Geïntegreerde siektebeskerming bied ’n volhoubare benadering

Gepubliseer: 3 September 2026

54
Dr Belinda Janse
van Rensburg,
LNR-Graangewasse, Potchefstroom

Graangewasse soos mielies, sojabone, sorghum en sonneblom vorm die ruggraat van voedselproduksie en landbou-ekonomieë wêreldwyd. Hierdie gewasse word egter voortdurend bedreig deur ’n verskeidenheid siektes wat deur swamme, bakterieë en virusse veroorsaak word. Siektes veroorsaak nie net opbrengsverliese nie, maar kan ook die integriteit en kwaliteit van die graan benadeel deur verkleuring van die pitte (Foto 1), verlies aan kiemkrag, liggewig-pitte en mikotoksienbe­smetting.

Fusarium graminearum veroorsaak ’n afname in mieliegraanintegriteit en -kwaliteit deur verkleuring en liggewig-pitte.

Swambesmetting veroorsaak liggewig-pitte deur ensieme af te skei wat die voeding-
stowwe binne-in die pit afbreek en verteer, waarna die swam dan die afgebreekte voedingstowwe opneem vir eie gebruik. Dit sluit in die stysel wat normaalweg ’n pit swaar en ferm maak. Nog ’n voorbeeld is ensiemproduserende swamme en bakterieë wat in die stam/stingelweefsels groei en dan die plant se selwande afbreek sodat die stam/stingels verswak en omval voor die graan geoes kan word (Foto 2).

Stamme besmet met Stenocarpella maydis (Diplodia) val om met koppe nog intakt.

Swam- en bakteriese infeksies wat blare beskadig, verklein die funksionele blaaropper-
vlakte wat sonlig kan gebruik om te fotosinteer (Foto 3). In hierdie geval sal die plant nie genoeg energie en stysel (koolhidrate) kan produseer nie. As dit tydens saadvul (graan-
vulling) gebeur, lei dit tot ’n swak opbrengs omdat die plant nie die saad behoorlik kan vul nie en dan verkrampte of ligte pitte produseer. Al hierdie faktore speel ’n negatiewe rol as dit kom by produksie en winsgewendheid. Om hierdie uitdagings die hoof te bied, word geïntegreerde siektebeskerming toenemend beskou as die mees effektiewe en volhoubare strategie wat geïmplementeer kan word in moderne graanproduksie.

Exserohilum turcicum (noordelike blaarskroei) verminder die fotosintetiese area van mielieblare wat gevolglik lei tot swak graanvul en ’n verminderde opbrengs.

Kombinasie van bestuurspraktyke
Geïntegreerde siektebeskerming behels die kombinasie van verskillende bestuurs-
praktyke om die ontwikkeling en verspreiding van plantpatogene te beperk. Omdat gewasse terselfdertyd deur verskeie plantpatogene geïnfekteer kan word, is dit bykans onmoontlik om alle siektes uit te roei. Die doel van hierdie benade­ring is dus om eerder siektevlakke onder die ekonomiese skade­drempel te hou sodat die skade wat wel deur die siektes aangerig word, nie aan die produsent se sak vat nie. Hier­die benadering maak gebruik van voorkomende en remediërende maatreëls wat op ’n wetenskaplike basis saamwerk om gewasse te beskerm.

Een van die belangrikste boustene van geïntegreerde siektebeskerming is weer-
standbiedende kultivars. Deur kultivars te plant wat genetiese weerstand teen belangrike siektes dra, kan produsente die behoefte aan chemiese beheer aansienlik verminder. Weerstandbiedende kultivars bied dikwels die primêre beskerming teen blaar-, stingel/stam- en graansiektes. Dit is egter belangrik dat die seleksie van geskikte kultivars moet berus op die geskiktheid van die spesifieke kultivar vir die plaaslike omgewing en die siektes wat algemeen in die gebied voorkom. Deur ’n verskeidenheid kultivars oor ’n groot area te plant sal ook bydra om die risiko te verminder.

Gewasrotasie speel ’n sleutelrol in siektebestuur. Wanneer dieselfde gewas jaar na jaar op dieselfde land geplant word, kan plantpatogeniese organismes in plantreste en in die grond vermeerder. Deur gewasse af te wissel met niegashere, word die lewensiklus van baie patogene onderbreek en so word die siektedruk verminder. Rotasie met peul- of ander geskikte gewasse kan terselfdertyd grondgesondheid verbeter en die volhou-
baarheid van die produksiestelsel verseker.

Die bestuur van plantreste is nog ’n belangrike komponent van geïntegreerde siekte-beskerming. Baie siekteveroorsakende organismes oorleef tussen seisoene op besmette oesreste. Bewaringslandbou hou belangrike voordele vir grondbewaring in, maar deeglike beplanning om die risiko van residugedraagde siektes te beperk bly ’n definitiewe vereiste. Die gebruik van maatreëls soos gewasrotasie, geskikte kultivar-
keuses en noukeurige monitering help om die voordele van plantreste te behou terwyl die risiko van verhoogde siektedruk ook bestuur word.

Siektemonitering
Doeltreffende siektemonitering stel produsente in staat om pro­bleme vroegtydig te identifiseer en toepaslike beheermaatreëls toe te pas. Gereelde inspeksie van lande maak dit moontlik om die eerste tekens van siekte-uitbrekings te identifiseer voordat ernstige skade voorkom. Moderne tegnologieë soos satellietbeelde, hommeltuie en digitale besluitnemingstelsels bied toenemend nuwe geleenthede om gewasgesond-
heid akkuraat en kostedoeltreffend te monitor.

Chemiese beheer bly ’n waardevolle hulpmiddel binne geïntegreerde siektebeskerming, maar moet verantwoordelik gebruik word. Swamdoders kan hoogs effektief wees wan-
neer dit op die regte tyd en teen die korrekte dosis toegedien word. Die oorbenutting van chemiese produkte verhoog egter die risiko van patogeenpopulasies wat weerstand teen die middels opbou. Dit is dus van kardinale belang om swamdoders met verskil-
lende werkingsmeganismes af te wissel en chemiese beheer eerder as deel van ’n geïntegreerde program in plaas van ’n alleenstaande oplossing te gebruik.

Omgewingsfaktore speel ’n groot rol in die voorkoms en graad van graan- en oliesaad-
siektes. Temperatuur, vog en reënval beïn­vloed die ontwikkeling van die patogeen en die vatbaarheid van die plant. Deur hierdie faktore te verstaan, kan produsente siekte­risiko’s beter voorspel en bestuursbesluite daarvolgens neem. Die gebruik van voor-spellingsmodelle en weergebaseerde waarskuwingstelsels word al hoe belangriker in die toepassing van proaktiewe siektebestuur.

Geïntegreerde siektebeskerming is uiteindelik ’n holistiese benadering wat op voorkoming, monitering en verantwoordelike ingry­ping berus. Deur genetiese weerstand, gewasrotasie, residubestuur, gereelde monitering en doelgerigte chemiese beheer te kombineer, kan produsente die impak van siektes verminder en terselfdertyd die volhoubaarheid van hul produksiepraktyke verbeter. In ’n tyd waarin voedselveiligheid, klimaatsverandering en omgewingsvolhoubaarheid toenemend onder die vergrootglas kom, bied geïnte-
greerde siektebeskerming ’n praktiese en wetenskaplik gefundeerde pad na gesonder gewasse en beter opbrengste.