’n Wenkombinasie vir SA-saadmark

Louise Kunz, SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 28 Oktober 2020

1298

Syngenta Seeds het op 17 Augustus aangekondig dat die transaksie om Sensako te bekom, afgehandel is. Die transaksie behels die oorname van die totale besigheid, wat die gevestigde handelsnaam, alle fasiliteite en die per­soneel insluit.

Met sy hoofkwartier in Switserland, is Syngenta ’n toonaangewende, wetenskaplike landboutegnologie-onderneming wat boerderye ondersteun deur die verbetering van gewasse. Syngenta Seeds verkoop tans groentesade in Suid-Afrika, terwyl Syngenta Oesbeskerming ’n hoofspeler in dié mark is. Sensako is ’n Suid-Afrikaanse navorsings- en ontwikkelingsaadmaatskappy wat sedert 1958 bestaan en ’n sterk posisie in die plaaslike koringmark het.

Kobus Lindeque is Sensako se nuut aangestelde besturende direkteur.

Voordelig op verskeie vlakke
Albei maatskappye trek voordeel uit hul nuwe verhouding. Syngenta Seeds het tans kundigheid in lande oor die hele Afrika, maar geen veldgewasbesigheid in Suid-Afrika nie. Met die verkryging word die grondslag vir groei gelê, wat sal help om die maatskappy se toetrede tot die Suid-Afrikaanse saadmark in koring, mielies en sonneblom te versnel.

Die maatskappy word hierdeur in staat gestel om die koringmark in Suid-Afrika as ’n markleier te betree danksy Sensako se sterk handelsmerk. “Dit gee aan ons navorsingsfasiliteite en ervare navorsings- en ontwikkelingsleierskap in Afrika; dit ondersteun ons plaaslike produkontwikkeling en versnel die gebruik van moderne teelinstrumente om ons veldgewasbesigheid in Suid-Afrika en die res van die vasteland te versterk,” het Antonie Delport, besturende direkteur van Syngenta SA, op 31 Augustus in ’n onderhoud op Landbou Radio gesê.

Met Syngenta Seeds se voorloper-kiemplasmapoel en Sensako se bestaande teelprogramme en ervare navorsings- en leierskorps in Afrika, is daar ook ’n beduidende groeigeleentheid in die mielie- en sonneblommark.

Sensako se nuut aangestelde besturende direkteur, Kobus Lindeque, sal aanvanklik verantwoordelik wees vir die integrasie en beplanning vir die groei van Syngenta se saadbesigheid in Suid-Afrika. Hy glo dat dié transaksie aan Sensako, wat oor die afgelope paar jaar meer op wintergewasse gefokus het, ’n groter blootstelling aan nuwe somergraangenetika sal gee. “Na my mening is dit vir Sensako ’n wonderlike geleentheid om deel te wees van ’n maatskappy wat seker een van die topsonneblomsaadmaatskappye in die wêreld is. Ons het in dié nuwe verhouding blootstelling aan ’n magdom genetika in somergraangewasse en bied op ons beurt weer vir Syngenta ’n baie goeie platform vir groei in die saadbesigheid.”

Patrick Graham, vorige direkteur van Sensako, noem in ’n persverklaring dat hulle daarop fokus om graanprodusente en -verwerkers te bevoordeel met bewese genetika en deeglike navor­singsplatforms. “Ek glo dat ons in Syngenta ’n vennoot met dieselfde waardes het. Hul omvattende ervaring, tegnologie en kundigheid in die saadarena, saam met die platform en bates wat ons bied, sal van geweldige waarde en voordeel vir die Suid-Afrikaanse landboubedryf wees.”

Produsente gaan ook baat by samesmelting
“Bestaande en nuwe kliënte moet in ’n beter posisie wees as so ’n transaksie plaasvind,” het Antonie gesê. Syngenta Seeds sal voortaan in staat wees om meer volledige gewasoplos­sings (saad- en gewasbeskerming) aan kliënte te voorsien.

Die span van Sensako is net so opgewonde oor die same­werking tussen die twee maatskappye. Vir Kobus beteken die samevoeging van Syngenta se wêreldwye ervaring met Sensako se kundigheid in Suid-Afrika dat buitengewone produkte en innovasie aan produ­sente in die streek gebied kan word. Dr Francois Koekemoer, direkteur van navorsing en ontwikkeling by Sensako, glo ook dat hierdie gesamentlike poging ontsaglike waarde vir produsente in Suider-Afrika sal bring.

Volgens Jeff Rowe, president van Syngenta Seeds, sal hierdie strategiese belegging dit vir hulle moontlik maak om meer opsies, innovasie en tegnologie aan produsente te bied. Verder laat dit hulle toe om die bekendstelling van die Viptera-eienskaptegnologie (insekbestande, geneties gemodifiseerde graangewasse) te be­spoedig om die permanente en snel verspreidende bedreiging wat herfskommandowurm vir Suid-Afrika inhou, die hoof te bied.

Plan vir goeie groei
Syngenta se Good Growth Plan sal verder bevorder word met Sensako se samewerking. Hierdie projek het ten doel om produsente voor te berei vir die toenemende bedreiging wat klimaatsverande­ring vir die landboubedryf inhou. Volgens Antonie is Syngenta Seeds toegewy daaraan om landbou se koolstofvoetspoor te verminder en om produsente te help om uiterste weerpatrone, wat deur klimaatsverandering veroorsaak word, te hanteer. As ’n span wat hul ervaring kombineer, sal hulle landbouers beslis van oplossings kan voorsien.