Om langsaam te haas

Gepubliseer: 4 Oktober 2021

843

Beste Grootneef

Klaas Vakie het die aand vooraf behoorlik met sy emmer slaapsand gedraal. Was alles gepak? En was daar genoeg kos vir Woef? Was die venster oop genoeg sodat Kiets kon in en uit? En was die alarm se een ogie af sodat die kaggelgeitjie na sy sonkol kan beweeg sonder dat die alarm die bure pla?

Die eerste klank van die nuwe dag was die wekker se vrolike geskal. Dis nie elke dag wat douvoordag afskop nie! Met die koelsakkie padkos met frikkadelle en toebies in, was ons reg vir die rit. Vroegoggend soos dit was, het die oostekant reeds die grou van eerste lig vertoon. Ons was reg vir die reis.

Ou Neef, om te verken en nuwe wêrelde te ontdek, is deel van die mensdom. Die hunkering om oor die volgende bult te trek en nuwe horisonne te sien, was maar altyd daar. Dit het nuwe wêrelde ontsluit, nuwe smake en geure moontlik gemaak. Mense laat kennis maak met ander wat van hul klein groepie verskil.

Die reis gaan nie net oor die bestemming nie, maar hoe jy daar kom. Met die Groot-Karoo agter en die Swartberge voor is daar ’n veelvoud van keuses. Jy kan of déúr die berg met Meiringspoort tot in De Rust ry. Of jy kan omry tot by Prins Albert om dan met die pas bó-oor die Swartberge te ry. Op pad boontoe, nie ver van die kruin nie, sal jy die afdraai na die Gamka sien. Soos die voël vlieg nie ver nie, maar met ’n voertuig is dit ’n ekstra dagreis. Maar jy kan die aand in die laaste skoolmeester se huisie afsluit.

Ou Neef, in aantog na die Swartberge kan jy ook besluit om heel óm die berge te ry, via Graaff-Reinet en verby Aberdeen, om van die grofste en hardste klipkaroo te sien. As jy uitkyk, sal jy egter beloon word met ’n afdraaipaadjie wat jou lei na ’n kloof waar jy klipskulpe kan optel. Eeueoue fossiele uit toeka se dae, toe die Groot-Karoo nog onder water was.

Hoe dit ook al sy – ’n reis verander hoe jy na die lewe kyk. Want jy gaan mense en dinge sien en beleef wat anders is as die plek waar jou huis is. En as jy om, deur of oor die Swartberge is, wag ’n beloning aan die ander kant. Wat van ’n glasie port op Calitzdorp? Of kaaskoek op Barrydale? Wat van ’n pot rooibostee by Ronnie se S-shop?

Ou Neef, op aarde is elk besig met hul eie lewensreis, met ’n tydelike tentwoning wat plek-plek staangemaak word. Elke mens het net ’n aantal vooraf bepaalde dae voordat die laaste sand deur die uurglas vloei. Geniet jou lewensreis. Stop langs die pad om na die voëls te luister en die wind te hoor waai. Jy gaan nie die rit onthou wat jy in ’n rekordtyd afgelê het nie, maar wel die een waar jy langsaam gehaas het. Moenie uitstel nie. Dis nie te sê dat Namakwaland se blomme volgende jaar weer so mooi sal wees nie. Of dat jy oor 365 dae steeds genoeg asem sal hê om soontoe te ry nie.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.