Ons kyk terug oor NAMPO Kaap 2026

Louise Kunz, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 12 November 2026

59

Van uitstallings en demonstrasies tot besoekers en logistiek, by NAMPO Kaap word alles maande lank noukeurig beplan. Daar is egter een veranderlike wat niemand kan beheer nie – en dit is die weer. Die eers­te dag van NAMPO Kaap is gekenmerk deur heerlike sonskyn, met besoekers wat later in die dag skuiling gesoek het teen die fel son. Dit was egter ’n ander prentjie vir die res van die week met skougangers wat Bredasdorp Park met windjekkers, sambrele en reënjasse aangedurf het.

Die finale besoekerstal aan Bredasdorp Park tydens die sewende NAMPO Kaap was 37 294, wat heelwat laer is as die vorige twee jaar. Dit kan toegeskryf word aan die weers­toestande, maar die organiseerders en uitstal­lers is steeds positief oor besigheid wat plaasgevind het. Volgens Henk Aggenbach, voorsitter van Bredasdorp Park NPC, word die waarde en sukses van dié ekspo nie net aan bywo­ningsyfers gemeet nie.

NAMPO Kaap bied ’n belangrike platform vir produsente, landboubesighede, bedryfs-organisasies en diensverskaffers om te netwerk, verhoudings te bou en sake te doen. Aggenbach het verder genoem dat die 2026-geleentheid uit ’n finansiële oogpunt een van die bestes tot dusver was.

Dr Tobias Doyer, hoof- uitvoerende beampte van Graan SA, vergesel die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, tydens sy besoek aan Bredasdorp Park waar hy oor voedselsekerheid gepraat het en hoe die landbousektor voortdurend innoverende maniere vind om uitdagings te oorkom.

Die organiseerders glo wel dat die algemene publiek wat ’n gesinsuitstappie na Bredasdorp Park wou geniet se besoek deur die wind en reën gebriek is. Die getalle vir veral die derde dag (Vrydag 11 September) beaam dit. “Buite-uitstal­lers soos die landboumasjinerie-, gewas- en leefstyluitstallers het veral swaar ge­trek weens die weerstoestande die Vrydagmiddag en Saterdag, hoewel hulle die eerste twee dae goeie besigheid gedoen het.”

“Saterdag se getalle was egter normaal,” aldus Aggenbach. Dit is grootliks te wyte aan die Jeugskou en Boerboelkampioenskappe wat plaasgevind het. Tydens die Jeugskou het jong deelnemers van oor die hele Wes-Kaap deelgeneem aan dissiplines wat gewissel het van die skou van pluimvee tot kook, fotografie en hekel. Ongeveer 100 inskrywings is ontvang. Tydens die Suid-Afrikaanse Boerboelte­lersvereniging se skou is daar gefokus op die belangrikheid van die bewaring van waardevolle Suid-Afrikaanse genetika met die teel van dié ras.

Graan SA se Ledelokaal is ’n plek waar mense bymekaarkom. Hier kuier ou vriende lekker saam en deel medeprodusente hul vreugdes en frustrasies. 

Suksesse en teleurstellings
Uit ’n organisatoriese oogpunt is dit vir die organiseerders moeilik om ’n hoogtepunt te kies. Buiten dat dit finansieel ’n groot sukses was, het die span heelwat komplimente ontvang vir die goeie reëlings. “Ons het ook positiewe terugvoer ontvang rakende die uitgebreide parkeer­terreine en goeie sekuriteit.”

Die verskeie inligtingsessies wat ty­dens NAMPO Kaap aangebied is, het sterk bywoning en mediabelang­stelling gelok. Daar het ook ander waardevolle geleent­hede plaasgevind waar Graan SA in gesprek was met Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, Ivan Meyer, Wes-Kaapse Minister van Landbou, en Willie Aucamp, nasionale Minister van Landbou.

Dit is duidelik dat die vroueprogram se verskeidenheid aanbiedings deur bekendes dit een van die bestes in die land maak. Daar was vanjaar ’n groter tent wat elke oggend stampvol was. “Ons borge was tevrede,” het Aggenbach gesê en bygevoeg dat die skaapkopete so goed ondersteun is dat ook daar na ’n groter ruimte gekyk sal moet word.

Hoewel die besluit om die veeprogram weg te laat ’n teleurstelling was vir besoekers, was die risiko rakende bek-en-klouseer eenvoudig te hoog om toegewings te maak. “Volgende jaar behoort alles weer na normaal terug te keer en sal die veeprogram terug wees,” het Aggenbach onderneem. Hulle sal wel die nuwe uitstal­lers wat in die BKB-spasie ’n plek gevind het, iewers anders moet akkommodeer, maar die span is reeds druk besig om planne daarvoor te maak.

Alhoewel die reën besoekersgetalle beïnvloed het, het dié wat wel daar was steeds hul besoek aan Bredasdorp Park geniet.

Dit het besoekers laat blom
Met kunswerke wat natuuridiome en -gesegdes uitgebeeld het, is besoekers aan die jaarlikse fynbos-blomuitstalling in die BKB-saal se asems weggeslaan. Bekroonde blommekunstenaar Marjolijn Malan, sameroeper van dié gewilde uitstalling, het vertel dat die beplanning vir die uitstalling met ’n dam begin het aangesien diegene wat die ekspo besoek van “dieselfde dam se ganse” is. Bo die dam en net onder die wolk met sy “silwer randjie” het 1 450 origami-kraanvoëls gehang om “birds of a feather flock together” uit te beeld.

Sy moes honderde boomblare kook en platstryk om die lyf van ’n perd wat ongeveer 1,7 m hoog is, te bedek. Die “kar is toe voor die perd ingespan” – die perd is met ’n perde-
sleepwa na Bredasdorp Park gebring. Haar man, Dirk, het ingespring om ’n kunswerk te skep waar “wolf skaapwagter gemaak is”. Dit het terselfdertyd ook dié idiome uitge-
beeld: “die aap uit die mou laat” en “al dra ’n aap ’n goue ring …”

’n Onafhanklike apteek is vir die eerste keer bekendgestel en was een van die besigste stalletjies op die terrein.
Die Minister van Landbou, Willie Aucamp, het tydens sy besoek ook saam met die organiseerders en Graan SA-raadslede en lede gesmul aan ’n tradisionele skaapkopete.

Bekende blommekunstenaars van Kaapstad tot George het ook deelgeneem aan die jaarlikse kompetisie wat deur die pu­bliek beoordeel word. Hulle het indrukwekkende kunswerke geskep wat idiome uitbeeld soos “kastaiings uit die vuur haal”, “die appel val nie ver van die boom nie” en “soos water op ’n eend se rug”. Dit was egter die kunswerk wat “aan die einde van die reënboog” uitgebeeld het wat die meeste stemme ontvang het.

Die Santam Landbou-vroueprogram was weer ’n groot trekpleister – en nie net vir die dames nie! Die manne het ook die sessies bygewoon waar inspirerende sprekers soos Lynette Beer en Mel die Storieverteller, demonstrasies soos Dawid Botha se kookwenke en gewilde musiekkunstenaars soos Franna Benadé en Brendan Peyper die gehoor bekoor het. Danksy die groot skerm buite die volgepakte wit tent kon almal proe aan die puik spyskaart.

Met die tema “Saam groei ons” het NAMPO Kaap weer die landbougemeenskap bymekaargebring om kennis te deel, netwerke te versterk en die nuutste tegnologie en oplossings in die bedryf te ervaar. Die week daarna het die beplanning vir die agtste NAMPO Kaap begin. “Ons beplanning vir 2027 loop reeds en daar is ’n paar interessante verwikkelinge wat ons vroeg in die nuwe jaar bekend sal maak,” het Aggenbach gesê.

SA Graan/Grain het by die adver­teer­ders in die NAMPO Kaap-gids gaan inloer. Kliek op die skakel om die adverteerders te besigtig.

Van die wenners van die Boereplanne saam met die borge (Omnia en Landbouweekblad) en Graan SA-spanlede. Van die slim planne het ingesluit ’n KanJan-propsleutel, ’n dwarspenhamer en ’n monsterpomp.
Die 1 450 origami-kraanvoëls wat die hoofkunswerk van die blomme-uitstalling uitgemaak het, is gevou deur vriende van Marjolijn Malan en haar man. Dié idee is geïnspireer deur haar besoek aan Japan waar ’n duisend origami-kraanvoëls vrede, genesing en hoop simboliseer.