Geïntegreerde gewas- en aangeplante weiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 12: Hawer (Avena sativa)

7824

Hierdie artikel is die 12de in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in bewaringslandbou-gebaseerde (BL-gebaseerde) gewas-aangeplante weiding-rotasies kan speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van weidingspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n aangeplante weiding-rusoesgewas, en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplante weiding-rotasies word. Dit is egter noodsaaklik om ’n aangeplante weidingspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en/of grondherstel.

Hierdie artikel fokus op ’n eenjarige weidinggewas wat gewoonlik in ’n kort eenwinterseisoen-rotasie as ’n dekgewas en groenbemestinggewas gebruik word, hetsy na ’n eenjarige of ’n meerjarige somerspesie. Groenbemesting-gewasverbouing is ’n praktyk wat in Suid-Afrika nie goed verstaan of ekonomies geregverdig word nie, aangesien dit duur voorkom as gevolg van die saadbedvoorbereiding, vestiging en potensiële vermorsing, of eerder die onbekende waarde van inwerking.

Met die stygende koste van bemestingstowwe en die doelwit van volgehoue grondvrugbaarheid en die verbetering van grondgesondheid, kan hierdie opsies geleenthede verskaf.

Avena sativa/hawer/oats

Gewone hawer is ’n eenjarige graangewas wat in die koel seisoen geplant word, en dit word ’n baie bekende vinnige dekgewas wat die vermoë het om aan talle grondbewaringsprioriteite te voldoen. Die tropiese familielid, die “swarthawer”-variëteit, het ook steun ontvang van talle produsente in ander dele van die wêreld wat dit in sekere geenbewerkingstelsels en ander landboustelsels gebruik.

Gewone hawer is ’n regop, eenjarige gras wat 1,5 m hoog kan word. Dit het ’n fyn vertakte wortelstelsel en die groeisiklus kan enigiets tussen 60 en 75 dae wees, afhangend van die kultivar en die omgewing waarin dit gekweek word. Dit saad is goedkoop en daar is talle aangepaste variëteite.

Vinnige ontkieming en groei van hawer na aanplanting.

Agro-ekologiese verspreiding

Hawer verkies ’n koel, vogtige klimaat in goed gedreineerde grond, maar hierdie gewas is by talle grondtipes aangepas. Dit kan grond-pH vlakke van 5,5 tot 7 hanteer, maar sommige variëteit kan grond-pH-vlakke van so laag as 4,5 hanteer. Dit het ’n wyere pH-aanpasbaarheid as koring of gars en het ’n lae kalkvereiste.

Hierdie gewas het die vermoë om beter as ander graangewasse in nat grond te groei, maar dit het slegs ongeveer 350 mm vog nodig vir groei, en word dus as ’n goeie gewas vir vogbewaring beskou. Daar is talle kultivars van verskeie saadhandelaars beskikbaar.

Bestuur en benutting

Strooi of plant saad op ’n diepte van 1 cm tot 2,5 cm en bewerk liggies met ’n skottelploeg (onder konvensionele bewerking). Saaidigthede van tot 100 kg/ha kan in winterreënvalgebiede of onder besproeiing gebruik word. In somerreënvalgebiede onder droëlandproduksie kan 50 kg/ha tot 75 kg/ha saad geplant word.

Indien die grond vogtig genoeg is, verskyn saailinge vinniger as die saad vlak gesaai word, en die voorkoms van wortelvrotsiekte word verminder. Hierdie spesie word dikwels nie met stikstof (N) bemes nie, aangesien dit gebruik word om die oormaat stikstof in die profiel te absorbeer en te voorkom dat dit deur loging verlore raak.

Indien N aangewend moet word, sal dit wees om mikrobiese aktiwiteit te bevorder en dit sal ook voorkom dat die ontbindende plantmateriaal die stikstof gebruik wat deur die volgende gewas benodig word. Op hierdie manier kan dit weer ingewerk word voordat die daaropvolgende gewas gevestig word. Indien die hawer vir beesproduksie gebruik moet word, kan dit óf bewei word, met voldoende rusperiodes vir hergroei, of hooi en/of kuilvoer kan gemaak word.

2a Hawer in vol saad.
2b Hawer in vol saad.

Grondbewaring en gesondheidsvoordele

Gewone hawer is ’n doeltreffende metode om onkruid te beheer, wat die behoefte aan chemiese onkruidbeheer verminder. Hawer ontkiem baie vinnig en dit oorheers die onkruidspesies wat in dieselfde omgewing groei.

Verder stel hawer ’n allelopatiese verbinding (plant-geproduseerde chemiese stowwe) vry wat die ontkieming en groei van onkruid vir verskeie weke lank verhinder. Hierdie verbindings kan egter ook die groei van daaropvolgende gewasse soos koring, ertjies, blaarslaai en rys belemmer, en hierdie eienskap moet dus in gedagte gehou word wanneer die tydsberekening en volgorde van ’n wisselbouprogram vir ’n plaas beplan word. Hierdie allelopatiese verbindings is geneig om binne ongeveer drie weke af te breek, maar ’n spesialis moet nietemin vir meer besonderhede oor spesifieke gewasse geraadpleeg word.

Die literatuur toon dat gewone hawer ongeveer 5 ton/ha droë materiaal oplewer, en dit absorbeer ongeveer 7,25 kg N in elke ton droë materiaal. Die weefsel-N-inhoud van hawer is ongeveer 1,2%. Soos voorheen gesê is, sal die byvoeging van N-bemesting mikrobiese aktiwiteit bevorder en ook voorkom dat die ontbindende plantmateriaal die stikstof gebruik wat deur die volgende gewas benodig word.

Alternatiewelik kan ’n gemengde dekgewas van hawer en ’n peulgewas potensiële probleme met N-immobilisering verminder. Om tyd te laat vir die ontbinding van reste, laat twee tot drie weke oop voordat die volgende gewas geplant word.

Die hawer se wortels en oesreste verbeter ook die grond se “gesondheid” deur die grondstruktuur en waterinfiltrasie te verbeter. Die meeste van die grondverbetering kom in die bogrondlaag voor. Namate die reste ontbind, verskaf die toevoegings van organiese materiaal voedsel vir die groeiende mikrobiese bevolking.

Wanneer hawer teen lae saaidigthede geplant word, kan dit ook as pleeggewas gebruik word om stadiger-groeiende peulgewas-dekgewasse te vestig. As die hawer te sterk groei, kan dit gesny word om die peulgewas as tussengewas beter te laat groei.

Bestuursuitdagings

Met hawer wat onkruidgroei kan onderdruk, kan die allelopatiese verbindings wat hierdie eienskap aan hawer verskaf die groei van daaropvolgende kontantgewasse belemmer. Laat drie weke toe vir die allelopatiese verbindings om te ontbind.

Wanneer hawer vir graan of voer geplant word, kan dit meer insekprobleme (soos haarwurms, snywurms, kommandowurms, plantluise en myte, blaaspootjies, blaarspringers en wurms) hê. Kultivars wat teen roes en skroei bestand is, is ontwikkel.

3a Hoë voerproduksiepotensiaal.
3b Hoë voerproduksiepotensiaal.

Diereproduksie-aspekte

Benewens die grondverbeteringsvoordele van hawer, word hierdie kleingraangewas ook algemeen as voer vir diereproduksiestelsels gebruik. Hawer ding relatief met die meeste eenjarige wintervoergewasse mee en kan bewei word wanneer dit 20 cm hoog is.

Weiding moet bestuur word om die voer te verwyder voordat dit te stingelrig raak. Hawerhooi is ’n bevredigende hooigewas indien dit gesny word wanneer die stingels en blare nog groen is. As gevolg van die hoër proteïeninhoud maak hawer die voedsaamste hooi wanneer dit in die sagtedeegstadium gesny word.

Hawer wat vir voer gebruik word, is meer geneig as koring of gars om potensieel toksiese vlakke van nitraat in plantvoer te akkumuleer in toestande van droogte, haelskade of ander groeifaktore wat veroorsaak dat normale groeipatrone staak.  Onder sulke toestande sal ’n laboratoriumdiagnose van hawervoer vir nitrate nuttige inligting oor die veiligheid daarvan verskaf.

Hawer kan as goeie “kragvoer” vir beeste beskou word, maar die waarde daarvan is laer as dié van mielies, graansorghum of koring wanneer dit as die vernaamste energiebron in afrondingsvoer gebruik word. Voer wat baie hoe vlakke hawer bevat, of selfs voer met geen ruvoer nie, lewer nie gewigstoename wat met mielies en sorghum vergelyk kan word nie.

Hawer kan in alle-konsentraatdiëte as aanvulling dien vir graan wat ’n lae veselinhoud het. Dit is egter steeds ’n gekonsentreerde voer. Sterftes as gevolg van suurpens kan voorkom by jong diere wat te veel hawergraan inneem. Soos met alle ander konsentrate, moet skielike oormatige inname vermy word.

Hawer se graanproduksiestadium.

Gevolgtrekking

Hawer is ongetwyfeld ’n uitstekende gewas wat grond met lae vrugbaarheid kan hanteer, onkruid onderdruk as gevolg van die vinnige groeitempo, en as ’n vangoes gevestig kan word om ’n oormaat N te absorbeer en te stoor. Met die sterk wortelstelsel verskaf dit ook goeie erosiebeheer deur grondorganiese materiaalinhoud te verhoog om die grondstruktuur te verbeter. Benewens al die grondverbeteringsvoordele wat dit inhou, kan dit vir diere se weistelsels gebruik word, en om langdurige reste vir daaropvolgende gewasse te verskaf.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.