Die onsigbare kleed

Gepubliseer: 30 September 2020

1663

Beste Grootneef

Ek het laat middag my arm skoon uit sy potjie gepluk, maar kon nie ’n kuggie uit die gennie se keelgat lostrek nie. Iets is verstop, want die Honda se tenk is nog half. Dis donker, ou Neef, met net gaslampe wat hier en daar sit en sis. Eskom is weer sy onbetroubare self met leibeurte vir krag. En dit klink of dit nog ’n geruime tyd met ons sal wees.

Ou Neef, dis nou tyd om daardie ou windpomptoring af te breek en langs die huis staan te maak, met ’n windlaaier op sy kop. Hier is genoeg winde wat die Vrystaat se vlaktes kam. Net vrek duur om mee te begin. Maar die manne wat die slim somme maak, sê jy haal binne vyf jaar die uitgawe in – en dan is windkrag goedkoper as beurtkrag.

Die ander dag sien ek buurman staan by ons hoekpaal en wag om mee gesels te word. Soos altyd is dit aangenaam om elmboog te skud en te hoor hoe dit met wie gaan. Buurman kom toe met die groot kwelvraag: As hier nou ’n vlieënde pie­ring in die Suidland land en die Marsmannetjies vra om met ons leier te praat, na wie toe vat ons hom? Want wie is nou ons leier? Is dit die tannie met die kopdoek, wat oornag sondes soos twak en dop stop? Of is die Buffel nog die leier van die trop? Of is dit die mense van die Estina-melkprojek wat koning kraai? Of is dit die bekendste inwoner van Nkandla? Of dalk die taxi’s wat maak en ry nes hul wil? Of word ons land tans deur die howe regeer? “Na wié toe vat ons die Marsmanne­tjies?” wil buurman weet terwyl hy in Skurwerantjie se rigting tuur.

Buurman het so ’n moeilike vraag gevra dat ek sommer oor die weer begin praat het. Met die wegry-slag het ek egter oor sy doodskoot van ’n vraag bly wonder, want deur wie word ons tans regeer?

Dit laat my toe dink aan die ou sprokie van die koning met die onsigbare kleed. Twee nikswerd swendelaars het aan die koning en sy hof kom vertel van ’n kleed wat so lig en deurskynend is dat jy dit glad nie kan sien of voel nie. Met groot vertoon het hul die onsigbare kleed teen die lig gehou sodat die koning en sy hele gevolg dit kon aanskou. Niemand het iets gesien nie, maar niemand wou dit sê nie. Want almal was bang dat die ander sou vra waarom hul dan niks kan sien nie.

Op die ou end is die koning uit sy eie mantel om die nuwe, onsigbare kleed aan te trek, met almal in die hof wat ge-oe en ge-aa het oor die pragtige, onsigbare kleed waarin die koning nou getooi was. Die saampraters het vertel dat die onsigbare kleed die koning beter as ooit laat lyk het en dat hy hierdie wonderlike, onsigbare kleed ook aan sy onderdane moes toon. ’n Optog is terstond gereël met die ko­ning se wagte vooruit en die gevolg van die troon al prysend agter die koning aan.

Langs die strate het die onderdane pryssange verhef oor die koning se pragtige, onsigbare kleed. Só iets is nog nooit gesien nie. Nog nooit was daar soveel prag en praal met ’n onsigbare kleed om die koning se skouers gevou nie. Almal was in ’n feestelike stemming terwyl die koning vertonerig die optog gelei het.

Die feestelikhede is plotseling beëindig toe ’n dogtertjie aan die hand van haar ma kliphard gevra het waarom die koning dan kaal rondloop. En dit op so ’n koue dag!

Met die vraag luid in die ope, het meer en meer mense begin vra waarom hul dan nie die wonderlike, onsigbare kleed kan sien nie. Ook die koning het in ’n oomblik van waarheid besef dat die kleed nie net onsigbaar was nie, maar glad nie daar was nie. Die storie het ’n gelukkige einde gehad, met die twee skarminkels wat gevang en in die paleis se kerkers opgesluit is.

Buurman se vraag het in die gedagtes bly maal. Want wie is die Suidland se leier? Of het hy ook ’n onsigbare kleed aan waardeur gewone mense begin sien?

’n Wonderkleed teen korrupsie word met reëlmaat aan die mense voorgehou. Maar die mense sien en beleef die effek van korrupsie elke dag. In so ’n mate dat ongeag hoeveel spinwerk daaroor gedoen word, almal tog kan sien dat die owerheid se antikorrupsiemantel heeltemal deur die korrupsiegoggas motgevreet is.

Ou Neef, die vet weet, enige mens het ’n aanvoeling vir wat reg en verkeerd is. Want die mense vra al hoe harder waarom die land se leiers se praat en doen nie bymekaar uitkom nie. Dit begin amper lyk of die reënboog van ’n demo­krasie net ’n lugspieëling van ’n onsigbare kleed in die Suidland was. Dit kan net ’n gelukkige einde hê as die swendelaars gevang en opgesluit word.

Groete op die oosgrens.

 

 

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.