Geïntegreerde gewas- en aangeplante weiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 13: Armmanslusern (Lespedeza cuneata)

2573

Hierdie artikel is die 13de in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in bewaringslandbou-gebaseerde (BL-gebaseerde) gewas-aangeplanteweiding-rotasies speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van aangeplanteweidingspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n aangeplanteweiding-rusoesgewas, en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplanteweiding-rotasies word.

Dit is egter noodsaaklik om ’n aangeplanteweidingspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en/of grondherstel. Hierdie artikel fokus op ’n meerjarige peul-aangeplanteweidingsgewas wat algemeen tydens die somerseisoen vir so lank as vyf jaar tussen eenjarige gewasse as ’n weiding en/of hooigewas gebruik word. Met die stygende koste van bemestingstowwe en die doelwit van volgehoue grondvrugbaarheid en die verbetering van grondgesondheid, kan hierdie opsie ’n geleentheid verskaf.

Lespedeza cuneata (Sericea lespedeza/armmanslusern/poor man’s lucerne)

Hierdie is ’n meerjarige, somer-groeiende peulgewas inheems in Oos-Afrika. Dit het ’n struikagtige groeivorm, is bladwisselend en kan tot 1,5 m hoog groei.

Dit het dik stingels, is blaarryk en groei regop. Algemene eienskappe sluit droogteweerstandigheid in, en dit is ’n peulgewas wat nie opblaas veroorsaak nie en wat heelwat saad produseer. Sericea lespedeza(Lespedeza) word algemeen gebruik vir aangeplante weiding, hooi, grondbewaring en wild. Talle variëteite word regoor die wêreld gebruik, insluitende die AU Lotan en AU Grazer, wat plaaslik die gewildste is, en ander variëteite soos Arlington, Serala, Gasyn, Interstate, Cericea, Appalow, Serala 76, Interstate 76 en AU Donnelly, wat elders beskikbaar is of ingevoer word.

Lespedeza (armmanslusern).

Agro-ekologiese verspreiding

Lespedeza benodig ’n matige klimaat met somerreënval en dit groei goed in ’n gebied wat 650 mm of meer reën ontvang. Dit is sensitief vir ryp, wat die bogrondse groei doodmaak. Dit groei sterk vanaf die lente tot die herfs, en wanneer daar nie ryp is nie, ook tydens die winter.

Lespedeza is ook weerstandig teen sekere siektes, met min terugvoer van insekaanvalle, maar kan vatbaar wees vir knopwortelaalwurm in grond met ’n ligte tekstuur. Die volwasse plante ding met gras mee. Die spesie is ook baie meer verdraagsaam teenoor suur grond of minder vrugbare grond as ander peulgewasse. Dit is die produktiefste in diep, goed gedreineerde, vrugbare grond.

Alhoewel Lespedeza ’n peulgewas is, het dit ’n lae stikstofbindingsvermoë en het min effek op die grondstikstof. Lespedeza het ’n diep wortelstelsel, wat tot sy droogtebestandheid bydra. Die grondbewaringseienskappe is uitmuntend en benewens die gebruik as voer, word Lespedeza ook algemeen gebruik om gedegradeerde gebiede te remedieer.

Lespedeza (armmanslusern).

Bestuur en benutting

Lespedeza is bekend daarvoor dat dit stadig vestig, siende dat die aanvanklike groeifokus wortelontwikkeling is. Wanneer Lespedeza gevestig word, is dit belangrik om geduldig te wees met hierdie aangeplante weidingsgewas, want dit is bekend daarvoor dat dit dormant is in die eerste jaar, begin groei in die tweede jaar en in die derde jaar vinnig vorder.

Hierdie spesie word normaalweg gedurende die lente teen ’n saaikoers van tussen 20 kg/ha en 30 kg/ha in ’n fyn en ferm saadbed geplant.

Dit moet verkieslik in rye 400 mm tot 900 mm uitmekaar geplant word. Daar word aanbeveel dat die saad geplant word met ʼn grondtemperatuur in die omgewing van 25°C tot 30°C, aangesien dit optimale ontkieming bevorder.

Die beste planttyd is vanaf November tot einde Januarie, teen ’n maksimum diepte van 5 cm en nooit bokant die grond nie. Die plant het baie lae saailinggroeikrag en dit is dus raadsaam om dit in suiwer stande te plant. Onkruidbeheer is noodsaaklik, en indien onkruid goed beheer word, kan die tyd vanaf eerste aanplanting tot eerste gebruik verkort word. Dit is ook baie belangrik dat die saad wat geplant word, goed geënt word, aangesien dit die waardevolle proses van stikstofbinding sal vergemaklik.

Die uitnemende hooi-eienskappe van Lespedeza sluit die fyn stingels in wat geen vog bevat nie, en nuwe verbeterde variëteite het ’n hoë blaar-teenwoordigheid op die korrekte oesstadium. Hierdie blaarryke stamme word vinnig droog en kan op dieselfde dag gesny, gedroog en gebaal word indien die klimaatsomstandighede dit toelaat. Dit is uiters belangrik dat Lespedeza nie te veel gedroog word nie, want dit sal noemenswaardige blaarverlies tydens die droog- en baalproses tot gevolg hê. Indien Lespedeza ordentlik bewaar word, kan verwagte blaarmateriaal van tussen 55% en 65% verkry word.

Die Lespedeza-gewas kan gebruik word deur dit óf te sny vir hooi, óf te bewei. Met nuwe variëteite is die smaaklikheid en voerinname van die hoë-tannienspesie hoër vir hooi as wat dit vir vars voer is. Wanneer Lespedeza gesny word vir hooi, moet daar seker gemaak word dat dit tussen 300 mm en 400 mm hoog is. Indien die stingels maklik breek wanneer dit gebuig word, is die gewas te volwasse vir hoëkwaliteithooi. Baie hoër opbrengste sal verkry word indien die gewas op ’n meer volwasse stadium geoes word, maar met minder blare asook ’n laer kwaliteit. Daar word aanbeveel dat stoppels van 100 mm tot 150 mm agtergelaat word na elke sny om vinnige teruggroei te verseker.

Die bestuur van hierdie spesie moet daarop gemik wees om die plant sterk te laat groei. Wanneer hierdie gewas as weiding gebruik word, is dit noodsaaklik om die plante volgens rotasie te bewei wanneer hulle150 mm tot 250 mm hoog is. Indien hierdie gewas toegelaat word om hoër as 350 mm te groei, is die kans groot dat die voer groot hoeveelhede tannien sal bevat.

Veldherstel.

Grondbewaring en gesondheidsvoordele

Wanneer Lespedeza in ’n digte stand groei, het dit die voordeel dat dit goeie bedekking bied en ook gronderosie voorkom. Bo en behalwe die vermoë om grond in die somer teen eroderende reën te beskerm, verbeter dit grondvrugbaarheid deur tot die stikstof- en organiesemateriaalstatus van die grond by te dra – wat die waarde-toevoeging van ’n peulgewas is.

Daar is ook al gemeld dat wanneer Lespedeza as ’n groenbemestingsgewas gebruik word, die daaropvolgende gewasse ongelooflik daarby sal baat. Onder geenbewerking-omstandighede kan die gewas gebruik word as ’n rusoesgewas en doodgemaak word met onkruiddoders voordat ’n kontantgewas soos mielies gevestig word.

Die bekende diep en sterk wortelstelsel van Lespedeza word die meeste gerespekteer as bydrae om grondtoestande te verbeter, veral oor die volle lewenssiklus van hierdie peulgewas.

Lespedeza-blomvorming.

Bestuursuitdagings

Dit is ’n bestuursuitdaging in eie reg om Lespedeza op die regte stadium te oes en te benut. Die volgende uitdaging behels die droog van die geoeste materiaal om noemenswaardige blaarverlies (wat die finale voerkwaliteit bepaal) te voorkom.

Aangesien Lespedeza ’n meerjarige gewas is, is saadproduksie nie altyd nodig om die stand te onderhou nie. Daar word aanbeveel dat die gewas langer sal hou indien jy dit laat uitgroei na ongeveer twee oeste en die wortelstelsel toelaat om genoegsame reserwes op te bou om vinnige teruggroei in die nuwe groeiseisoen te verseker.

Tydens aanplanting is daar ’n paar uitdagings rondom die voorbereiding van die Lespedeza-saad voordat dit geplant word. Dit is nodig om die saad te skraap om goeie ontkieming te verseker. Verslae het aangedui dat uitgedopte saad tot beter ontkieming en saailinglewensvatbaarheid lei. Dit is belangrik om te onthou om die saad te ent en wanneer hierdie proses voltooi is, dat geënte saad geplant word wanneer die grondtoestande bakteriële groei op die wortelstelsel bevorder.

Diereproduksie-aspekte

Die aspek wat die meeste kommer wek, is heelwaarskynlik hoë tannienvlakke, wat verantwoordelik is vir lae kwaliteit ruvoer en uiteindelik swak diereproduksie. Die tannien is verantwoordelik vir die nie-opblaaseienskap van Lespedeza, maar dit verlaag ook die verteerbaarheid en smaaklikheid van die ruvoer. Variëteite met laer tannien is beskikbaar en het ’n beter voerkwaliteit. In droëlandgroeitoestande kan die proteïeninhoud van 10% tot 16% wissel. Met hooi-opbrengste van tot 8 ton/ha is die geleentheid egter klein om optimale benutting van die aangeplante weidingsgewas in die veld te kry wanneer dit bewei word.

Navorsing het getoon dat tannien ’n beduidende afname in die fekale eiertelling van gastro-intestinale parasiete by herkouers tot gevolg het. Dit verminder die uitwerking van parasitiese aalwurms op diere se gesondheid en verlaag ook aangepaste weiding besmetting.

Gevolgtrekking

Lespedeza is ’n peuldraende aangeplante weidingsgewas met baie waardevolle eienskappe. Vanuit die diereproduksie-oogpunt is bestuur baie belangrik om die gewas optimaal te benut. Die spesie het egter die vermoë om grond van ’n baie lae kwaliteit te gebruik om goeie kwaliteit, waardevolle voer te verskaf.

Gedurende die tydperk van vestiging, groei en die stadium van benutting dra die spesie ook geweldig tot beter grondtoestande by. Dit sluit die opbou van stikstof en organiese materiaal as gevolg van ’n sterk wortelstelsel in. Soos met baie aangeplante weidingsgewasse, lê die kwaliteit van die aangeplanteweidingsgewas in die regte tydsberekening vir die oes deur middel van sny en/of beweiding.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.