Beheer van onkruide in mielies en koring – Deel 9: Bengaalse wandelende Jood (Benghal wandering Jew)

2725
‘n Wandelende Jood-saailing.
Die volwasse plant.
Ondergrondse saad en bloeiwyse.
Saad van die wandelende Jood.

Wetenskaplike naam: Commelina benghalensis
Afrikaanse naam: Bengaalse wandelende Jood, Bengaalse-Commelina,
wandelende Jood, blouselblommetjie
Engelse naam: Benghal wandering Jew, Benghal Commelina, wandering Jew

Kort beskrywing

Wandelende Jood is ‘n rankende, eenjarige, sagte onkruid wat relatief regop groei. Dit het dun wortels en wit, ondergrondse wortelstokke (risome) wat ook blomme en sade produseer. Die stingels is helder liggroen, gerib en harig. Alhoewel dit breë blare het, is dit ‘n eensaadlobbige plant en are is dus parallelnerwig, soos by grasse.

Die blare is enkelvoudig, afwisselend gerangskik en eiervormig. Blomme is hier okselstandig, klein, inkblou, byna sittend en oorleef net ‘n paar ure.

Dit het bogrondse sowel as ondergrondse blomme en sade. Bengaalse wandelende Jood se vrugte is driehokkige kapsules (doosvrugte) met een halfronde saad in die dorsale hok en twee saamgedrukte sade in elk van die ander twee hokke.

Die bogrondse sade is klein en die ondergrondse sade is relatief groot. Dit is grys tot amper swart en die oppervlak van die saadhuid (testa) is grof. Wandelende Jood plant voor op verskeie maniere, naamlik met steggies (stukkies van plant en risome), asook bo- en ondergrondse sade.

Verspreiding

Hierdie onkruid is wydverspreid dwarsdeur die somerreënvalstreek van Suider-Afrika en word beskou as ‘n moeilik beheerbare onkruid.
Vanweë onvoldoende beheer is hierdie onkruid vinnig aan die toeneem, veral waar verminderde of geenbewerking toegepas word.

Wanneer dit in digte stande voorkom, is dit ‘n strawwe mededinger.  Laat in die seisoen kan dit ‘n dik “mat” vorm tussen gewas-rye waar die gewas alreeds fisiologies ryp geword het en wat beheer dan bemoeilik.

Beheer

Bewerking
Vlak skoffel sal die plante slegs in stukkies sny en indien die steggies nie dieper as 50 mm begrawe word nie, sal dit wortelskiet en weer groei. Slegs as die steggies dieper as 50 mm begrawe is, sal dit afsterf. Daarom sal vlak skoffel met ‘n eg die onkruid eerder versprei as beheer.

Chemies
Chemiese beheer is hier die beste metode. Die klein, bogrondse saad ontkiem vlak en voor-opkomsonkruiddoders bied gewoonlik doeltreffende beheer. Die groot sade wat ondergronds voortgebring word, kan so diep soos 150 mm ontkiem en voor-opkomsonkruiddoders bied wisselvallige beheer. Daarom bied na-opkomsonkruiddoders beter beheer van Bengaalse wandelende Jood, terwyl die hormoontipe onkruiddoders (2,4-D, dicamba en MCPA) die doeltreffendste is.

Waar wandelende Jood ‘n ernstige probleem is, kan die beste resultate behaal word deur ‘n splittoediening van ‘n geskikte grasdoder voor-opkoms, gevolg deur ‘n na-opkomstoediening van ‘n geskikte breëblaaronkruiddoder. Wandelende Jood-saailinge moet verkieslik rondom die vierblaar-stadium gespuit word en nie later as die sesblaar-stadium nie.

Verskeie onkruiddoders is geregistreer vir die beheer van wandelende Jood in mielies en koring (Tabel 1 en Tabel 2). Daar verskyn op meeste van die onkruiddoders se etikette ‘n nota oor die beheer van wandelende Jood en dosisse moet heel dikwels verhoog word om effektiewe beheer te verkry.

Volg dus die spesifieke aanduidings en dosisaanwysings vir wandelende Jood slaafs na op elke produk se etiket.

TABEL 1: Onkruiddoders geregistreer op mielies vir die beheer van wandelende jood.

Aktiewe bestanddeel Formule Tyd van toediening
asetochloor 700 g/liter

840 g/liter

900 g/liter

960 g/liter

Voor-opkoms of vroeg na-opkoms van gewas
asetochloor/atrasien/simasien 160/165/165 g/liter Voor-opkoms, tydens of net na plant
asetochloor/atrasien/terbuthylazine 125/187,5/87,5 g/liter

150/225/225 g/liter

178,6/160,7/160,7 g/liter

250/225/225 g/liter

350/175/175 g/liter

Voor-opkoms, met-plant of binne drie dae na plant. Vroeg na-opkoms – nie later nie as vierblaar-stadium van onkruid
asetochloor/EPTC 150/350 g/liter Voor-opkoms van onkruid en gewas
alachloor 384 g/liter

480 g/liter

Voor-opkoms, tydens of net na plant
alachloor/atrasien 336/144 g/liter Voor-opkoms, tydens of net na plant
atrasien 500 g/liter

900 g/kg

Voor-opkoms, tydens of net na plant
atrasien/bendioxide 200/200 g/liter Na-opkoms tussen twee- tot sesblaar-stadium van onkruid
atrasien/cyanazine 167/333 g/liter

250/250 g/liter

Voor-opkoms of vroeg na-opkoms
atrasien/mesotrione/s-metolachoor 208,5/26,8/208,5 g/liter Voor-opkoms van onkruid en gewas
atrasien/metazachloor/terbuthylazine 210/60/210 g/liter Voor-opkoms binne drie dae na plant. Na-opkoms as opvolg bespuiting
atrasien/metolachlor 300/300 g/liter Voor-opkoms, binne drie dae na plant
atrasien/metolachlor/terbuthylazine 174/252/174 g/liter

262,5/175/262,5 g/liter

Voor-opkoms en vroeg na-opkoms, maar slegs waar grasse nog nie op is nie en breëblaaronkruide nie groter is as vierblaar-stadium nie
atrasien/s-metolachoor 370/290 g/liter Voor-opkomstoediening binne drie dae na plant
atrasien/sulcotrione 300/125 g/liter Voor- of na-opkoms toegedien
atrasien/terbuthylazine 250/250 g/liter

270/270 g/liter

300/300 g/liter

450/450 g/kg

Voor-opkoms of vroeg na-opkoms voor breë blare die vierblaar-stadium bereik
bendioxide 480 g/liter Na-opkoms wanneer onkruid aktief groei
bromoxynil 225 g/liter

450 g/liter

Na-opkoms, voor onkruid sesblaar-stadium bereik het
bromoxynil/terbuthylazine 150/333 g/liter Na-opkoms
dicamba 480 g/liter

700 g/liter

Na-opkoms tot gewas 30 cm hoog is. Kan ook saam met atrasien gemeng word
dimethenamid-P 720 g/liter Voor-opkoms binne drie dae na plant
dicamba/topramezone 160/50 g/liter Vroeg na-opkoms voor sesblaar-stadium, gebruik in tenkmengsel met atrasien of atrasien/terbuthylazine en Dash HC
glifosaat/mesotrione/s-metolachoor 250/25/250 g/liter Na-opkoms, slegs op glifosaat-tolerante kultivars
mesotrione 480 g/liter Voor- of na-opkoms. Gebruik slegs in tenkmengsel van atrasien, atrasien/ terbuthylazine of s-metolachoor
mesotrione/s-metolachloor 83,3/416,7 g/liter Voor-opkoms van onkruid en gewas
metolachloor 800 g/liter

840 g/liter

915 g/liter

950 g/liter

Voor-opkoms, binne drie dae na plant
metribuzin 480 g/liter Na-opkoms wanneer onkruide aktief groei, vier- tot sesblaar-stadium
s-metolachoor 915 g/liter

960 g/liter

Voor-opkoms, binne drie dae na plant
s-metolachoor/terbuthylazine 312,5/187,5 g/liter Vroeg na-opkoms, in tenkmengsel met mesotrione
tembotrione 420 g/liter Vroeg na-opkoms, gebruik in tenkmengsel met Atrasien 500 SC, ammoniumsulfaat en Ballista
terbuthylazine 600 g/kg Voor- en vroeg na-opkoms tot en met vierblaar-stadium

TABEL 2: Onkruiddoders geregistreer op koring vir die beheer van wandelende jood.

Aktiewe bestanddeel Formule Tyd van toediening
2,4-D 480 g/liter

500 g/liter

720 g/liter

Dien toe tussen groeistadiums sewe tot 13 van die gewas
2,4-D/dicamba 240/80 g/liter Dien toe tussen groeistadiums sewe tot 13 van die gewas
bendioxide 480 g/liter Dien toe op jong, aktief-groeiende onkruide
bromoxynil 225 g/liter

450 g/liter

Dien toe so vroeg moontlik na-opkoms van die onkruid, maar nie later nie as die sesblaar-stadium
dicamba 700 g/kg Gebruik slegs in ‘n tenkmengsel met Enhancer (10 g tot 12 g) en Reaper (10 g) en ‘n benatter
MCPA 400 g/liter

700 g/kg

Dien toe tussen groeistadiums sewe tot 13 van die gewas

 

Kontak altyd ‘n betroubare chemiese adviseur voor die gebruik van enige chemikalieë om die korrekte dosis en spesifikasies op die etiket na te kom.

Kontak die skrywers by elbe.hugo@syngenta.com (Elbe Hugo) en deweth@arc.agric.za (Hestia Nienaber).