Skape, lusern en mielies – die dinge wat geld inbring

Gepubliseer: 11 Augustus 2026

28
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-
medewerker

In die Reitz-distrik is daar twee produsente wat reeds die voordele van ’n skaap-lusern-mielie-wisselbou­stel­sel ervaar: Willie Roux en Neil Claassen (Graan SA-Raadslid). Beide hierdie produsente is dit eens dat hierdie stelsel hul winsgewendheid verhoog het.

Hulle het nie sonder rede na hierdie wisselbou­stelsel oorgeskakel nie. Dit is gedoen omdat daar proble­me in die boerderye ervaar is – die huidige koringsituasie in die land het hulle gedwing om aan te pas. Merino­skape, lusern asook mielies het die verandering gebring en het veroorsaak dat alle eiers nie meer in een mandjie is nie. Sedert hierdie stelsel geïmplementeer is, het daar stabiliteit in die inkomste gekom. Alhoewel dié wisselbou­stelsel nie die gewone landbouprobleme weggeneem het nie, kon dit die impak versag.

Die stelsel het wel weer vir ander uitdagings gesorg, soos skaapdiefstal en roofdiere. Dit is egter probleme wat met nuwe tegnologie versag kan word. Die gebruik van hommeltuigtegnologie verlaag die impak omdat soveel vinniger opgetree kan word. Diewe word makliker aangekeer en roofdiere afgeskrik en verwilder. Die rol van sekuri­teitswagte kan ook nie onderskat word nie. Die ekstra moeite en werk bring ekstra inkomste: die wolinkomste as randverskanser en die premie op skaapvleis help om die inkomste met koste in lyn te hou.

Willie Roux (links) en Neil Claassen pas die skaap-lusern-mielie-wisselboustelsel suksesvol in die Reitz-distrik toe.

Hoe die stelsel werk
Daar is dikwels onsekerheid oor hoe hierdie stelsel werk. Dit is nie iets nuuts nie – daar is baie jare se navorsing agter hierdie skaap-lusern-mielie-wisselboustelsel. Die ontwikkeling van die stelsel het by die Nooitgedacht-landbou-ontwikkelingsentrum (LOS) in Ermelo en op die destydse OTK Wildebeesfontein-proefplaas plaasgevind. Mense soos dr A Moore, F Steynberg, K Odendaal, M Swart, Christo Visagie en talle ander by Nooitgedacht-LOS het gesorg dat hierdie projek vandag nog met sukses toegepas kan word. Hendrik van Pletzen het veral van OTK se kant af ’n groot rol gespeel.

In die wisselboustelsel word die mielies hoofsaaklik as kontantgewas en die lusern as somerweiding aangewend, terwyl die oesreste hoofsaaklik as winterweiding gebruik word. Staande mielies word gebruik om die lammers op af te rond en daarvandaan te bemark. Staande mielies kan ook gebruik word om die herfsperiode te oorbrug totdat oesreste beskikbaar is.

Daar moet besef word dat dit ’n intensiewe stelsel is – goeie bestuur en beheer is noodsaaklik om te verseker dat die stelsel suksesvol toegepas kan word. Dit is egter ’n eenvoudige stelsel wat maklik bestuur kan word.

Voervloei is belangrik. Lusern word in die somer deur ooie met hul lammers bewei. In die herfsmaande word die ooie na oesreste of geruste veld verskuif terwyl daar waarde tot die lammers gevoeg kan word deur hulle op weimielies te plaas en daarvandaan te bemark. In die winterperiode word die ooie op oesreste of geruste veld gedra. Lusernhooi kan tydens oorproduksie gemaak word om as voerbank te dien om in kritieke tye te benut.

Ooie word gedurende die wintermaande (Mei) op geruste veld of oesreste met ’n goeie prikkelvoeding gedek. Nadat dekking plaasgevind het, word die ooie slegs ’n winterlek gevoer. Die ooie lam vanaf September en word van ’n goeie deurvloeiproteïenlek voorsien tot en met November. Hierdie stap is belangrik omdat dit melkproduksie stimuleer. Vir die res van die somer ontvang die ooie net ’n soutfosfaatlek. Die lammers kan wel ’n energielek gevoer word vanaf Januarie tot April. Lammers word in April gespeen en gaan dan na staande mielies waar hulle ’n goeie suurpenslek moet kry.

Lusern
By die vestiging van lusern is dit belangrik om te onthou dat hierdie gewas oor ’n periode van vyf jaar geproduseer moet word. Maak dus seker dat die lusern reg gevestig word en dat die grond se chemiese status in plek is. Die volgende kan as riglyne gebruik word: pH(water) 6,5; P: 30 dpm; K 100 dpm is nodig vir lusern om goed te produseer. Volgens Roux kan lusern suksesvol verbou word op grond wat op lang termyn ’n potensiaal bo 3 ton het. Dit is egter belangrik om seker te maak dat die voedingstatus voldoende is. Beplan om kalk te gooi en om die fosfaat reg te stel. Alles gaan oor die lusern se produksie – moet nie hier probeer spaar nie, want swak produksie sal weer diereprestasie en wins benadeel.

Op Nooitgedacht-LOS is die lusern in 45 cm-rye geplant teen 7 kg saad/ha. In die daaropvolgende groei­seisoen kan die lusern in ’n wisselweistelsel benut word. Roux probeer om sy lusern einde Maart in onkruidvrye, goed, diep bewerkte lande te vestig. Dit is belangrik dat daar nie grondverdigting in die profiel is nie. Die lusernwortel moet so diep as moontlik die grond indring sodat die opgegaarde vog maksimaal benut kan word. Die saad word in 90 cm-rye en teen ongeveer 5 kg/ha geplant. Roux probeer so vlak as moontlik plant en hy hoop op reën binne vyf dae vir die lusern om te ontkiem en goed te vestig. Maak dus seker wat die weervoorspellings sê voor daar geplant word – ’n ligte reëntjie na plant verseker goeie opkoms.

Skape wei in die lusern waar die skaap-lusern-mielie-wisselboustelsel toegepas word.

Die vastrap van die lusernsaad is belangrik vir ontkieming. As hier­die jong lusern groei word dit ses maande later na blom vir die eerste keer bewei. Dit gebeur soms dat die lusern nie gevestig kan word nie – maak dus eers seker die vervangingslusern is suksesvol gevestig voordat die ou lusern omgewerk word. Bevindings het aangedui dat lusern in rye (dieselfde rywydte as mielies) die geleentheid bied vir tussenrybewerking, wat seisoenproduksie (drakrag) met 30% kan verhoog. Die skape loop tussen die rye en trap nie so seer op plante nie, wat die vermorsing verminder.

Lusern moet goed bestuur word in die beweidingsfase. Grondverdigting en onkruide, veral gras, moet sorgvuldig beheer word. Roux gee jaarliks ongeveer 150 kg/ha 2:1:4-bemesting vir die lusern. Die bane tussen die rye word gereeld diep losgemaak sodat hierdie gedeelte die vog kan opvang en die skaappootverdigting opgehef kan word, wat klop met die bevindings. Die bewerking help ook dat die onkruid in die bane onder beheer bly. Gras dring maar eventueel tussen die lusern in. Roux het agtergekom die gras word taamlik erg teruggesit deur die lusern in jaar 5 of 6 met ’n skotteleg te sny. Die lusern herstel vinnig en groei weer sodat nog ’n paar jaar se beweiding verkry kan word. Die bevin­dings op Nooitgedacht en Wildebeesfontein het egter getoon dat lusern se produksie na jaar 4 begin daal het. Hierdie lusern is dan omgewerk en met mielies vervang.

Die beweiding van die lusern is belangrik. Diere moet aangepas word anders kan opblaas voorkom. Op Nooitgedacht is die skape voor hulle ingejaag is met ’n teelepel Bloat Guard-voerbolaag gedoseer. Roux sorg dat die ooie aan die begin geleidelik van die weiding na die lusern oorgaan. Opblaas is altyd ’n moontlikheid en daarom word geen honger skape op die lusern gejaag nie. Die skape bewei die lusern redelik skoon voordat hulle na die volgende kamp verskuif word. Die lusern kry ongeveer ses weke rus voor dit weer bewei word – dit kan bewei word as die plante 10% in blom is. Let op na die hoogte van beweiding. Pasop om die lusern te kort te vreet – die skape moet geskuif word voor die sekondêre groei gevreet word.

Die drakragriglyn van droë­landlusern wissel van streek tot streek. In die oostelike Hoë­veld is tussen 11 tot 17 KVE/ha vir sewe maande gemeet (KVE = kleinvee-eenhede). In ’n mielie-lusern-stelselproef op Wilde­bees­fontein is jong ooie op elf maande ouderdom gedek met ’n lam­per­sen­ta­sie van 82 tot 96,8% en die lampersentasie van volwasse ooie was van 120 tot 146%. Op Nooitgedacht was die lampersentasie (ooie gelam/ooie gedek) oor tyd ongeveer 95% met ’n lam­per­sen­tasie van ongeveer 139%. Die Merino-lammers is daar op 25 kg gespeen waarna hulle na mielies geskuif is.

Lusern is ’n gewas wat bekend is vir sy produksie. Sodra hierdie gewas op hoëpotensiaalgronde gevestig word, kan die opbrengs maklik 1 ton droëmateriaal/100 mm reën wees. In die oostelike Hoëveld is dit moontlik om tot 12 ton droëmateriaal te produseer. Op Nooitgedacht is die lusernlande met tien Merino-lammerooie per hektaar belaai vir ongeveer sewe maande of ongeveer 17 KVE/ha.

Die daaglikse gewigstoename was uitstekend. Die jong lammers het maklik 215 g/dag gegroei oor ’n periode van 165 dae. In Tabel 1 word die hoeveelhede vleis en wol per hektaar op Nooitgedacht se lusern geproduseer weergegee.

Inkomste
As aanvaar word dat die wol en 17% van die vleisverkope die skape se direkte koste dek, wat gewoonlik die geval is, dan kan inkomste van R11 520/ha verwag word. Gegewe die huidige wol- en vleispryse is dit ’n allemintige marge per hektaar. Hierdie positiewe bruto marge van die skaapstelsel kan nog steeds met gemak die vesti­gingskoste van die lusern terugbetaal.

Mielies groei goed na lusern uitgewerk is. Die verhoging in die mielie-inkomste dra ook ’n groot gedeelte by tot die algehele wins­gewendheid van die stelsel. Volgens werk op Wildebeesfontein kan ’n opbrengsverhoging van 60% vir jaar 1 en 2 teenoor monokultuurmielies verwag word. In jaar 3 kan die opbrengs ongeveer 15% hoër as mono­kultuurmielies wees. As aanvaar word dat die mielie-opbrengs met 1 t/ha verhoog word, dan behoort die inkomste van die stelsel ongeveer R20 520/ha te wees. As alle koste, insluitend die vestiging van die lusern en die koste vir weimielies afgetrek word, is daar steeds ’n beduidende dubbelsyferverhoging bo konvensionele mielies.

Wanneer dinge swaar gaan, is daar altyd ’n goue randjie – wees oop vir verandering.

Produsente wat meer wil weet oor die skaap-lusern-mielie-wisselbou­stelsel kan gerus vir Pietman Botha by 082 759 2991 of Willie Roux by 082 783 9400 kontak.