Strooptyd en ’n plaasnooi

Gepubliseer: 2 September 2026

32

Beste Grootneef

Met die Vrystaatse stroopseisoen agter die blad, kry ons nou kans om die vere reg te skud in die aanloop tot planttyd. Die stroper en tapkarre staan weer op hul plek in die stoor, maar vanjaar se rekordoes én nat toestande het gesorg dat mens en masjien hul staal moes wys.

Die totale someroes is teen Augustus op ’n allemintige 21,56 miljoen ton geskat – wat selfs 2017 se knewel van ’n oes oortref. Die mielie-oes alleen sal die grootste wees wat nog aangeteken is terwyl sojabone die kerf van 3 miljoen ton sal oorsteek. Neef, soos ek onthou, is daar in jou tyd nog nie sojabone in hierdie geweste geplant nie. Dié boontjies het met ondersteuning van die graanbedryf ’n welverdiende staanplek in die mark gekry.

Ek weet jy verstaan hoe só ’n pragtige oes ’n graanboer se hart stil van dankbaarheid maak. Die Groot Saaier weet ons kla nie graag met die witbrood onder die arm nie, maar as die graankwaliteit en -pryse net so uitbundig soos vanjaar se opbrengste was, sou die Kaap weer Hollands gewees het. Kom ons laat lê dit links vir ’n oomblik.

’n Saak wat my onverwags aangeraak het, was die tyding van Dolly Parton se dood. Vroulief sê dat te oordeel aan hoe ek dié nuus aanlyn volg, sou ’n mens dink Dolly was van ons distrik. Maar hoe meer ek nalees oor die Amerikaanse countrysangeres se komvandaan, hoe beter verstaan ek waarom sy soos ’n nabymens voel.

Haar ouers het op ’n plasie by Locust Ridge in die ooste van Tennessee gewoon, waar hulle met tamaties, tabak, mielies en varke geboer het. Met haar geboorte het hulle die dokter met ’n sak gemaalde mielies vir die bevalling betaal. Soos haar elf sibbe het sy haar deel gedoen – op die lande gewerk, koeie gemelk en met die take tuis gehelp.

Dolly se oupa was ’n prediker wat ook viool gespeel het, en sy het van kleins af in hul plaaslike kerk gesing. ’n Oom van Dolly het haar talent raakgesien en vir haar ’n kitaar as geskenk gegee. Teen tienjarige ouderdom het sy reeds op plaaslike radio en televisie in Knoxville opgetree.

Ten spyte van die geweldige swaarkry, het sy haar kinderjare gereeld beskryf as gevul met liefde, geloof en sang. Die landbou-omgewing waarin sy grootgeword het, het haar waardes, storie­vertelling en musiek sterk gevorm. In media-onderhoude het sy wys-
hede oor die lewe gedeel; dikwels met aardse beskrywings soos net ’n plaaskind kan.

“As jy die reënboog wil hê, moet jy die reën verduur,” het Dolly graag gesê. En in ’n onderhoud: “Ek tel altyd my seëninge meer as my geld. Ek werk nie vir geld nie; het nog nooit nie.”

Ou Neef, ek glo ons as boere verstaan ook dat die voordele van boerdery nie in rande gemeet kan word nie. Ons tel ons seëninge – die oes, ons grond, ons gesinne, ons roeping en die voorreg om werk te doen waarvoor ons lief is. ’n Laaste wysheid deur plaasnooi Dolly: “Moenie so besig raak om ’n bestaan te maak dat jy vergeet om te leef nie.”

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.