Geïntegreerde gewas- en aangeplanteweiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 18: Wieke (Vicia spp.)

4284

Hierdie artikel is die 18de in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in bewaringslandbou-gebaseerde (BL-gebaseerde) gewas-aangeplanteweiding-rotasies kan speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van veldweidingspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n veldweiding-rusoesgewas, en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplanteweiding-rotasies word.

Dit is noodsaaklik om ’n aangeplanteweidingspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en/of grondherstel. Hierdie artikel fokus op ’n eenjarige peulgewas wat algemeen gebruik word om grondtoestande te verbeter om goeie weiding vir herkouers te verskaf.

Vicia spp., wieke of vetches 

Wieke is eenjarige peulgewasse met óf ’n kruipende óf ’n rankende groeiwyse. Dit is ’n spesie wat in die winter groei, met ’n dun stingel en oorwegend pers blomme.  Die algemeenste tipes wieke wat in Suid-Afrika gekweek word, sluit in perswieke (purple vetch of Vicia purpurea/Vicia benghalensis), weiwieke (grazing vetch of Vicia dasycarpa), gewone wieke (common vetch of Vicia sativa) en harige wieke (hairy vetch of Vicia villosa).

Hierdie tipes wieke kan vir kuilvoer, hooi en weiding gebruik word. Ander wieke wat nie tot die genus Vicia behoort nie, met ander woorde Litjieswieke (Aesochynomene sp.), melkwieke (milk vetch of Astragalus cicier) en kroonwieke (crown vetch of Coronilla varia), word nie in hierdie artikel bespreek nie.

Al word hierdie spesies algemeen in Suid-Afrika gebruik, is baie min produksiedata vir ons omgewingstoestande en landbouproduksiestelsels beskikbaar.

Weiwieke (Vicia dasycarpa) word deur bye bestuif.

Agro-ekologiese verspreiding

Wieke word algemeen in droëland-koringproduksiegebiede gekweek. Hierdie spesies is goed aangepas by ’n verskeidenheid grondtipes, maar verdra nie baie versuipte toestande nie. Die beste tyd om wieke te saai, is van Desember tot Maart. Hierdie spesies is veral sensitief vir suur grond, dus word daar aanbeveel dat grond behoorlik bekalk word voordat daar geplant word. Perswieke word meestal in winterreënvaltoestande gekweek, en spesifiek vir kuilvoer of hooi gebruik en is nie vir weiding geskik nie.

Weiwieke verdra egter koue winters beter as ander wieke en is meer vir weiding geskik. Dit ontwikkel vinnig en is die beste by arm en suur grond aangepas. Dit het ook die potensiaal om homself te hersaai.

Gewone wieke word meestal vir hooi en ook kuilvoer gebruik. Hierdie wieke produseer peule wat gewoonlik deur skape bewei word. Harige wieke is meer algemeen vir voerproduksie in winter- sowel as somerreënvalstreke.

Dit word in Januarie gesaai en sal goeie voer laat in die winter verskaf. Die meeste wiekespesies het tussen 350 mm en 550 mm reën per jaar nodig, en indien dit goed bestuur word, kan dit goeie gehalte-veevoer in die wintermaande verskaf.

Weiwieke produseer hoëproteïenpeule.
Weiwieke in blom.

Bestuur en benutting

Daar word dikwels aanbeveel dat wiekespesies as dek- of tussengewas saam met wintergraangewasse, veral met hawer, in somergraangewasse soos mielies gesaai (gemeng) word om voer te verskaf op ’n later stadium nadat die graan geoes is.

Hierdie mengsel word gewoonlik in Februarie geplant. Dit kan in die winter en lente bewei word en maak ook goeie kuilvoer. Saaidigthede vir wieke in mengsels wissel vanaf ongeveer 20 kg wieke/ha tot 30 kg wieke/ha en 25 kg hawer/ha.

Wanneer wei- of harige wieke op hulle eie gesaai word, word ’n saaidigtheid van 35 kg/ha aanbeveel. Waar hierdie spesie saam met graan gesaai word, is dit noodsaaklik om te verseker dat voldoende bemesting met vestiging verskaf word, met fosfaat (P) wat die belangrikste is, aangesien dit noodsaaklik is vir peulgroei. Die beste tyd om hooi te maak, is wanneer die eerste peule goed gevorm is. Uit ’n weidingsperspektief is dit noodsaaklik om die wieke te bewei net voordat die peule begin volwasse raak.

Weiwieke wat in Eragrostis aangeplante weiding gesaai word.

Grondbewaring en -gesondheidsvoordele

Aangesien wiekespesies peuldraend is, word stikstof (N) gebind en sal dit help om in die N-behoeftes van die volgende gewas te voorsien, die grond teen erosie beskerm en die krummeltoestand van grond verbeter deur ’n los en krummelrige grondstruktuur te skep.

As gevolg van sy geneigdheid om heeltemal af te breek, bou wieke nie regtig grondorganiese materiaal op nie. Dit is ’n vlesige gewas met ’n relatief “lae” koolstof-tot-stikstof-verhouding. Die C:N-verhouding wissel van 8:1 tot 15:1, maar neem toe wanneer dit in kombinasie met grasse soos hawer en swart hawer gebruik word.

Wieke verskaf ’n mate van onkruidbeheer tydens sy sterk groeistadium, en wanneer dit as deklaag gelaat word as dit verouder is. Navorsing het getoon dat harige wieke as deklaag die vernaamste gewas se weerstand teen siekte kan verhoog en die blaarfotosintese van die volgende gewas kan verleng.

Weiwieke is ’n waardevolle plant vir die verlaagde-chemiese of nie-chemiese behandeling van insekplae. Dit lok bestuiwers en voordelige insekte soos besies, netvlerkinsekte, kleinroofwespes, en ander (Smith & Valenzuela, 2002).

Gewone en perswieke word as groenbemestinggewasse aanbeveel. Weiwieke is ’n dekgewas wat die grond goed bedek. Die fyn biomassa breek egter redelik gou af. Dit vaar goed in kombinasies met hawer en swart hawer as ’n metgeselgewas in mengsels, asook saam met radys.

Weiwieke, veral in ’n hawer/wieke-mengsel, verbeter die stabiliteit van grondaggregate (deeltjies) en verminder die waarskynlikheid dat die aggregate in water sal disintegreer.

Bestuursuitdagings

Indien weiwieke in die herfs aan die einde van ’n siklus (drie tot vyf jaar) in subtropiese gras as ’n aangeplanteweiding-rusoesgewas gesaai word voordat dit aan die einde van die winter verwyder word voordat die opvolg-graangewas gesaai word, moet aandag aan onkruidbeheer geskenk word totdat die wieke gevestig is.

Wanneer weiwieke geplant word, is dit belangrik om in gedagte te hou dat hierdie wieke vatbaar is vir knopwortelaalwurmbesmetting, en dat dit ’n groeibeperkende (allelopatiese) effek op die volgende gewas, soos blaarslaai, jong grasse en ertjies, het. Weiwieke kan ’n gasheer vir Sclerotinia minor wees en moenie gebruik word wanneer opvolggewasse daarvoor sensitief is nie.

Die beste tyd vir geenbewerking-mielieaanplanting in wieke wissel na gelang van plaaslike reënvalpatrone, die vereiste N-aanwending, die lengte van die seisoen en die volwassenheid van die wieke.

Wieke word gewoonlik tydens ’n aktiewe groeitydperk doodgemaak, maar nie later nie as twee weke voordat mielies geplant word. Dit word direk in die deklaag gedoen.

In geenbewerkingstelsels skep dooie wieke ’n korttermyn- maar doeltreffende deklaag in die lente/vroeë somer. Die deklaag verskaf voer, beskerm die grond teen erosie en behou vog. Dit laat plante ook toe om gemineraliseerde voedingstowwe beter te gebruik as wat met landerye sonder ’n deklaag die geval is.

Diereproduksie-aspekte

Wieke is baie voedsame voer, en navorsing wat deur die Hamilton Veeartseny-instituut gedoen is, toon dat wieke die volgende voedingswaarde kan hê: ru-proteïen (16% tot 28%), verteerbaarheid (50% tot 82%) en die metabolisering van energie (7 MJ tot 11 MJ), en produksieopbrengste van tussen 4 ton/ha en 5 ton/ha.

Wiekespesies wat vir weiding gekies word, moet as gevolg van hulle rankende/kruipende groeiwyse nie straf bewei word nie. Dit sal skade aan die spesie veroorsaak. Wanneer die wieke met hawer gemeng word, kan die weidingsdruk verhoog word. Navorsing het getoon dat 145 g/skaap/dag met weiwieke verkry is (Spurway et al., 1974).

Gevolgtrekking

Wiekespesies het geweldige potensiaal as ’n eenjarige peulgewasspesie, veral as dit tussen twee somergraangewasse geroteer word. Dit is egter noodsaaklik om die regte spesie vir hierdie doel te kies, veral as die wieke op ’n later stadium, wanneer die gekombineerde graangewas geoes is, net vir voerdoeleindes gebruik gaan word.

Indien ’n wiekespesie vir weiding gekies word, is die weiwieke (Vicia dasycarpa) die geskikste. Baie min produksienavorsingsdata is al vir Suid-Afrikaanse toestande gepubliseer, wat dit uiters moeilik maak om op internasionale literatuur en data staat te maak.

Die bestaande verslae oor die produksiepotensiaal van wiekespesies beklemtoon nietemin hulle waarde in geïntegreerde gewas- en weidinggebaseerde lewendehawe-produksiestelsels.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.

Verwysings

Dickinson, EB, Hyam, GFS, Breytenbach, WAS, Metcalf, WD, Basson, WD, Williams, FR, Scheepers, LJ, Plint, AP, Smith, HRH, Smith, PJ, Van Vuuren, PJ, Viljoen, JH, Archibald, KP and Els, JN. 2004. Kynoch pasture handbook. Kejafa Knowledge Works: Maanhaarrand.
Smith, J and Valenzuela, H. 2002. Green manure crops: Woollypod Vetch. SA-GM-13.
Spurway, RA, Wheeler, FL and Hedges, DA. 1974. Forage and sheep production from oats, rape and vetch sown in autumn with or without nitrogen fertilizer. Australian journal of experimental agriculture and animal husbandry: Volume 14.