Die ekonomiese waarde, landbou- en grondbewaringsvoordele van aangeplante weiding-gebaseerde lewendehawe-produksie in gewasproduksiestelsels word dikwels onderskat en is nie goed gekwantifiseer nie. Die enorme druk op gewasproduksiegebiede om konsekwent op ’n volhoubare manier gewasse van ’n goeie gehalte te produseer, neem die hele tyd toe.

Die meeste tradisionele landboupraktyke (op klein en groot skaal) lei tans tot ernstige gronddegradering en is negatief ten opsigte van klimaatsverandering. Dit is praktyke soos intensiewe bewerking wat dikwels groter verliese van grondorganiese materiaal, swak grondstruktuur en beskikbare grondvog, en verhoogde afloop en gronderosie tot gevolg het.

Hierdie situasie dwing grondgebruikers om meer volhoubare grondgebruikopsies soos bewaringslandbou (BL) te oorweeg. BL is ’n benadering tot die bestuur van plase (of agro-ekostelsels) vir verbeterde en volgehoue produktiwiteit, groter wins en voedselsekerheid terwyl die hulpbronbasis en die omgewing bewaar en verbeter word.

BL word gekenmerk deur drie beginsels wat met mekaar verband hou en wat veronderstel is om gelyktydig geïmplementeer te word, naamlik:

  • Deurlopende minimum grondversteuring.
  • Permanente organiese grondbedekking.
  • Diversifikasie en integrasie van gewas- en dierespesies (gewasse word in rotasies en/of assosiasies geplant).

In die afgelope dekades was die integrasie van lewende hawe saam met BL-stelsels dalk van die noemenswaardigste innoverings in hierdie gemengdeproduksiestelsels om ekonomiese en ekologiese volhoubaarheid en aanpasbaarheid te verseker terwyl ekostelseldienste soos toenemende biologiese diversiteit en voedingstofsiklusse, en verbeterde grondgesondheid verskaf word.

Lewende hawe op verbeterde weiding wat van BL-gebaseerde gewas-weiding-rotasies verkry word, produseer nie slegs meer vleis per eenheid weiding nie, hulle produseer ook meer per eenheid kweekhuisgasvrystelling. Op grond van hierdie positiewe navorsingsresultate en ervarings van produsente en ander praktisyns in die wêreld (insluitende die sub-Sahara-Afrika-streek) het daar in die afgelope drie dekades ’n nuwe soort volhoubare, geïntensifiseerde landbou na vore getree wat op BL gebaseer is.

Hierdie reeks artikels wat in die volgende klompie maande gaan verskyn, sal ’n paar van die gewasspesies vir veldweiding bespreek wat ’n belangrike rol in BL-gebaseerde gewas-veldweiding-rotasie kan speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse (een van die belangrikste BL-beginsels) ook met sukses as veevoer gebruik word. In werklikheid is die meeste van die rotasie- en dekgewasspesies reeds as veevoer gebruik, waarskynlik selfs voordat dit bekend was dat grondeienskappe daardeur verbeter word. Die teenwoordigheid van lewende hawe bring voorts ’n bykomende bron van lewe na die grond deur middel van voedingstowwe, mikrobes en grondbelugting as gevolg van die uitwerking wat die lewende hawe se pote op die grond het.

Een van die sleutelfaktore om te oorweeg voordat ’n spesifieke aangeplante weidingspesie gekies word, is die geskiktheid van die landerye (grond, topografie en klimaat) vir die verbouing van die spesifieke spesie.

Watter grondeienskappe word vir die suksesvolle verbouing van die spesie vereis? Die volgende vraag om te oorweeg, is of die spesie goeie gehalte hooi, -kuilvoer of -groenvoer moet verskaf en watter tyd van die jaar dit benodig word.

Benewens voerproduksie en bewaring kan daar ook gevra word óf en wanneer die weidingsgewas bewei moet word, en indien wel, watter soort lewende hawe die weidingsgewas gaan benut. Dit is uiters belangrik, aangesien besettingskoerse en weidingstelsels dienooreenkomstig ontwerp moet word om die weidingsgewas teen oor- en onderbenutting te beskerm. Hierdie benadering moet egter nie ten koste van ekonomiese lewendehawe-produksie wees as dit as die belangrikste dryfveer vir die benutting van aangeplante weiding beskou word nie.

 

Die meeste tradisionele landboupraktyke lei tans tot erge gronddegradering. Hierdie situasie dwing grondgebruikers om meer volhoubare grondgebruikopsies soos bewaringslandbou te oorweeg. Hierdie reeks artikels wat in die volgende klompie maande gaan verskyn, sal ’n paar van die gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in BL-gebaseerde gewas-weiding-rotasies kan speel.

 

Net so is die volgende aspekte van kardinale belang wanneer die belangrikste gewasspesie vir weiding vir ’n bepaalde gebruik in BL geïdentifiseer word.

Agro-ekologiese verspreiding

Die geskiktheid van verskillende agro-ekologiese streke vir die verbouing van verskillende spesies is van die uiterste belang. Die spesie van belang moet geëvalueer word om die geskiktheid daarvan ten opsigte van klimatologiese, topografiese en grondeienskappe (landery-/edafiese eienskappe) te bepaal.

Wanneer die geskiktheid bepaal is, kan daar besluit word of bykomende verbeteringspraktyke soos bemesting, bekalking of besproeiing nodig is om die produksie van die gekose spesie te bevorder. Die geskiktheid van ’n spesie vir die bogenoemde grondeienskappe sal in wese tot ’n groot mate die voergehalte en teenkwaliteitkomponente bepaal wat van die spesie verwag word.

Bestuur en benutting

Om die voordele van ’n aangeplante weidingsgewas optimaal te benut in die konteks van ’n bydrae tot die gesondheid van die grond sowel as die verskaffing van weiding of voer, moet die korrekte vestigings-, bemestings-, besproeiings- en onkruidbeheerpraktyke geïmplementeer word. Ons sal in hierdie reeks die belangrikste aspekte ten opsigte van hierdie bestuurspraktyke vir die algemeenste en aanbevole aangeplante weidingspesies bespreek.

Wanneer die weiding suksesvol gevestig is, moet dit op so ’n manier hanteer word dat dit die groei van die weidingspesie stimuleer eerder as om die groei daarvan deur oorbenutting te beperk en gevolglik die groeipunte te beskadig.

Die korrekte veelading sal ’n uiters belangrike rol in die benutting van die aangeplante weiding speel. Hierdie veelading sal uiteindelik die weidingstelsel bepaal wat nodig is om die weiding optimaal te benut en die maksimum lewendehawe-produksie uit die gebied te verkry. Die tydstip waarop verskillende weidingsgewasse benut moet word, sal ook in hierdie reeks bespreek word, aangesien hierdie aspek gebruik sal word om die korrekte weidingsgewas in rotasie en/of vir grondbewaringstrategieë te kies.

Bestuursuitdagings

Sommige aangeplante weidingsgewasse is nie altyd die maklikste spesies om te vestig, en in sommige gevalle om te bestuur, nie. Die bestuur van voedingstowwe en water van weidingspesies kan ’n uitdaging word, veral as ’n intensiewe weidingsbestuurstelsel geïmplementeer word. Aangeplante weidingsgewasse is dikwels die slagoffer van plaagbesmettings en vereis een of ander vorm van bestuursverandering saam met intensiewe behandeling om die situasie te beredder en die weidingsgewas weer gesond te kry.

Baie keer kan sekere onbeheerbare omgewingstoestande sekere teenkwaliteitsfaktore na vore bring waarvan ’n grondgebruiker bewus moet wees, aangesien dit vir die veekudde se gesondheid en produksiepotensiaal nadelig kan wees. Daar bestaan dikwels situasies waar ’n brand ’n ernstige uitwerking op die hergroeikoers van sekere spesies kan hê, en spesifieke bestuursinsette is nodig om só ’n weidingsgewas te ondersteun sodat dit op ’n later stadium sy volle groeipotensiaal kan bereik.

Grondbewaring en -gesondheidsvoordele

Aangeplante weiding word hoofsaaklik geplant om weiding of voer te produseer. By geïntegreerde BL-gewasverbouingstelsels moet die belangrikste bydrae van die aangeplante weiding egter wees om die grond vir volhoubare en winsgewende gewasproduksie te bewaar en gesond te kry.

Talle weidingspesies kan aan hierdie vereistes voldoen, aangesien die meeste van die spesies meerjarig is en merkwaardige wortelstelsels het wat herstel van die gesondheid van die grond bevorder. Die volgende is ‘n reeks baie belangrike voordele wat aan aangeplante weidingsgewasse toegeskryf kan word:

  • Verbeterde stikstof vir daaropvolgende gewasse (met peulgewasse)
  • Heropbou van grondorganiese materiaal en verbetering van die struktuur van die grond
  • Die beheer en bestuur van onkruid
  • Verskaffing van beskerming teen siektes en plae
  • Vermindering van afloop, gronderosie en diep dreinering

Dit is egter ’n geleentheid vir grondgebruikers om hierdie weidingsgewasse terselfdertyd te benut, aangesien hierdie benutting bogrondse (stingels en blare) sowel as ondergrondse (wortels) groei stimuleer. Die sekondêre voordeel van weidingbenutting deur lewende hawe is die invoer van voedingstowwe, mikrobes en bykomende organiese materiaal deur middel van urine en mis. Dit is ook redelik algemeen dat intensief-bewerkte grond wat met weiding-rusoesgewasse-beplant word ’n mate van oppervlakverdigting/korsvorming in die eerste jaar of twee ervaar, afhangend van die tipe grond. Hierdie oppervlakverdigting/korsvorming kan tot erosie lei as buitengewoon baie donderstorms voorkom. As gevolg van die impak van die hoewe van diere wat wei, word die oppervlakkors egter versteur en kan beter infiltrasie van vog plaasvind. Hierbenewens word plantreste ook in die grond ingetrap, wat die ontbinding van die materiaal ondersteun en wat weer tot die siklus van grondorganiese materiaal bydra.

Diereproduksie-aspekte

Aangesien landerye moet rus of vir toekomstige graangewasgebruik (binne ’n langtermyn- en diverse BL-wisselboustelsel) voorberei moet word, verskaf die tydperk wat hierdie areas uit graanproduksie onttrek word die geleentheid om die grond doelgerig te herstel (rehabiliteer) en terselfdertyd die aangeplante weidingsgewas te benut.

Lewende hawe is die belangrikste faktor wat bogenoemde benadering op ’n winsgewende manier fasiliteer en versnel. Graanprodusente het dikwels die bykomende voordeel van gewasreste wat ’n noemenswaardige waarde tot ’n voervloeiprogram vir ’n lewendehawe-onderneming kan toevoeg. Dit is egter uiters belangrik dat die aangeplante weidingsgewasse bestuur moet word om goeie lewendehawe-produksie per hektaar, eerder as produksie per dier te verskaf.

Spesifieke veldweidingsgewastipes en voordele

Wanneer ’n weidingsgewas gekies word om by ’n graangewasverbouingstelsel in te skakel om BL-beginsels te ondersteun, is dit noodsaaklik dat die weidingsgewas met ’n duidelike begrip van die bestuursvereistes en -uitdagings gekies word.

Weidingsgewasse wissel tussen warmseisoentipes en koelseisoentipes. Dit sluit peuldraende gewasse vir die biologiese stikstofbinding in, wat tot gevolg het dat hierdie weidingsgewasse ’n hoër voergehalte het. Sekere weidingsgewasse het ’n hoër vereiste vir water en voedingstowwe, en ander is meer verdraagsaam teenoor arm sandgrond en droër toestande.

Sommige spesies is meer verdraagsaam teenoor suur grond en ander weer meer teenoor brakgrond. Winter- teenoor somerseisoene bied verskillende uitdagings, en dus hang die toepaslike keuse van ’n veldweidingsgewas om by ’n gewasverbouingstelsel in te sluit van die behoefte van die grondgebruiker af.

Gevolgtrekking

Geïntegreerde gewas- en aangeplante weiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels het enorme potensiaal om die beginsels van BL te ondersteun en te bevorder. As hierdie BL-gebaseerde veldweidingsgewas-rotasiestelsels behoorlik ontwerp en geïmplementeer word, sal gedegradeerde bewerkte grond herstel en verbeter, en die kritieke basis vir volhoubare gewas-lewendehawe-intensifikasie verskaf.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.