsaaklik om ’n aangeplante weidingspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en/of grondherstel.

Hierdie artikel fokus op ’n eenjarige aangeplante weidingsgewas wat gewoonlik in ’n kort eensomerseisoen-rotasie as ’n dekgewas en groenbemestingsgewas gebruik word, hetsy ná ’n eenjarige winterspesie, of met laasgenoemde gewas wat daarop volg.

Sorghum spp. voersorghum (forage sorghum)

Voergewasse word soms as gevolg van die jaarlikse saadbedvoorbereiding en vestiging as duur beskou. Die hoër produksie en smaaklikheid van voersorghumkultivars weerspreek hierdie stelling egter.

Die waarde van voersorghum is dat dit maklik is om te vestig, vinnig groei en ’n hoë opbrengs lewer, en ’n smaaklike eenjarige en meerjarige somergewas is. Voersorghum is oor die algemeen smaakliker en meer voedsaam as babala. Dit het die vermoë om goed van ontblaring te herstel en reageer uiters goed op bemestingstowwe.

Voersorghum gereed vir weiding.

 

Verskillende plantdatums verskaf verskillende stadiums vir weiding om optimale weiding regdeur die groeiseisoen te vergemaklik.
Voersorghum gereed om kuilvoer te maak.

Eenjarige voersorghums

Dit is gewoonlik basters van kruisings tussen verskillende sorghumtipes en/of soedangras. Hierdie basters het dikwels talle eienskappe wat die spesies vir kuilvoer, weiding of selfs hooi geskik maak.

Die eenjarige sorghum is die soort wat die algemeenste aangeplant word. Daar is egter elke jaar talle kultivars wat kommersieel beskikbaar is, en dit wissel van jaar tot jaar. Dit maak dit dikwels moeilik om die geskikste kultivar vir die vereistes te kies.

Meerjarige voersorghums

Hierdie sorghumspesies kan tussen drie en vyf jaar lank oorleef, afhangend van die klimaat en die ryspasiëring waarin hulle geplant word. Dit is ook bekend dat die volharding van hierdie spesies maklik deur die verkeerde bestuurspraktyke beïnvloed word, veral in gebiede met lae reënval.

Agro-ekologiese verspreiding

Sorghums is goed aangepas by streke wat nie noodwendig ’n hoë reënval het nie. Daar kan gesê word dat ’n reënval van tussen 400 mm en 650 mm meer as aanvaarbaar is vir die normale produksie van sorghum. Dit beperk egter nie die gebruik daarvan in gebiede met hoër reënval en/of op besproeide grond nie.

Die spesies is baie aanpasbaar by ’n wye reeks grondtipes, maar word meestal in grond met laer potensiaal verbou en hanteer hoër vlakke van sout of alkaliese toestande baie goed. Dit beklemtoon hulle vermoë om maklik by hulle groeitoestande aan te pas. Sorghumspesies is beter by warmer as koeler klimate aangepas.

Bestuur en benutting

Die beste moontlike tyd om voersorghum te saai, is verkieslik wanneer die lentereën begin het. Die vestigingstydperk is dus enige tyd tussen Oktober en Januarie, afhangend van die hoeveelheid reën wat val.

Indien die sorghum vir weidingsdoeleindes gebruik gaan word, word daar egter aanbeveel dat die aanplanting oor die planttydperk versprei word sodat optimale benutting van die beskikbare weiding verseker word. Daar word voorgestel dat die saaidigtheid deur die grondtipe en die gehalte, en dan uiteindelik deur die verwagte reënval bepaal word.

Daar word aanbeveel dat sorghum in rye onder droëlandtoestande geplant moet word, en dat rye na gelang van die droogheid van die gebied wyer gespasieer moet word. Met hierdie saaivoorwaardes in gedagte kan saaikoerse tussen 5 kg/ha en 20 kg/ha wissel. Algemene aanbevelings vir eenjarige plante is 7 kg/ha tot 10 kg/ha in rye, of 15 kg/ha tot 20 kg/ha gestrooi. Meerjarige plante word teen ’n koers van 12 kg/ha tot 15 kg/ha gestrooi en 5 kg/ha tot 7 kg/ha in rye gesaai.

Grondvrugbaarheid is ’n belangrike faktor in die optimale produksie van sorghums, ongeag hulle vermoë om in onvrugbare grond te oorleef. Om goeie produksie te behaal, is dit noodsaaklik om die grond se P-vlak op 15 mg P/kg grond te handhaaf. As ’n riglyn kan 15 kg N/ha met beplanting aangewend word, en bobemesting daarna sal deur die beskikbaarheid van reën en die verlangde vlak van produksie bepaal word.

Kantbemesting van 35 kg N/ha kan een of twee keer regdeur die seisoen aangewend word. Indien die gewas bewei word, is dit minder belangrik om met kalium (K) te bemes, aangesien hierdie element deur middel van die mis in die grond teruggeplaas word. Indien die gewas vir kuilvoer gebruik word, word beduidende hoeveelhede K verwyder en dit moet deur middel van bemesting teruggeplaas word.

Die benutting van voersorghum is dikwels uitdagend, aangesien dit ’n eksponensiële groeikoers het. Om die gehalte optimaal te benut, moet dit op ’n hoogte van 30 cm tot 60 cm bewei word, en dit moet op daardie hoogte behou word om die groei te beheer.

Laasgenoemde bevestig die aanbeveling dat kleiner areas met tussenposes oor ’n tydperk beplant moet word sodat al die aangeplante weiding nie gelyktydig gereed is om bewei te word nie. Die geleentheid bestaan ook om kuilvoer te maak met die ekstra groei wat die diere nie betyds kan bewei nie. Om goeie hergroei te verseker, moet die aangeplante weiding nooit tot ’n hoogte van minder as 15 cm bewei of geoes word nie. ’n Kombinasie van rotasieweiding en meganiese oes moet gebruik word om hierdie aangeplante weiding optimaal te benut.

Bestuursuitdagings

Die belangrikste uitdaging van voersorghums is die hoë vlakke van blousuur of waterstofsianiedsuur (HCN) wat hulle bevat. Daar is ’n groot risiko dat lewende hawe die een of ander vorm van blousuurvergiftiging (sianied) kan opdoen indien die diere nuwe groei of hergroei van plante inneem kort nadat dit geoes is of wanneer die plantgroei deur ryp of droogte belemmer word.

Die vlakke van blousuur wissel by verskillende sorghumspesies en  variëteite. Een van die hoofdoelwitte van die kweek van nuwe kultivars is om die HCN-inhoud van hierdie plante te verminder.

Grondbewaring en gesondheidsvoordele

’n Seisoenale rotasiedekgewas soos voersorghum kan ’n uiters belangrike rol speel om grondstruktuur, waterinfiltrasie en wortelindringing te verbeter. Bykomende voordele sluit in minder korsvorming en gronderosie, afloop en loging van voedingstowwe.

Hierdie spesie kan ook ’n bekostigbare bestuursopsie op die terrein verskaf om die inherente grondorganiese materiaal deur ’n uiters sterk wortelstelsel te verbeter, en ’n geskikte opsie om baie nat grond wat gereeld in die winter of some besproei word, uit te droog.

Diereproduksie-aspekte

Hierdie eenjarige aangeplante weidingspesie groei baie vinnig en lewer ’n hoë opbrengs van tot 13 ton droë materiaal (DM) per hektaar. Navorsing het getoon dat die weidingkapasiteit vir goed bestuurde (bemeste en beweide) voersorghum-aangeplante weiding tussen 5 GVE/ha en 10 GVE/ha vir ongeveer 100 dae kan wees, met ’n gemiddelde daaglikse toename van 0,73 kg/dag tot 1,05 kg/dag. Die ru-proteïenopbrengs van die aangeplante weiding kan tussen 90 g/kg en 150 g/kg DM wissel, afhangend van die valk van bemesting en reënval.

Groter gewasdiversifisering met voersorghum

As gevolg van die sterk wortelstelsel en hoë biomassaproduksie is voersorghum baie geskik as ’n eenjarige dekgewas in ’n wisselboustelsel. Daar is talle maniere om voersorghum as ’n dekgewas by wisselbou in te sluit om die diversiteit te verhoog.

Dit kan in ’n suiwer stand gevestig word, of in ’n mengsel met ander (dek-) gewasse, of as ’n volle seisoengewas om die maksimum voordeel daaruit te verkry. Voersorghum kan vir ’n kort tydperk in die lente voor die kontantgewas gebruik word, of later in die herfs, nadat die vernaamste gewas geoes is. In Suid-Afrika, waar gewasrotasies meestal baie kort op mekaar volg, is dit dikwels makliker om ’n herfsdekgewas na die oes van ’n kortseisoen-kontantgewas of -kuilvoer te plant, mits daar genoeg tyd, voedingstowwe en grondwater is sodat dit kan vestig voordat die vroeë herfsryp begin.

In sekere situasies kan ’n eenjarige koueseisoen-peulgewas (of mengsel) geplant word direk nadat die dekgewas beëindig is, byvoorbeeld weiwieke (Vicia villosa), hawer en radys, gevolg deur ’n kontantgewas. Nadat die dekgewas verwyder is, moet onkruid in die braak land beheer word om grondwater te bewaar ten einde die maksimum voordeel uit die dekgewas te verkry.
’n Geskikte geenbewerkingsplanter moet gebruik word om die graangewasse direk in die reste van die dekgewas te plant, sonder dat enige ander bewerking die grond versteur.

Normale bemestings- (gegrond op grondvrugbaarheidsvlakke en opbrengsmikpunte), onkruid- en plaagbeheerpraktyke moet gevolg word. Tydens die transformasiefase nadat nuwe BL-graanlanderye gevestig is (byvoorbeeld tydens die eerste paar jaar), word ’n toename van 30% in N-bemesting op mielies aanbeveel omdat die N in die grond geïmmobiliseer is.

Daarna moet die beskikbaarheid van N vir die plant deur middel van ’n geskikte ontleding geëvalueer word, en bemestingsbehandeling moet dienooreenkomstig aangepas word.

Gevolgtrekking

Geïntegreerde lewendehawe-produksiestelsels kan geweldig by so ’n vinniggroeiende aangeplante weidingsgewas met ’n hoë opbrengs baat. Die lae insetvereistes en vermoë om by ’n wye reeks toestande aan te pas, maak hierdie spesie uiters aantreklik.

Voersorghum is ’n goeie voergewas om in rotasie met ander graangewasse te gebruik. Indien dit nie intensief vir byvoorbeeld kuilvoerproduksie gebruik word nie, maar redelik uitgebreid as ’n tussengewas vir weiding, sal grondvoedingstowwe aangevul word.

Dit is altyd belangrik om te besef dat, ongeag of dit ’n meerjarige of eenjarige spesie is, ’n aangeplante weiding-rusoesgewas se ekonomiese waarde nie soos dié van ’n kontantgewas in geldwaarde gesien kan word nie. Die waarde lê eerder in ’n besparing, met ander woorde ’n kleiner behoefte aan onkruidbeheer, ’n goedkoop bron van goeiegehalte-ruvoer wat in diereproteïen omskep kan word, en daarna ’n herwonne bron van voedingstowwe teen ’n baie lae koste.

Laastens is hierdie gewas met sy hoë groeikoers en opbrengs ’n aanduiding van ’n beduidende hoeveelheid organiese materiaal wat deur wortelbiomassa in die grond teruggeplaas word.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter @up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.

Verwysings

Donaldson, CH. 2001. A practical guide to planted pastures. Kalbas Publishers. ISBN:0-620-27198-1
Dickinson, EB. 2010. Pasture handbook. Kejafa Knowledge Works. ISBN: 978-0981-41358-7