Produksiebegrotings: riglyne vir die somerreënvalgebied

Gepubliseer: 5 Augustus 2025

1141
Marguerite Pienaar,
landbou-ekonoom,
Graan SA, marguerite@grainsa.co.za

DIE AANLOOP TOT DIE NUWE PLANTSEISOEN BRING NIE NET BESLUITE OOR KULTIVARKEUSE EN PLANTDATUM (AFHANGEND VAN DIE REËN) MEE NIE, MAAR OOK OOR KOSTE – EN HOE OM WINSGEWEND TE BLY TE MIDDE VAN TOENEMENDE DRUK OP BOERDERYMARGES.

In Suid-Afrika se somergewasstreke speel produksiebegrotings ’n belang­rike rol in besigheidsbeplanning, veral in ’n tyd waar insetkoste soos saad, kunsmis en diesel steeds wisselvallig is. Hierdie artikel bied ’n oorsig van die mees onlangse produksiebegrotings vir die 2025-seisoen, met insigte oor verwagte insetkoste, gelykbreekberekeninge en die ekonomiese realiteite waarmee graan- en oliesaadprodusente tans gekonfronteer word.

Agtergrond oor samestelling van begrotings
Met die 2025/2026-seisoen wat vinnig naderkom, is dit tyd om produksiebegro­tings nader te trek. Die ontleding van bruto marges bly een van die algemeenste maniere om die relatiewe winsgewendheid van verskillende graangewasse binne ’n boerdery te vergelyk. Graan SA se jaarlikse produksiebegrotings bied produsente ’n nuttige riglyn om die winsgewendheid van mielies, sonneblom en sojabone in die verskillende somerreënvalgebiede te vergelyk. Produksiekoste verskil van plaas tot plaas as gevolg van verskillende produksiepraktyke, infrastruktuur, bestuurs­metodes en insetkeuses. Dit bly dus elke produsent se verantwoordelikheid om sy eie brutomargeberekeninge te doen en begrotings aan te pas volgens sy unieke omstandighede. Slegs deur persoonlike ontleding kan ingeligte en volhoubare besluite geneem word.

Insette:
1. Kommoditeitspryse: Die Safex-vooruittermynkontrak wat in die berekeninge gebruik is, is as volg:

      • Witmielies vir lewering in Julie 2026 = R4 455/ton
      • Geelmielies vir lewering in Julie 2026 = R4 200/ton
      • Sonneblom vir lewering in Mei 2026 = R9 141/ton
      • Sojabone vir lewering in Mei 2026 = R7 400/ton

    Die vervoerdifferensiaal, hanterings­koste en bemarkingskommissie is gebruik om ’n produsenteprys te bereken.

2. Opbrengs: Onsekerheid rakende klimaatstoestande, veral as die afge­lope twee seisoene as voorbeeld gebruik word, maak dit moeilik om die verwagte opbrengs te bepaal.

Langtermyngemiddeldes is gebruik om die verskillende gewasse se opbrengs te bepaal vir die begrotings. Daar is verskillende opbrengsmikpunte in die volledige begrotings ingesluit wat op Graan SA se webwerf beskikbaar is.

3. Insetpryse: Verskillende aannames word met die opstel van die begrotings gemaak. In die geval van kunsmis, is ’n gemiddeld van al die kunsmismaatskappye se pryslyste vir stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K) bereken en in die begrotings geïnkorporeer. Op ’n gemiddelde basis het die samestelling van N, P en K in die mieliebegrotings ’n skrale jaar-op-jaar-daling getoon.

Met die berekening van byvoorbeeld brandstofkoste is vooruitskattings met behulp van toekomstige rand/dollar-wisselkoerse en toekomstige ruoliepryse vasgestel (September 2025,­ November 2025 en Mei 2026). Volgens die toekoms­tige pryse is die verwagting dat pryse effens afwaarts kan beweeg, terwyl sekere chemiese pryse gestyg het. Geen kortings is in ag geneem tydens die opstel van die begrotings nie.

4. Begrotingstruktuur: Die produksiebegrotings bestaan uit veranderlike koste en vaste koste. Veranderlike koste is uitgawes wat direk saamhang met die produksie van ’n gewas, soos saad, kunsmis, onkruiddoders, diesel en ander soortgelyke items. Hierdie koste wissel afhangend van hoeveel daar geplant en geproduseer word. Vaste koste, of sogenaamde oorhoofse koste, is uitgawes wat betaal moet word ongeag of daar geproduseer word of nie. Voorbeelde sluit in salarisse, be­stuurskoste, instandhouding en sekere leningsverpligtinge. Al verskil hierdie koste grootliks van een boerdery tot ’n ander, word daar in die begrotings ’n geskatte bedrag daarvoor inge­sluit om ’n realistiese prentjie van die totale produksiekoste te gee. Om die volledige koste per hektaar te bepaal, moet die vaste koste by die veranderlike koste getel word.

Produksiekoste-uiteensetting en winsgewendheidsvergelyking vir die 2025/2026-produksie­seisoen
Oostelike produserende streek
In Tabel 1 word die produksiekoste vir die oostelike dele van die land (Oos-Vrystaat en oostelike Hoëveld) uiteengesit. Die produksiekoste van mielies, sonneblom en sojabone met hul onderskeie opbrengsmikpunte word vir die Oos-Vrystaat vergelyk terwyl slegs mielies en sojabone in die oostelike Hoëveld vergelyk word. Volgens Graan SA se produksiekostebere­keninge beloop die veranderlike koste om mielies in die Oos-Vrystaat vir ’n 5,0 t/ha-opbrengsmikpunt te produseer ongeveer R15 521/ha, terwyl dit min of meer R20 683 vir ’n 6,5 t/ha-opbrengsmikpunt in die oostelike Hoëveld is. Indien die gemelde Safex-prys teen die beraamde begrote insetkoste (uitgesluit vaste koste) realiseer, moet ’n produsent in die Oos-Vrystaat 3,81 t/ha stroop om gelyk te breek waar ’n produsent in die oostelike Hoëveld 5,50 t/ha moet stroop.

Tabel 1 illustreer verder die uiteensetting van insetkoste vir die verbouing van sojabone en sonneblom. Aannames wat met die opstel van die sojaboonbegroting gemaak is, is dat 50% van die saad deur produsente teruggehou is terwyl die ander 50% gesertifiseerde saad is. Die begroting sluit ook ’n koste vir N, P en K in. Gegewe die insetkoste (vaste plus veranderlike koste) soos wat in Tabel 1 vir sojabone aangetoon is en die gemelde Safex-prys, moet ’n opbrengs van ongeveer 1,35 t/ha in die Oos-Vrystaat en 1,85 t/ha in die oostelike Hoëveld behaal word om gelyk te breek.

Grafiek 1 bied die inligting soos geïllustreer en bereken in Tabel 1 in grafiekformaat aan. In die grafiek word ’n vergelyking van bruto marge (blou staaf – slegs veranderli­ke koste) sowel as netto marge (rooi staaf – veranderlike plus vaste koste) tussen dié gewasse getoon. Opsommend toon die grafiek dat somergraanverbouing in die oostelike dele van die land grotendeels winsgewend is. Dit is opmerklik dat mielies se winsgewendheid beter as dié van sonneblom en sojabone is.

Grafiek 1: Margevergelyking tussen gewasse vir die Oos-Vrystaat en oostelike Hoëveld.

Westelike produserende streek
In Tabel 2 word beraamde produksiekoste vir die westelike dele van die land (die Noordwes-provinsie en noordwes-sentraal-Vrystaat) uiteengesit, terwyl Grafiek 2 die bruto- en nettomargesituasie illustreer.

Grafiek 2: Margevergelyking tussen gewasse vir die Noordwes-provinsie en noordwes-sentraal-Vrystaat.

Volgens berekening en indien die Safex-pryse realiseer, blyk somergraanverbouing in die westelike dele van die land oor die algemeen relatief winsgewend te wees, uitgesluit mielies wat op gronde met marginale opbrengspotensiaal aangeplant word, en sonder dat totale insetkoste (vaste plus ver­anderlike koste) in berekening gebring word.

Besproeiing
Wanneer die koste per hektaar tussen droëland en besproeiing vergelyk word, is daar ’n aansienlike verskil. Die verskil in veranderlike koste is hoofsaaklik weens die hoër plantdigtheid onder besproeiing wat ’n verhoging in saad- sowel as kunsmiskoste tot gevolg het. Buiten die genoemde insetprysstygings gaan ’n besproeiingsprodusent gebuk onder ander koste wat onder meer elektrisiteit, water en spilpuntonderhoud insluit. Tabel 3 dui die beraamde produksiekoste vir besproeiingsgewasse vir die Noord-Kaap en Limpopo vir die komende seisoen (2025/2026) aan.

Volgens berekeninge is die veranderlike koste om mielies onder besproeiing vir ’n 15,0 t/ha-opbrengsmikpunt in die Noord-Kaap te produseer R41 444/ha, terwyl dit sowat R38 566 vir ’n 12,0 t/ha- opbrengsmikpunt in Limpopo is. Indien die gemelde Safex-prys teen die beraamde begrote insetkoste (slegs veranderlike koste) realiseer, moet ’n besproeiingsprodusent in die Noord-Kaap sowat 11,52 t/ha stroop terwyl die gelykbreek in Limpopo ongeveer 10,17 t/ha is. Volgens dié syfers blyk dit dat produsente hulle veranderlike koste vir mielies sal kan dek, ook wanneer die vastekostekomponent in berekening gebring word.

In Grafiek 3 word die marges weer eens tussen verskillende gewasse getoon, nou net onder besproeiing. Opsommend toon die grafiek dat sojabone se winsge­wendheid beter as dié van mielies is.

Grafiek 3: Margevergelyking tussen gewasse onder besproeiing vir die Noord-Kaap en Limpopo.

Samevatting
Veral na die afgelope twee uiters uiteen­lopende seisoene is dit moeilik om te bepaal wat produksietoestande gaan inhou. Die winsgewendheid van ’n gewas hang af van drie hoofaspekte: die prys wat vir die produk verkry word, die opbrengs per hektaar en die koste om dit te produseer. As een van hierdie faktore verander – of dit nou ’n styging in koste, ’n daling in opbrengs of ’n verandering in markprys is – sal dit ’n direkte invloed hê op hoe winsgewend daardie gewas is. Vanuit die nuwe seisoen se begrotings word gesien dat die opbrengsmikpunte al hoe hoër raak om gelyk te breek en dat daar nie baie speling is nie.

Produsente en ander rolspelers kan die opsommende produksiekoste op Graan SA se webwerf besigtig, terwyl die model gratis aan alle opbetaalde Graan SA-lede beskikbaar is.

Stuur ’n e-pos met jou Graan SA-lidnommer na marguerite@grainsa.co.za om die model te ontvang.

Opregte dank aan al die landboubesighede en individue vir hulle insette met die saamstel van die begro­tings. Graan SA spreek ook sy opregte dank uit aan die Mielietrust vir hulle finansiële steun waarsonder die projek nie moontlik sou wees nie.