Op die spoor van protes

Gepubliseer: 30 September 2026

81

Beste Grootneef

Ou Neef, om te protesteer was deur baie eeue deel van ons gene. Hoe ons oor dinge dink, is die gevolg van protes teen dit wat onbillik was, selfs honderde jare gelede.

Luther het in Oktober 1517 in Duitsland teen die destydse Rooms-Katolieke Kerk geprotesteer deur 95 stellings teen die Wittenberg-kerk se deur vas te kap. Die essensie van sy denke was dat die mens gered word uit genade, nie uit verdienste nie. Ook dat vergifnis nie gekoop kan word nie.

Calvyn het die teologie van redding uit genade verder omskryf met Protestantse kerke wat algaande oor Europa uitgebrei het. In 1685 is die Edik van Nantes egter in Frankryk herroep. Dit was ’n keerpunt, aangesien die betrokke wetgewing beskerming aan Prote-
stante gebied het om hul geloof uit te leef. Met die herroeping daarvan het vele Franse gevlug. In 1688 het die eerste groep Franse Hugenote in die Kaap geland, waarna hul gelukkig voortgegaan het met die edele kuns van wynbou.

Nét toe die Kaap weer Hollands was, is dit weer deur die Engelse geannekseer. Dit was die vonk wat in 1838 die Groot Trek noorde toe gesneller het. Om vry in ’n eie republiek te wees was die droom wat nagejaag is.

Na al dié moeite en met die Repu­bliek van Natalia gevestig, het die Britte Durban in besit geneem en die Natalse middellande in 1843 geannekseer. Gerrit Maritz se suster Susanna Smit het die Voortrekkers aangespoor om liewer weer kaalvoet oor die Drakensberge te trek as om onder die Britse vlag te bly. Uit protes teen die Britse anneksasie het vele Voortrekkers weer die Drakensberge aangedurf. Die Zuid-Afrikaansche Republiek is in 1852 in Transvaal gevestig, met die Republiek van die Vrystaat in 1854. Die Britte het beide onafhanklike republieke erken.

En toe kom die Engelse wéér in 1899 vir die twee republieke nadat goud aan die Witwatersrand en diamante in Kimberley ontdek is. Die Boeremagte het daarteen geprotesteer en die Engelse oorlog met groot ontberings het gevolg. Selfs ná die oorgawe by Vereeniging, drie bittere jare later, het sommige Boere­gesinne besluit om uit protes na Argentinië uit te wyk, waar baie van hulle afstammelinge steeds bly.

Dit verg moed om te protesteer – nie net te praat nie, maar iets daaraan te doen. Dikwels is die gemaksone van dag tot dag se bestaan voldoende om onbillike omstan-
dighede te verduur. Soms is dit egter net daardie een onreg te veel wat die kameel se rug breek en opgekropte emosie omskakel in protes. Protes kan twee roetes volg – om iets te doen, of om op te hou om iets te doen. Beide daarvan het ’n impak.

Reeds vir baie jare kla die land se graanboere oor die JSE se differensiaal. Selfs indien jy in die Kaap bly en by die meule op die dorp ko­ring aflaai, moet jy die differensiaal betaal asof dit tot op Randfontein karwei word. Dit is mos net nie reg nie!

Ek haal my hoed af vir die Gideonsbende van Graan SA wat nie net oor die JSE se diffe-
rensiaal sit en kla het nie, maar aksie geneem het deur griewe en aanbevelings aan die JSE se hoof te oorhandig. Daarmee saam ook ’n sakkie mieliemeel, met die boodskap dat boere voedsel vir die land produseer en nie deur onbillike aftrekkings benadeel kan word nie. Op die koop toe, ook ’n dringende aansoek aan die hof om in te gryp teen die JSE se onbillike besluite.

Die metropolisieman het die “boereprotes” met ’n glimlag gade geslaan, my eenkant toe geroep en meegedeel dat dit sy eerste ervaring was waar met baadjie en das geprote-
steer word. Ek het probeer verduidelik van Calvyn. Maar uiteindelik het hy die boodskap verstaan dat boere voedsel produseer en dat dit nie hul styl is om takke te breek en bakstene te slinger nie. Selfs al kom hulle in protes teen van die grootste onbillikhede waarmee boere ooit gekonfronteer is.

Skote Petoors vir neef Koos wat die manne en dames tydens die opmars teen die JSE aangemoedig het met: “As jy lag, is jy sag – lyk kwaad!” Dit is en was immers ’n saak van erns.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.