Applous aan toppresteerders in die graanbedryf

Gepubliseer: 12 November 2026

59
Louise Kunz,
SA Graan/Grain
redaksiespan

Die gesogte Graanprodusent van die Jaar-toekenning, wat uitne-
mendheid definieer en meet, is vir die 27ste keer op 23 Oktober tydens ’n swierige geleentheid by die Birchwood Hotel & Conference Centre aan Pieter Nortjé, produsent van die Kirkwood-omgewing, oorhandig. Met Syngenta as hoofborg was dit ’n byeenkoms waar die graanbedryf geseëvier het te midde van enorme uitdagings wat tans binne die bedryf ervaar word.

Jeremia Mathebula, visevoorsitter van Graan SA, het die geleentheid geopen en gedeel wat die eerste reëndruppels van ’n seisoen aan ’n produsent se siel doen: Dit gee hoop en die moontlikheid om weer te begin. Hy het die tema van die aand, “Saam bou ons aan môre”, beklemtoon deur te sê dat grond wat reeds daar is die handewerk is van diegene voor ons, maar dat kennis en deursettingsvermoë nodig is om dit vorentoe te dra. “Die oes waaraan ons vanaand eer bewys, het jare gelede begin as besluite wat geneem is. Die môre waarvoor ons hoop begin met die besluite wat ons vandag neem.”

Minister bewonder produsente se inbors
Willie Aucamp, Minister van Landbou en hoofspreker van die aand, het in sy toespraak verwys na hoe die verhaal van landbou ’n verhaal is van gemeenskappe en hoe dit een van die grootste geskenke aan Suid-Afrika is. “Boere verstaan iets wat ons land soms vergeet en dit is dat ons sterker word wanneer ons ander help om suksesvol te wees. Wanneer daar ’n brand uitbreek, vra ’n boer nie eers voor hy help vir watter party sy buurman stem nie. Nee, hy span sy hulpbronne in en gaan help, want môre is dit dalk sy plaas.” Hy bewonder hoe produsente kennis met mekaar deel oor die weer, kultivars, masjinerie, markte en selfs peste. “Ons leer by mekaar. Ons vier dus uitnemendheid in die graanbedryf omdat dit ons almal die geleentheid gee om te leer.”

Hoede af vir opkomende boere
Die wenners van die Phahama Grain Phakama-program is in Oktober tydens die Dag van Feesviering, na afloop van die PGP Ukukhula-konferensie, aangewys. Agter elke wenner se naam is ’n verhaal wat verdien om gehoor te word en ’n prestasie wat verdien om gevier te word. Hulle is:

  • Nuwe Era Kommersiële Boer van die Jaar: Motlalepule Vincent Masiu
  • Potensiële Kommersiële Boer van die Jaar: Kopano Lentswetshipi
  • Kleinskaalse Boer van die Jaar: Lubabalo Jordan
  • Bestaansboer van die Jaar: Manqoba Nkosi

Wanneer ’n produsent wen, wen die hele bedryf
Dr Tobias Doyer, hoof- uitvoerende beampte van Graan SA, het die redes uitgelig hoekom ’n kompetisie soos Graanprodusent van die Jaar bestaan. “Wanneer ’n produsent verloor, is daar enorme implikasies. Mense verloor hulle besighede. Werknemers verloor hulle werk. Kapitaal word vernietig. Produkte moet ingevoer word. Die rand se waarde neem af en produkte word duurder.”

Hy het egter daarna verwys dat wanneer die graanbedryf en produsente wen, die teenoorgestelde gebeur. “Ons vier produsente omdat ons by hulle leer. Ons leer wat nodig is om suksesvol te wees en nie net te oorleef nie, maar te floreer. Om meer mededingend te wees – ook op internasionale gebied.”

Saam bou ons aan môre
Anlie Hattingh, seremoniemeester van die geleentheid, het gesê dat die applous aan mense behoort wie se harde werk die aandag van ’n totale bedryf getrek het. Sy het die volgende woorde gelees as aansluiting by die tema, “Saam bou ons aan môre”:

Like drops of rain call in a season
each new generation sprinkles a fresh energy
across the lands
throughout communities
and into a new stream
gently feeding the future.

Sy het die beoordelaars, op wie se skouers ’n moeilike taak gerus het, bedank dat hulle bereid was om hulle ervaring en liefde vir landbou na die proses te bring. Die paneel het bestaan uit Ryk Pretorius, Wessel Hattingh, Gerrie Ludick, Derick Wessels en Michael van Rooyen.

Die aand bereik ’n glanspunt
Die hoogtepunt van die aand het aangebreek nadat 2026 se drie Graanprodusent van die Jaar-finaliste se pad in landbou kortliks gedeel is: Neethling Dippenaar van Swellendam, Henk Michau van Reitz en Pieter Nortjé van Kirkwood.

Pieter Nortjé van Sitrusrand Boerdery het met die louere weggestap – ’n produsent wat glo dat jy nie kan bestuur as jy nie meet nie. Hy erken dat dit onmoontlik is om uit te brei sonder die regte mense. Van ’n entrepreneur wat met bokse tamaties agterin die Peugeot dorp toe gery het om dit daar te gaan verkoop, tot ’n produsent wat internasio-
naal handel dryf. “Na my tweede hartaanval het ek vir die Here gevra hoekom Hy my aan die lewe hou. Ek het tot die besef gekom dat ek hoop moet bring en dat ek moet boer asof daar nie ’n môre is nie.”

Het jy die funksie bygewoon?
Kyk gerus hier na foto’s van die herinneringe wat vasgelê is.

Graanprodusent van die Jaar 2026 – ’n oomblik om te onthou. Hier is Richard Krige (voorsitter van Graan SA), Barend Bouwer, Madi, Pieter en Anno Nortjé, Divan Rossouw, Luc Henry (Syngenta), dr Tobias Doyer (HUB van Graan SA), Jurie du Toit, Philip Henning, Louis Aucamp en Braam du Plessis.
Graanprodusent van die Jaar-finalis Neethling Dippenaar en sy vrou, Marina.
Graanprodusent van die Jaar-finalis Henk Michau saam met sy vrou, Riana.
Wilmari en Coetzee Michau van Vredevind Boerdery.
Khomotso Mashiloane, pas aangestelde uitvoerende hoof van Phahama Grain Phakama en John Steenhuisen, Adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging.
Phote Monyamane, finansiële direkteur van die hoofborg, Syngenta, aan die woord.
Die Phahama Grain Phakama-program se wenners wat tydens die Ukukhula-konferensie aangewys is, is Lubabalo Jordan (Kleinskaalse Boer van die Jaar), Motlalepule Vincent Masiu (Nuwe Era Kommersiële Boer van die Jaar), Kopano Lentswetshipi (Potensiële Kommersiële Boer van die Jaar) en Manqoba Nkosi (Bestaansboer van die Jaar).
Dr Tobias Doyer het in sy toespraak gesê produsente word gevier omdat ander by hulle kan leer.
Janalize van Buuren, besturende direkteur van John Deere Afrika en Midde-Ooste.
Dr Langelihle Simela, besigheidsontwikkelingbestuurder: Agribesigheid by Absa.
Jeremia Mathebula, visevoorsitter van Graan SA, het die verwelkoming hanteer.
Anlie Hattingh, seremoniemeester van die aand, het die tema van die geleentheid, “Saam bou ons aan môre”, beklemtoon.
Lukas Meyer, besigheidsbestuurder van Pannar Saad.
Pieter saam met sy pa, Anno Nortjé.
Richard Krige, voorsitter van Graan SA, het die gehoor tydens sy spreekbeurt aangemoedig om saam uit te roep: “More passion, more energy, unity!”
Die Minister van Landbou, Willie Aucamp, het as hoofspreker tydens die geleentheid opgetree.
Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, saam met sy vrou, Elmie.
Johann Kotzé (uitvoerende hoof van AgriSA, middel) saam met voormalige voorsitters van Graan SA, Derek Mathews en Japie Grobler.
Celeste van der Merwe en Chris van der Walt saam met Neil en Tiani Claassen.
Jacques, alias Stroper, van der Merwe.
Ilze en Gerrie Ludick.