Beheer van onkruide in mielies en koring – Deel 3: Wildehawer (Wild oats)

2431
Wildehawer-kroonkaffies en saad (inlas).
Avena-saailing.
‘n Wildehawerhalm (regs) langs ‘n koringaar (links).
Die volwasse plant met blaartongetjie van blaarskede (inlas).

Wetenskaplike naam: Avena fatua
Afrikaanse naam: Gewone wildehawer
Engelse naam: Common wild oats

Kort beskrywing

Wildehawer is ‘n eenjarige gras (eenjarig = gaan deur hele lewenssiklus in een jaar). Dit kan tussen 60 cm – 90 cm hoog word en groei regop of in polle. Die halms van wildehawer groei regop en is haarloos; dit het ook twee tot vyf knope.

Blaarskedes is ook haarloos en kan tot 20 cm lank word. Die blare is haarloos, lynvormig en skerppuntig en kan tot 24 cm lank en 8 mm breed word. Die blaartongetjie is membraanagtig en tot 6 mm lank.

Bloeiwyses is oop, los pluime wat tot 40 cm lank word, terwyl die blompakkies langwerpig, smal en gapend is. Twee tot drie blomme kom voor. Die kroonkaffies het elk een naald wat gebuig en gedraai is, met ‘n donkerbruin onderkant.

Sade lyk soos tipiese hawersaad en is strooikleurig, behaard en gerond aan die een kant, met ‘n spleet aan die ander kant. Sade kan tot 9 mm lank en 2 mm breed word.

Verspreiding

Hierdie onkruid is ‘n strawwe mededinger en kom algemeen in die suidelike Kaap en die graanproduserende dele van die Vrystaat voor – veral waar monokultuur-koringverbouing plaasvind. Wildehawersaad word gewoonlik versprei deur besmette koringsaad en met masjinerie (soos byvoorbeeld stropers).

TABEL 1: Onkruiddoders geregistreer op mielies vir die beheer van wildehawer.

Aktiewe bestanddeel Formule Tyd van toediening
bromoxynil 450 g/liter Na-opkoms wanneer saailing tussen drie- tot sesblaar- stadium is
glifosaat/mesotrioon/s-metolachlor 250/25/250 g/liter Kan slegs op glifosaat-tolerante mieliekultivars toegedien word, vroeg na-opkoms van die onkruid

 

TABEL 2: Onkruiddoders geregistreer op koring vir die beheer van wildehawer.

Aktiewe bestanddeel Formule Tyd van toediening
bromoxynil 450 g/liter Na-opkoms, drie- tot sesblaar-stadium
clodinafop-propargiel 240 g/liter Na-opkoms, drie- tot sesblaar-stadium van saailinge, dosis hang af van die onkruidspesie en metode van toediening
diclofop-metiel 378 g/liter Gebruik SLEGS in besproeiingskoring. Dien toe voordat die gewas vyfblaar-stadium bereik
fenoxaprop-P-etiel 120 g/liter Dien toe wanneer die onkruide in die drie tot vyfblaar-stadium is. Dosis hang af van onkruidspesie, groeistadium en metode van aanwending
flucarbazoon-natrium 700 g/kg Koring in drie- tot vyfblaar-stadium
iodosulfuroon-metiel-natrium/mefenpyr-dietiel 50/150 g/kg Na-opkoms, wanneer onkruid tussen twee- tot drieblaar-stadium is
iodosulfuroon-metiel-natrium/metsulfuron-metiel/mefenpyr-dietiel 30/30/90 g/kg Na-opkomstoediening tot en met vierblaar-stadium (slegs winterreënvalgebied)
pinoksaden 45 g/liter Dosis hang af van die grasspesie
pyroxsulam 45 g/liter Na-opkoms, twee- tot drieblaar-stadium van die koring tot die tweede node-stadium wanneer die wilde hawer in saailingstadium is
sulfosulfuron 750 g/kg Na-opkoms, een- tot vierblaar-stadium van die onkruid – dosis hang af van die onkruid
tralkoxydim 100 g/liter Na-opkoms, twee- tot vierblaar-stadium van die onkruid (winterreënval).
Twee- tot vierblaar-stadium van die onkruid (somerreënval – besproeiing)
triallaat 480 g/liter Voor-opkoms, dien toe op goed voorbereide saadbed net voor-plant en werk in met ‘n planter binne vier ure
triasulfuron 750 g/kg Dien toe tydens plant

Beheer

Chemies
Na-opkomsonkruiddoders word toegedien nadat die onkruid en/of gewas reeds op is. Verskeie onkruiddoders is geregistreer vir die beheer van wildehawer in mielies en koring (Tabel 1 en Tabel 2).

Raadpleeg altyd die etiket vir aanwysings en volg die spesifieke aanduidings en dosisaanwysings slaafs na op elke produk se etiket.

Bewerking
In die winterreënvalstreek kan ploeg in die winter help om die onkruid te verminder, maar dit kan slegs gedoen word indien daar nie winterkoring geplant is nie. Omdat wildehawersaad die vermoë het om dormant in die grond te lê vir tot nege jaar, is die gebruik van gewasrotasie nie baie effektief vir die beheer van hierdie onkruid nie. Dit is ook baie moeilik om hierdie onkruid in winterkoring onder droëlandtoestande chemies te beheer en selektiewe na-gewasopkoms onkruiddoders moet gebruik word.

Weerstand teen hierdie onkruid kom reeds algemeen in Suid-Afrika voor. Produsente en chemiese adviseurs moet dus altyd weerstandbiedendheid in ag neem en nie onkruiddoders gebruik waarteen weerstand reeds voorkom nie. Kontak altyd ‘n betroubare chemiese adviseur voor die gebruik van enige chemikalieë om die korrekte dosis en spesifikasies op die etiket na te kom.

Kontak die skrywers by elbe.hugo@syngenta.com (Elbe Hugo) en deweth@arc.agric.za (Hestia Nienaber).