Hierdie artikel is die 16de in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in bewaringslandbou-gebaseerde (BL-gebaseerde) gewas-aangeplante weiding-rotasies speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van aangeplante weidingspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n aangeplante weiding-rusoesgewas, en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplante weiding-rotasies word.

Dit is noodsaaklik om ’n aangeplante weidingspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en/of grondherstel. Hierdie artikel fokus op ’n meerjarige aangeplante weiding wat algemeen gebruik word om grondtoestande te verbeter en goeie weiding vir beeste en veral vir skape te verskaf.

Paspalum notatum Bahiagras (Bahia grass)

Bahiagras is ’n meerjarige gras wat in die somer groei en uitlopers (bogrondse stingels) en risome (ondergrondse stingels) ontwikkel. Voortplanting vind deur middel van saad plaas, en Bahiagras versprei vegetatief deur middel van kort, swaar uitlopers.

Geneties gesproke is daar twee tipes of twee ploïedievlakke wat aangetref word in hierdie spesie wat gekweek word: diploïede en tetraploïede. Hierdie spesie kom oorspronklik uit Suid-Amerika en is goed by kusgebiede en vlaktes aangepas. Dit vestig goed in sandgrond met lae waterretensie en lae vrugbaarheid, en hanteer droogte, sporadiese oorstroming en deurlopende beweiding.

Bahiagras is ’n meerjarige gras wat in die somer groei en uitlopers (bogrondse stingels) en risome (ondergrondse stingels) ontwikkel.

Landbou-ekologiese verspreiding

Bahiagras is die beste by sanderige leemgrond aangepas en hanteer lae vrugbaarheid en ’n lae pH. Dit groei goed in grond met ’n suur pH van 4,5 tot 6,5, en die optimale grond-pH is 5,5. Teen ’n pH van hoër as 6,5 toon die gras chlorose en belemmerde groei.

Dit oorleef goed in grond wat vir droogte vatbaar is, waar dit ’n oper stand toon om te vergoed vir die lae vog wat beskikbaar is. Bahiagras groei sterk in hoë temperature en wanneer die dae lank is, en grasproduksie is die hoogste van Oktober tot April.

Meer as 85% van die produksie kom in die ses warmste maande (Oktober tot Maart) voor. Die gewildste kultivars is Pensacola, Tifton 9, TifQuik, en UF-Riata. Hierdie kultivars is diploïed, terwyl Paraguay, Argentinië en “algemeen” tetraploïed is.

Voortplanting vind deur middel van saad plaas, en Bahiagras versprei vegetatief deur middel van kort, swaar uitlopers.

Bestuur en benutting

Bahiagras word gevestig deur saad te plant. Waar Bahiagras die beste kans staan om te groei, is in grond met goeie grondvog en wat goed dreineer. Dit is die beste om hierdie spesie in November te vestig. Indien besproeiing beskikbaar is, kan Bahiagras egter so vroeg as September geplant word.

Dit is noodsaaklik om onkruid te beheer voordat die gras geplant word, aangesien saailinge stadig groei. Wanneer die saailinge egter opgekom het, wend bemesting volgens grondontledingsaanbevelings aan. Wanneer Bahiagras gesaai word, moet dit nie te diep gedoen word nie, en voldoende saad moet gebruik word.

Die strooikoerse van die saad kan tussen 20 kg/ha en 25 kg/ha wissel.  Gebruik die regte saaidigtheid, aangesien dit die stand vinniger sal laat toegroei en die geleentheid vir onkruid om die oop ruimtes te vul, sal beperk. Nadat daar gesaai is, konsolideer die grond met ’n roller om die vog in die grond te seël.

Ligte bemesting van Bahiagras sal gewoonlik binne sewe tot tien dae na die verskyning van saailinge nodig wees. Die aanvanklike aanwending moet uit 65 kg stikstof (N)/ha, al die aanbevole fosfaat (P), en 50% van die aanbevole kalium (K) bestaan.

Ongeveer 40 tot 50 dae na die aanvanklike aanwending moet ’n bykomende 100 kg N en die oorblywende K aangewend word. Indien mis of organiese stowwe as die vernaamste bron van voedingstowwe gebruik word, wend die volle jaarlikse aanwending op een slag aan as die plante groot genoeg is om fisiese skade van die aanwending te weerstaan. Goed bemeste plante sal binne 60 tot 90 dae ’n digte stand vorm, en op daardie stadium kan ligte weiding of sny plaasvind.

Die onkruidbeheer in Bahiagras op saailingstadium moet meganies gedoen word deur dit te sny. Vanaf verskyning tot ongeveer 15 cm lank (saailingstadium) kan Bahiagras die meeste onkruiddoders nie hanteer nie. Bahiagras-saailinge is vatbaar vir fenoksi-tipe onkruiddoders (2,4-D, Dicamba en ander), en dit moenie aangewend word voordat die saailinge ten minste 15 cm lank is nie.

Bahiagras is ’n uiters geharde gras as gevolg van talle stoele en risome en veral as gevolg van die worteldigtheid. As gevolg van die risome kan Bahiagras algehele ontblaring weerstaan. Die stoppelhoogte vir hooiproduksie in die middel-somerseisoen moet ongeveer 5 cm wees, 7,5 cm indien dit volgens rotasie bewei word, en 12,5 cm indien dit onder deurlopende beweiding is.

Daar is baie bewyse wat toon dat wanneer aangeplante weiding oorbewei word en kaal beweiding voortgaan, die Bahiagras swak raak en die stand agteruitgaan. Dit is egter ook ’n bekende feit dat die vinnige groei van Bahiagras met ’n vinnige daling in voedingswaarde gepaardgaan.

Deur die getal diere te verhoog wanneer Bahiagras vinnig groei, sal te veel ou groei vermy word. Die ru-proteïen en verteerbaarheid van die voer sal waarskynlik verbeter, en die lewende hawe sal beter presteer. Indien goed bemeste Bahiagras gesny kan word voordat die bloeiwyse vorm, sal dit goeie gehalte hooi lewer.

Die gehalte van die gras daal dramaties wanneer die bloeiwyse teenwoordig is. Tifton 9, TifQuik, en UF-Riata groei meer regop en word aanbeveel vir produsente wat Bahiagras vir hooiproduksie wil kweek. Hierdie variëteite produseer lang blare en baie biomassa.

Grondbewaring en gesondheidsvoordele

Die intensiewe bestuur van Bahiagras vir hooiproduksie is ’n opsie vir die herstel van P-geïmpakteerde grond as gevolg van die groter opbrengs wat met N-bemesting verkry kan word. Studies het getoon dat opbrengs met die aanwending van N teen ’n koers van 50 kg/ha/oes met ongeveer 70% toeneem. Navorsingsverslae toon ook dat die aanwending van N-bemesting Bahiagras se P-absorpsie verhoog, en gevolglik P-verliese in grondwater verminder.

Kumulatiewe P-verwydering deur Bahiagras wat vir ’n tydperk van twee jaar onder hooiproduksiebestuur is, is al aangemeld. Indien plantweefselfosfaat op ’n hoogtepunt van 0,35% is en agt ton droë materiaal word geproduseer, sal ongeveer 50 kg fosfaat/ha/jaar verwyder word.

Goed bestuurde Bahiagras wat voldoende N-bemesting vir hooiproduksie ontvang, kan ’n praktiese en kostedoeltreffende alternatief bied om fosfaatverliese uit fosfaat-geïmpakteerde grond te verminder.

Bestuursuitdagings

Talle verslae het getoon dat molkrieke ernstige skade aan Bahiagras-weiding kan veroorsaak. Bahiagras is ook vatbaar vir die siektes bruinkol (Sclerotinia homoeocarpa) en moederkoring (Claviceps paspali) in warm, vogtige weerstoestande. Hierdie siektes sal saad- en produksie-opbrengs raak, maar geen van hierdie siektes is gewoonlik toksies of ’n probleem vir lewende hawe nie.

Diereproduksie-aspekte

Die energiekonsentrasie van Bahiagras – wat in die verteerbaarheid van die groenigheid weerspieël word – neem aansienlik af namate die seisoen vorder, ongeag hoe vrugbaar die grond is of op watter manier dit ontblaar word. Verskillende studies toon dat goed bemeste Bahiagras op 10% tot 12% ru-proteïen (RP) bly.

Bahiagras is gevolglik nie baie geskik om lewende hawe met hoë voedingsvereistes soos groeiende diere of lakterende melkkoeie te ondersteun nie. Konsentrasies vir fosfaat (P) in blaarweefsel kan van 0,10% tot 0,45% wissel, en vir kalium (K) kan dit van 1,1% tot 2,5% wissel. Die byvoeging van bemesting is nodig om voldoende droëmateriaalproduksie te verseker indien die konsentrasies van fosfaat in die blare laer as 0,10% of dié vir kalium laer as 1,1% daal.

Gemiddelde daaglikse toenames (GDT; kilogram lewende gewig wat per dag bygevoeg word) met Bahiagras is gewoonlik laer as met ander subtropiese meerjarige grasse. Studies oor Bahiagras-aangeplante weiding wat deurlopend bewei word (deurlopende besetting) toon dat die GDT van verse van 150 g/dag tot 550 g/dag wissel.

Hierdie syfers daal egter gewoonlik van die somer tot in die herfs. Die GDT in die somer in Januarie/Februarie sal dikwels van 550 g/dag tot 600 g/dag wissel. Wanneer weiding in die somer onderbeset is, is daaglikse toenames gewoonlik laag, wat met oorvolwasse groei verbind word.

Gevolgtrekking

Bahiagras is ’n spesie wat bekend is vir sy aanpassing by baie nat en suur grond en dit dien die sekondêre doel om ’n deel van die oormaat P te verwyder indien nodig. Dit is veral van toepassing waar grond oor die jare heen groot hoeveelhede dieremis ontvang het.

Indien ’n spesie aanbeveel moet word vir aanplanting in graangewasgrond wat onder besproeiing is in gebiede wat relatief koel is, sal hierdie spesie die vermoë hê om hierdie intensief-bestuurde grondtoestande te verbeter indien dit as ’n aangeplante weiding-rusoesgewas gebruik word.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.

Verwysings

Dickinson, EB, Hyam, GFS, Breytenbach, WAS, Metcalf, WD, Basson, WD, Williams, FR, Scheepers, LJ, Plint, AP, Smith, HRH, Smith, PJ, Van Vuuren, PJ, Viljoen, JH, Archibald, KP and Els, JN. 2004. Kynoch pasture handbook. Kejafa Knowledge Works: Maanhaarrand.
Newman, Y, Vendramini, J and Blount, A. 2014. Bahiagrass (Paspalum notatum): Overview and management.